Historiese agtergrond
Die geskiedenis, leer en praktyk van die Ortodokse Kerk strek lynreg oor n tydperk van bykans tweeduisend jaar terug tot by die vroegste Christelike gemeentes wat deur die apostels van Christus in die Midde-Ooste, Klein-Asië en Griekeland gestig is. In dié lig beskou, maak die tradisionele Ortodokse aanspraak om die egte vaandeldraer van die Christelike evangelie te wees sin.
Dit is belangrik om daarop te let dat Christus nie na die aarde gekom het om n nuwe godsdiens, waarna konvensioneel as die Christendom verwys word, te stig nie. Hy wat God is, het mens geword om dit vir die mens moontlik te maak om een met God te word. Vir hierdie doel het Christus Sy Kerk in die wêreld daargestel, en nie n vae Christendom nie. Trouens, dié term kom glad nie eers in die Heilige Skrif voor nie. Deurentyd word daar van die gemeente gepraat, oftewel ekklesia in Grieks. Diegene wat beweer dat dit moontlik is om n Christen te wees sonder om enige verbintenis met die Kerk van Christus te hê, is dus besig om n dwaalleer te verkondig. Die groot kerkvader Augustinus het selfs sover gegaan om te verklaar dat geen verlossing buite die Kerk moontlik is nie - extra ecclesiam nulla salus.
Die Christelike Kerk is gebore op Pinksterdag in ongeveer die jaar 30, met die uitstorting van die Heilige Gees op die tiende dag ná die Hemelvaart van Christus. Dit word soos volg in die Handelinge van die Apostels beskryf: "En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar... En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om te spreek... Die wat toe sy woord [Petrus sn] met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede... En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is." (Hand. 2: 1, 4, 41, 42, 47). Let daarop dat die wonderbaarlike talespraak wat plaasgevind het, betrekking het op werklike tale van daardie tyd (sien Hand. 2: 6-11) en nie op onverstaanbare brabbeltaal nie.
Ongeveer twee dekades later is die eerste kerkvergadering in Jerusalem gehou oor die kwessie of bekeerlinge uit die heidendom hulle moes laat besny en die wet van Moses onderhou. Tydens hierdie byeenkoms wat onder voorsitterskap van die plaaslike biskop, Sint Jakobus, geskied het, is daar besluit dat dié Joodse bepalings nie n vereiste vir Christenskap is nie (Hand. 15: 1-31). Sodoende is die Christelike Kerk onherroeplik van die Judaïsme losgemaak en as n unieke Godsopenbaring bevestig. Terselfdertyd is die beginsel van konsiliariteit vasgelê, waarvolgens besluite wat die hele Kerk raak slegs op n vergadering van alle biskoppe geneem kan word en nie deur n enkele persoon of groep nie.
Gedurende die eerste drie eeue van haar bestaan moes die Kerk sporadiese vervolgings onder die Romeinse maghebbers verduur. Só het n volgeling van die Apostel Johannes en self biskop van Antiochië, Sint Ignatius, in ongeveer 107 n grusame dood onder die leeus in Rome gesterf, nadat hy onderweg daarheen briewe aan sewe gemeentes geskryf het wat vandag nog gelees word. Ook die groot Christenteoloog Justinus het in ongeveer 150 n martelaardood gesterf, maar nie voordat hy belangrike werke geskryf het waarin onder andere die vroeë Kerk se liturgiese aanbidding beskryf is nie. Vroeg in die vierde eeu sou die vervolgings tot n einde kom toe die Christenkeiser Konstantyn godsdiensvryheid in die Romeinse Ryk afgekondig het. Teen die einde van dieselfde eeu was die Christelike geloof as die staatsgodsdiens gevestig, wat mettertyd vanweë die vervlegting van Kerk en Staat n gemengde seën sou blyk te wees.
In 325 het die eerste ekumeniese konsilie te Nicea plaasgevind, waartydens die leer van die Kerk in die Niceense Geloofsbelydenis vasgevang sou word. Tydens dié belangwekkende vergadering is die Godheid van Christus bevestig teenoor die Ariese kettery wat dit beveg het. Oor die volgende vyf eeue sou n verdere ses konsilies in of naby Konstantinopel, hoofstad van die Bisantynse of Oos- Romeinse Ryk, gehou word om die grondwaarhede van die Christelike geloof te konstateer en verskeie ketterye te beveg. Anders as met die talle plaaslike konsilies en sinodes wat oor die eeue heen gehou is, het die hele Christelike Kerk hierdie sewe ekumeniese konsilies erken. Ná Nicea I het die volgende konsilies plaasgevind: Konstantinopel I in 381, Efese in 431, Khalsedon in 451, Konstantinopel II in 553, Konstantinopel III in 681 en Nicea II in 787. Naas Nisea I is die Konsilie van Khalsedon van besondere teologiese en kerkhistoriese belang, aangesien die dubbele natuur van Christus (ware God en ware mens) daar bevestig is teenoor die monofisitiese kettery wat dit ontken het. Die volgelinge van laasgenoemde leer het daarop die Ortodokse Kerk verlaat en is vandag nog in die sogenaamde nie-Khalsedoniese kerke (bv. die Siriese, Armeense en Koptiese kerke) te vinde. Tesame met die Heilige Skrif (waarvan die finale getal boeke, oftewel die Bybelse kanon, gedurende die vierde eeu tydens plaaslike konsilies te Rome en Karthage vasgestel is) dien die uitsprake van die ekumeniese konsilies as ewige en onveranderlike grondslag van die Ortodokse Christelike Kerk.
Tot in die elfde eeu was die Christelike Kerk verenig onder die vyf antieke patriargate van Rome, Konstantinopel, Alexandrië, Antiochië en Jerusalem, alhoewel spanning reeds oor etlike eeue aan die opbou was oor Rome se aanspraak op oppergesag. In 1054 het die finale skeuring tussen Rome en die oorblywende patriargate plaasgevind, sodat die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke onderskeidelik tot stand gekom het. Die onmiddelike oorsake van die skeuring was tweërlei: eerstens vanweë die Roomse kerk se eensydige invoeging van die omstrede filioque-klousule tot die Niceense Geloofsbelydenis, waarvolgens die Heilige Gees vanuit die Vader en die Seun uitgaan instede vanuit die Vader alleenlik; en tweedens weens die pouslike aansprake op oppermag oor die hele Christelike Kerk instede van die Ortodokse erkenning van die Roomse biskop as eerste onder gelykes.
Die skeuring tussen die Oosterse en Westerse kerke is vererger deur die plundering van Konstantinopel in 1204 deur Katolieke kruisvaarders en die stigting van n Latynse koninkryk in die Bisantynse hoofstad. Nietemin het Konstantinopel tot 1453, toe dit deur die Islamitiese Turke oorweldig is, as die belangrikste sentrum van die Ortodokse Kerk gedien, met die beroemde katedraal van die Hagia Sophia (of Heilige Wysheid) wat vroeg in die sesde eeu deur die groot Christenkeiser Justinianus gebou is as vernaamste aanbiddingsplek.
Ná die val van Konstantinopel voor die Turke het die geografiese swaartepunt van die Ortodokse Kerk noordwaarts na Moskou verskuif. Die kerstening van Rusland en die Oekraïne het reeds eeue tevore, in 988, met die bekering van Prins Wladimir van Kiëf n aanvang geneem. Gedurende die laat Middeleeue het die Russiese Kerk outonoom geword en n eie patriargaat verkry, n verskuiwing wat met die Oekraïne se inlywing in die Russiese ryk verdere stukrag verkry het. Eers vier eeue later, in die laaste dekade van die twintigste eeu, sou die Oekraïnse Kerk met die verbrokkeling van die Sowjet-Unie weer haar onafhanklikheid herwin met n eie patriargaat in Kiëf.
Die groot godsdiensomwentelinge van die sestiende eeu in Wes-Europa, met die Protestantse opstande teen Rome en laasgenoemde se Teenhervorming, het die Ortodokse Kerk merendeels onaangeraak gelaat. In Rusland en Oos-Europa (en tot n aansienlik mindere mate in die Balkanlande en die Midde-Ooste, vanweë die Turkse oorheersing van dié landstreke) het die Ortodokse Kerk ongestoord voortgegaan om die Christelike evangelie te verkondig en die Christelike sakramente te bedien. Daar was enersyds geen behoefte aan n Kerkhervorming nie, omdat daar nooit van die ware Christelike leer en praktyk afgewyk is nie, en andersyds was die politieke faktore wat tot die Protestantse opstande bygedra het nie in dieselfde mate in die Oosterse Christendom aanwesig nie.
Gedurende die negentiende en vroeë twintigste eeue het Griekeland en die ander Balkanlande hul onafhanklikheid herwin, en het byna vyf eeue van Turkse oorheersing in dié wêrelddeel tot n einde gekom. Dit sou n bestiering blyk te wees, want vanaf 1917 het Rusland, die Oekraïne en omliggende nasies onder die langdurige skrikbewind van godlonende kommunisme geval. Oor die volgende sewe dekades sou die Christene in dié lande aan veel erger vervolgings as hul geloofsgenote gedurende beide die drie eeue van Romeinse bewind vóór Konstantyn en vyf eeue van Islamitiese oorheersing onderworpe wees. Die Russiese en Oekraïnse kerke het hierdie sataniese aanslag egter deur die genade van God oorleef, sodat hulle teen die einde van die twintigste eeu nogeens n krag in die Ortodokse Christendom is.
Die Ortodokse Kerk vandag
Anders as die Rooms-Katolieke Kerk wat n enkele organisasie onder oppergesag van die Pous is, bestaan die Ortodokse Kerk uit n aantal selfregerende en outonome kerke wat verenig in geloof, sakramente en kerkreg is. Die Ekumeniese Patriarg van Konstantinopel word weliswaar as die eerste onder gelykes erken, maar hy oefen nie gesag uit oor die Ortodokse kerke wat onder ander patriarge of aartsbiskoppe val nie. Sy jurisdiksie strek wel oor die Ortodokse Christene in Klein-Asië en die Griekssprekende gemeentes in die Westerse wêreld. Die oorblywende antieke patriarge oefen op hul beurt gesag oor Ortodokse Christene in die Midde-Ooste en Afrika uit.
Die Russiese Ortodokse Kerk is verreweg die grootste Ortodokse kerk, gevolg deur dié van die Oekraïne en Roemenië. Verdere selfregerende Ortodokse kerke bestaan in Georgië, Serwië, Bulgarye, Siprus, Griekeland, Pole, Albanië, die Tsjeggiese Republiek en Noord-Amerika. Daarbenewens word outonome Ortodokse kerke in Kreta, Finland en Japan aangetref.
Met die massiewe vervolgings wat vanaf die Kommunistiese Rewolusie in 1917 teen die Ortodokse Kerk in Rusland losgebreek en vir etlike dekades lank voortgeduur het, het groot getalle Russiese Christene hul geboorteland verlaat en hulself in die Weste gevestig. Dus het die Ortodoksie in verskeie lande n aansienlike hupstoot ontvang, wat mettertyd tot toenemende bekerings onder nie- Russe tot die Ortodokse geloof sou lei. Op dié wyse het n selfregerende Ortodokse Kerk in Noord- Amerika ontstaan, met n eie aartsbiskop in New York. Dit span dus die kroon op die geloof en arbeid van die Russiese sendelings wat twee eeue tevore, in 1794, in Alaska aangekom het om die Ortodokse geloof op dié vasteland te verkondig. Daarbenewens is die patriargate van Konstantinopel, Kiëf en Moskou asook die Russiese Kerk in ballingskap aktief in die VSA werksaam, wat daartoe bygedra het dat die Ortodokse Kerk teen die einde van die twintigste eeu die vinnig groeiendste kerkgenootskap in dié land is.
Ook in Brittanje het die Ortodoksie gedurende die afgelope dekades toenemende steun onder nie- Griekssprekendes ervaar, tot só n mate dat die Ortodokse Kerk tans die enigste Christelike kerk op dié eiland is wat n positiewe groei ervaar. En in Suid-Afrika self is n Engelssprekende Ortodokse gemeente onlangs in Johannesburg gestig, terwyl die eerste Afrikaanse Ortodokse gemeente in die geskiedenis in 1998 in Kaapstad tot stand gekom het.
Die Ortodokse geloofsbelydenis
Die Ortodokse Kerk se geloof is gebaseer op die Heilige Skrif en die besluite van die sewe Algemene Konsilies wat vanaf 325 tot 787 gehou is. In die Ortodokse eredienste word die Niceense Geloofsbelydenis, wat ooreenstem dog ietwat meer omvattend is as die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis of Twaalf Artikels, bely. Die inhoud van eersgenoemde is soos volg:
"Ek glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde en van alle sigbare en onsigbare dinge;
En in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God; verwek, nie gemaak nie; een in wese met die Vader, deur wie alle dinge ontstaan het;
Wat ter wille van ons mense en ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees en die Maagd Maria, en mens geword het;
Wat vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus en gely het en begrawe is; en op die derde dag weer opgestaan het, volgens die Skrifte;
Wat opgevaar het na die hemel en wat sit aan die regterhand van die Vader;
Wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die lewendes en die dooies;
Wie se Koninkryk geen einde sal hê nie;
En in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader uitgaan; wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word; wat gespreek het deur die profete;
En in een Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk;
Ek bely een doop tot die vergewing van sondes;
Ek verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige ewigheid.
Amen."
Terwyl verskeie Christelike kerke hierdie geloofsbelydenis onderskryf, het die Ortodokse Kerk n besondere aanspraak op die derde laaste stelling daarvan. Want wat bedoel ons wanneer ons bely dat die Kerk een, heilig, katoliek en apostolies is? Die Kerk is een, want in al die ampsgebiede is Christus die Hoof daarvan. Die Kerk is heilig, want dit word deur die werking van die Heilige Gees gedra en bestaan apart van, en dikwels in opposisie tot, die wêreld. Die Kerk is katoliek, want dit erken geen beperking van tyd of plek nie en bedien dus ononderbroke die genademiddele van God aan mense van alle rasse, tale en kulture. Laastens is die Kerk apostolies, want dit handhaaf die leer van die apostels wat deur Christus aangestel is om Sy Kerk op aarde te vestig, en dit erken slegs geestelikes wat ingevolge die praktyk van Apostoliese Opvolging gewy is.
Die Ortodokse sakramente
Tradisioneel word daar sewe sakramente (of om meer presies te wees: misterieë of verborgenhede, na aanleiding van die Griekse mysterion) in die Ortodokse Kerk erken. Hulle is die Doop, Salwing, Eucharistie (of Nagmaal), Verordinering, Bieg, Huwelik en Laaste Salwing.
Die eerste sakrament, chronologies gesproke, is die Heilige Doop waardeur die gelowige in die Christelike Kerk ingelyf word. Dit geskied by wyse van driedubbele onderdompeling in water, as simboliese bekragtiging van die gelowige se dood en opstanding saam met Christus, die tweede persoon van die Goddelike Drie-eenheid. Die Doop is egter veel meer as n simboliese handeling - dit is werklik die bad van die wedergeboorte (Titus 3: 5) waardeur die ou mens van sondeverslawing agtergelaat en n nuwe mens in Christus gebore word. Dit is belangrik om daarop te let dat die wedergeboorte nie van die Doop losgemaak kan word nie: Christus het die twee immers self aanmekaar verbind toe hy teenoor Nikodemus verklaar het dat wedergeboorte uit water en Gees n voorvereiste vir verlossing is (Joh. 3: 3-5).
Wanneer n gelowige die sakrament van die Heilige Doop ontvang, ontvang hy of sy terselfdertyd die Heilige Gees. n Menslike handeling word sodoende deur n Goddelike daad bevestig. Dit word voorgestel deur die sakrament van Salwing, met olie wat deur n biskop van Christus gewy is. Ná sy kragtige toespraak op Pinksterdag het Sint Petrus self die gawe van die Heilige Gees belowe aan elkeen wat in die naam van Jesus Christus tot vergifnis van sondes gedoop word (Hand. 2: 38, 39). In feitlik dieselfde asem het die groot apostel die belofte van die Heilige Gees aan die gelowiges se kinders beskikbaar gestel, sodat die sakrament van die Doop nie van hulle weerhou kan word nie.
Die sakrament van die Eucharistie of Heilige Nagmaal is die kern van die Christelike erediens, of Liturgie. Daarin neem die gelowiges op n mistieke wyse deel aan die liggaam en bloed van Christus, in ooreenstemming met Sy woorde tydens die Laaste Avondmaal kort voor Sy kruisiging toe die sakrament ingestel is: "Daarop neem Hy die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat aan julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word" (Luk. 22: 19, 20). Deur die gelowige se deelname aan die Eucharistie, nadat daar vooraf (minstens vanaf die vorige aand) gevas en gebid is, word daar vooruit gewys na sy of haar liggaamlike opstanding uit die dood met die Algemene Opstanding wat vir alle ontslapenes voorlê.
Deur die sakrament van Verordinering word n priester of n biskop tot die diens van God gewy. Dit kan slegs deur n biskop van Christus waargeneem word, sodat die Apostoliese Opvolging wat deur Christus self ingestel is (Matt. 16: 18, 19) ongeskonde behoue kan bly. Slegs die tradisionele Christelike kerke voldoen aan hierdie belangrike vereiste van Apostoliese Opvolging, sodat alleenlik húl sakramente as geldig beskou kan word.
Geen mens, selfs nie grootste Heilige, is sonder sonde nie. Dít het sulke groot Christenpioniers soos die apostels Paulus en Johannes beklemtoon, soos in onder meer Romeine 3: 23 en 1 Johannes 1: 8 gelees kan word. Maar deur die dood en opstanding van Christus kan ons vergifnis van ons sondes ontvang en met God versoen word, indien ons dit in geloof aanvaar en teenoor andere bely (Rom. 10: 9, 10). Daar word egter nie alleen van ons verwag om ons geloof te bely nie, maar ook ons sondes (Jak. 5: 16; 1 Joh. 1: 9). In die Ortodokse Kerk geskied dit by wyse van die sakrament van die Bieg, wat in die teenwoordigheid van n priester voor Christus plaasvind. Indien die priester tevrede is dat die gelowige sy of haar sondes met opregte berou bely het, kan die troosvolle versekering van God se vergifnis verklaar word (Joh. 20: 23). Gewoonlik word n vorm van boetedoening, soos vas, gereelde gebed en Skriflesings, aan die gelowige opgelê. Daardeur word die noodsaak van n daadwerklike stryd om n bepaalde sonde te oorkom, beklemtoon en die moontlikheid daarvan versterk.
In die sakrament van die Huwelik word n man en n vrou wat voor die gemeente van God verklaar dat hulle mekaar liefhet in die eg verbind, as n simboliese heenwysing na die huwelik van Christus, die Bruidegom, en Sy Bruid, die Kerk (Openb. 19: 7-9). In teenstelling met sakramente soos die Doop, Nagmaal en Bieg is die Huwelik egter nie vir alle gelowiges bedoel nie. Só het Christus self verklaar dat sommige mense hulself onbekwaam vir die huwelik gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele, terwyl Paulus op sy beurt leer dat dit vir n gelowige beter is om nie te trou nie, al is die Huwelik nogtans heeltemal toelaatbaar (Matt. 19: 12; 1 Kor. 7: 1-40). Die Ortodokse Kerk se bediening van hierdie sakrament bring voorts mee dat sondes wat direk daarteen indruis, soos egbreuk, hoerery en homoseksuele dade, ewe beslis as in die Heilige Skrif veroordeel word (Matt. 15: 19; Rom. 1: 26, 27; 1 Kor. 6: 18). Nietemin beskou die Kerk dit as deel van haar pastorale bediening om gelowiges wat daaraan skuldig is maar bevryding daarvan wil ervaar, op n liefdevolle wyse tot geestelike oorwinning te lei.
Vir die meeste gelowiges is die Laaste Salwing met gewyde olie die laaste sakrament wat hulle van die Kerk ontvang. Daardeur word God se genesing gevra in die geval van iemand wat ernstig siek geraak het, of word die liggaam van iemand wat op sterwe lê vir die dood voorberei. Die sakrament kan dus beskou word as simboliese bevestiging van Paulus se gevierde woorde, "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou" (2 Tim. 4: 7).
Die Ortodokse verering van die Heilige Maagd Maria
In die Ortodokse Kerk word die Heilige Maagd Maria as die Moeder van God vereer (let wel: vereer, nie aanbid nie; slegs die Drie-enige God word aanbid). Hierdie uiters belangrike gebruik word gerugsteun deur die historiese feit dat die verenigde Christelike Kerk die titel van theotokos, wat letterlik God-baarder in Grieks beteken, tydens die Konsilie van Efese in 431 aan Maria toegewys het. En vir meer as n duisend jaar het die hele Christendom, Oosters en Westers, voortgegaan om aan Maria die verering te bring waarop sy geregtig is, totdat die Protestantse leiers in hul opstande teen Roomse wanpraktyke ongelukkig die baba met die badwater uitgegooi en die verering van die Heilige Maagd Maria in hul kerke beeïndig het. Daardeur is die Protestantse kerke vanuit die staanspoor geestelik verarm, benewens die feit dat dit veral in die Calvinisme tot n duidelik manlik-chauvinistiese inslag gelei het.
Waarom is dit vir Christene so belangrik om Maria as die Moeder van God te vereer? Die antwoord is eenvoudig: Sy het uit vrye wil God in die vlees gebaar toe God mens geword het. Of, soos dit al op paradoksale wyse gestel is: Die Seun van God is buite tyd uit die Vader sonder n moeder gebore, en binne tyd uit n Moeder sonder n (aardse) vader. Toe die engel van die Here aan Maria bekendmaak dat sy deur die Heilige Gees swanger gaan word en die Seun van God gaan baar, het sy geantwoord: "Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord" (Luk. 1: 38). Ongeag wat die familie, die bure, of wie ookal indertyds sou dink en skinder oor n ongetroude maagd wat swanger word, het Maria haarself in gelowige gehoorsaamheid voor God beskikbaar gestel ter wille van Sy Heilsplan vir die mensdom.
Dat die verering van Maria nie n latere kerklike verwikkeling was nie, blyk uit die woorde van die swanger Elisabet, moeder van Sint Johannes die Doper, tydens haar niggie se besoek aan haar: "Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word" (Luk. 1: 42-45, eie kursivering). En in aansluiting daarby het Maria in haar lofsang teenoor God gesê: "... want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam" (Luk. 1: 48, 49).
Die Ortodokse Kerk het oor die afgelope twee millenniums getrou aan die verering van die Heilige Moeder van God gebly, met tallose gevalle van wonderwerke wat deur haar in die lewens van gelowiges bewerkstellig is. Ook in die Ortodokse eredienste word verskeie gesange aan Maria gesing, waarin sy as theotokos geloof en haar voorbidding gevra word. Haar teenwoordigheid in die Kerk se eredienste en in die daaglikse lewens van haar vereerders bly n bron van groot vertroosting en bemoediging vir die kinders van God.
Die betekenis van ikone in die Ortodoksie
Ikone, of heilige prente, is met reg al beskryf as teologie in kuns. Of, om dit ietwat anders te stel, ikone is vensters op die hemel. Dit herinner Ortodokse Christene daaraan dat Christus, Maria en die Heiliges slegs liggaamlik van ons verwyderd is, maar geestelik werklik in ons midde is om gelowiges te help in hul daaglikse stryd teen die bose en daardeur nuwe mense in die Gees te word.
Die gebruik van ikone in die Ortodokse Kerk kan insgelyks na die vroeë Christelike Kerk teruggevoer word. Gedurende die agste eeu het daar egter n beweging bekend as die beeldestormers ontwikkel, wat ten doel gehad het om ikone uit die Kerk te verban. Hulle kan dus as voorlopers van Protestantse leiers soos Calvyn beskou word, wie se volgelinge van die pragtige versierings in hul kerke ontslae geraak het en met barre, witgepleisterde mure tevrede was (en steeds is). Vir n kort tydjie was die beeldestormers suksesvol, maar tydens die laaste ekumeniese konsilie wat in 787 te Nicea gehou is, is die gebruik van ikone deur die verenigde Christelike Kerk bekragtig. Helaas het eers die Roomse Kerk daarvan afgewyk, nadat die Roomse biskoppe ironies genoeg tydens die stryd teen die beeldestormers die vernaamste verdedigers van die gebruik van ikone was, terwyl die latere Protestante (met uitsondering van die Lutherane en Anglikane) van alle heilige afbeeldings ontslae geraak het en daardeur nogeens hul volgelinge verarm het - teologies sowel as esteties.
Is daar n teologiese begronding, bo en behalwe estetiese oorwegings, vir die gebruik van ikone in die Kerk van Christus? Inderdaad is daar, indien n mens die Inkarnasie of vleeswording van God in Christus ernstig opneem. Want ikone dien as visuele bekragtiging van die Niceense Geloofsbelydenis se stellings aangaande die menswording, dood, opstanding, hemelvaart en verwagte wederkoms van die tweede Persoon van die Godheid. Terselfdertyd verteenwoordig ikone n verwerping van die ou gnosties-Platoniese minagting van die aardse en stoflike, want laasgenoemde is eweseer n skepping van God as wat die geestelike sfeer is. Sodoende word daar ook aansluiting gevind by die Niceense Geloofsbelydenis se verklaring dat God die Skepper is van alle sigbare en onsigbare dinge.
Die Ortodokse beskouing van die Heilige Skrif
Die uiteindelike bron van gesag in die Ortodoksie is nóg die Bybel (soos in die Protestantisme) nóg n kerklike figuur (soos in die Rooms-Katolisisme), maar die derde Persoon van die Godheid, die Heilige Gees, wat as n lewende werklikheid in die Kerk beleef word. Hierdie aanspraak berus op die die Gees se teenwoordigheid in die Liturgie, en meer bepaald wanneer die brood en wyn op n mistieke wyse in die Liggaam en Bloed van Christus verander word. Die Ortodokse teologie is dus n liturgiese teologie - die geloof kan nie van die erediens losgemaak word nie.
Om verskeie redes vind die Ortodokse Kerk die Protestantse aansprake op getrouheid aan die Skrif alleenlik (Luther se sola scriptura) hoogs twyfelagtig, om dit sagkens te stel. Eerstens vergeet diesulkes skynbaar dat die Skrif n skepping van die Kerk is, en nie andersom nie. Alhoewel die boeke van die Nuwe Testamentiese kanon teen die einde van die eerste eeu reeds volgens ons beste wete voltooi was (die Openbaring van Johannes was laaste, in ongeveer 95), is die finale getal daarvan eers drie eeue later beslis. Gedurende die eerste vier eeue van haar bestaan het die Kerk van Christus dus nie n Bybel gehad in die sin waarin ons dit leer ken het nie. Verskillende boeke, waarvan sommiges later as apokrief verklaar is, is in verskillende gemeentes gebruik. Nogtans het die Kerk ongestoord met haar werk voortgegaan en tot aan die uiterste grense van die destydse Romeinse ryk sendingwerk gedoen. Wie kan beweer dat die afwesigheid van n amptelike Bybel enigsins n belemmering vir die Kerk was? Die teenwoordigheid van die Heilige Gees in die Kerk, en veral in die Liturgie, was en is immers God se beskerming van Sy volgelinge teen dwalinge en ketterye.
In die tweede plek beklemtoon die Protestantse aanvaarding van bepaalde geloofsbelydenisse (bv. dié van Augsburg, Londen of Dordrecht) op implisiete wyse die onmoontlikheid vir n gelowige om sy of haar geloof uitsluitlik op die Skrif te baseer. Aangesien die Skrif deur die Kerk geskep is, kan slegs die Kerk die Skrif vertolk. Enige buite-kerklike skrifvertolking laat die deur wawyd oop vir arbitrêre afleidings en selfs ernstige dwalings. Die voortdurende versplintering van die Protestantisme oor die afgelope vyf eeue dien as treffende bevestiging van hierdie stelling.
Nogtans dien die Bybel as 'n fondament van die Ortodoksie. Dit kom duidelik na vore in die Liturgie, wat merendeels op die Skrif gebaseer is. n Mens kan dit dalk by wyse van die volgende metafoor skilder: Die fondamente van die Kerk is die Heilige Tradisie (sowel geskrewe as mondeling, waarvan die Skrif die geskrewe komponent is), die mure is die kerkvaders en konsilies, die dak (waaraan steeds gebou word) is die heiliges, en die afwerking binne en buite is die lewens van die miljoene gelowiges oor die eeue heen.
Die Ortodoksie en die wetenskap
Talle gelowiges in die Weste beskou die wetenskap, en meer bepaald die natuurwetenskappe, as n bedreiging vir hul geloof. Dit is in n mate verstaanbaar, want oor die afgelope eeue het dit feitlik mode onder wetenskaplikes geword om skepties en selfs neerhalend teenoor godsdienstige geloof te wees. In die Ortodoksie, daarenteen, is en word die wetenskap nie werklik as n bedreiging beskou nie. Enersyds omdat die Ortodokse Kerk nie n behoefte aan eksterne waarheidskriteria soos in die Westerse kerke ervaar nie, en andersyds omdat Christus leer dat die waarheid ons sal vrymaak (Joh. 8: 32), is die Ortodoksie geensins teen eerlike wetenskaplike navorsing gekant nie. Indien die wetenskappe die klassieke metode van akkurate waarneming en beskrywing, toetsing van hipoteses en teorievorming handhaaf, kan dit hoegenaamd nie n bedreiging vir die Christelike geloof inhou nie.
Sover dit die beweerde konflik tussen die Heilige Skrif en die wetenskap betref, kan daarop gewys word dat die Bybel nooit bedoel was om as n wetenskaplike handboek te dien nie, maar as n versameling riglyne vir gelowiges waarvolgens hulle behoort te lewe. Die vroeë geskiedenis wat in die Skrif verhaal word, is in die eerste plek heilsgeskiedenis. Dit het te make met God se kragtige dade in die lewens van mense, eerder as om presiese beskrywings van die ontstaan van die kosmos en die lewe daarin te wil wees.
In dieselfde asem moet daar gewaak word teen n onkritiese aanvaarding van alles wat as wetenskaplik opgedis word. Alle wetenskaplike teorieë is per definisie oop vir bevraagtekening, alhoewel wetenskaplikes alte dikwels ewe onverdraagsaam daarteenoor is as kerklikes van die verlede (bv. die Roomse Inkwisie en hul vervolging van Galileo) wat tereg vir hul stiksienigheid gekritiseer is. n Mens hoef maar net te dink aan die invloedrykste wetenskaplike teorie van die twintigste eeu: Darwin se ewolusieteorie, en spesifiek die beweerde transformasie van spesies vanaf laer na hoër vlakke van ontwikkeling. Eerstens gaan dié teorie mank vanwëe die vernaamste empiriese tekortkoming daarvan (wat deur Darwin self erken is maar meesal gerieflikheidshalwe verswyg word), naamlik die afwesigheid van oorgangsvorme in die natuur. Al die spesies wat aan ons bekend is, is voltooide vorme wat alle aanduidings van intelligente ontwerp vertoon. Indien die Darwinisme korrek was, sou die natuur deurtrek moes wees van visse wat besig is om amfibieë te word, amfibieë wat besig is om reptiele te word, reptiele wat besig is om voëls of soogdiere te word, en ape wat besig om aapmense te word. Enigeen met oë wat kan sien, kan egter waarneem dat sulke chaos eenvoudig nie voorkom nie.
Hiermee word geensins ontken dat verandering en aanpassing wel in die natuur voorkom nie, eweseer as in die menslike leefwêreld. In die wêreld van verskynsels is niks immers staties nie, alhoewel die wesenlike van dinge merendeels (onderliggend aan die verskynsels) dieselfde bly: die kosmiese stryd tussen goed en kwaad, die inherente geneigdheid van die mens tot sonde en dus opstand teen God, en die periodieke terugkeer van waarheid, goedheid en skoonheid ná chroniese menslike pogings om dit te onderdruk.
Die Kerk se beswaar teen die ewolusieteorie berus dus nie op teenkanting teen die beginsel van natuurlike verandering nie, maar eerder op die gebrekkige empiriese begronding van die teorie, sowel as op die talle aanduidings van intelligente ontwerp in die natuur, wat n langsame proses van blinde toeval weerspreek. Voorts is dit n feit dat sommige geleerdes sover gegaan het om bedrog te pleeg in hul naarstiglike pogings om n ontwikkelingslyn vanaf aap via aapmens na mens aan te toon. Die berugste voorbeeld daarvan is die sogenaamde Piltdown-mens, wat later geblyk het die skedel van n mens en die kakebaan van n groot aap te wees. Ook die bekende Peking-mens en Java-mens berus op gebeentes wat veels te fragmentaries is om as bewys van menslike voorouers te dien, terwyl die Australopithecus-beendere wat op verskeie plekke in Afrika ontdek is waarskynlik bloot die oorblyfsels van aapagtige wesens is wat lankal uitgesterf het.
Dit is dus geen wonder dat al meer wetenskaplikes die ewolusieteorie as verklaring van menslike oorspronge verwerp nie - op wetenskaplike gronde. Nadat die geloof in n Goddelike skepping van die kosmos en alle lewe daarin vir so lank deur sovele verwerp en selfs bespot is, blyk dit nou glad nie so vergesog te wees nie. In ons tyd word die skeppingsmodel toenemend erken as n sinvolle alternatief tot die ewolusieteorie, wat wesenlik n ateïstiese geloof is wat God uit die mens se leefwêreld wil verdryf. Simbolies van hierdie verblydende wending is die universiteite in die voormalige Sowjet-Rusland wat vir die grootste gedeelte van die twintigste eeu deur die militant- ateïstiese owerhede verplig is om wetenskaplike ateïsme as plaasvervanger vir godsdienstige geloof te verkondig, maar wat oor die afgelope dekade weer na godsdiensstudies teruggekeer het. Geloof in ewige waarhede wat deur God aan die mens geopenbaar is, is immers veel sterker as verbygaande teorieë wat deur ongelowige mense bedink is.
n Oproep
Talle Afrikaanssprekendes, waarskynlik meer as ooit tevore, is vandag geestelike soekende. Hulle is vervreemd van die tradisionele Afrikaanse kerke, wat almal Calvinisties van aard is en dus in vele opsigte verwyderd van die waarlik tradisionele Christelike leer en praktyk. Hulle is ook vervreemd van die pinksterkerke, met hul uitspattige aanbiddingwyses en hul verwarring van hiperemosionaliteit met die werking van die Heilige Gees. Gevolglik wend diesulkes hulself toenemend tot pseudo- religieë soos die sogenaamde Nuwe Era-beweging, na Oosterse meditasietegnieke, ensomeer. Maar helaas bied sulke alternatiewe nie altyd die geestelike vervulling wat verlang word nie.
Nee, die beste alternatief vir die Afrikaanse man en vrou op die drumpel van die derde millennium bly steeds die Evangelie, die goeie nuus, van Jesus Christus. In Christus het die volheid van die Godheid in menslike gestalte tot openbaring gekom, sodat die mens tot God kan terugkeer en die ewige Lewe kan beërwe. Waarom met enigiets minder tevrede wees indien ons hierdie onoortreflike gawe vrylik van God kan ontvang?
Indien u n behoefte ervaar om die volheid van die Christelike evangelie te beleef, nooi ons u uit om n Ortodokse erediens by te woon. Deur die genade van God het die Ortodokse Kerk oor bykans twee millenniums heen getrou aan die leer van Christus en Sy apostels, die kerkvaders en die konsilies gebly. Kom beleef dit self!
Eer aan God die Vader, die Seun en die Heilige Gees, nou en altyd en tot ewigheid.
Mag die gebede van die Moeder van God en al die Heiliges met ons wees.
Wynand de Beer
Paasfees 1999
Geraadpleegde werke / Aanbevole leesstof
- Christensen, Damascene. Not of this World: The Life and Teaching of Father Seraphim Rose.
- Clendenin, Daniel. Eastern Orthodox Christianity.
- Dunaway, Marc. What is the Orthodox Church?
- Kalomiros, Alexander. The River of Fire.
- Khomiakov, Alexei. The Church is One.
- Meyendorff, John. Orthodox Church.
- Saint Ignatius of Antioch Orthodox Christian Mission. A Time Line of Church History.
- Ware, Kallistos. The Orthodox Church.
- Ware, Kallistos. The Orthodox Way.
Gepubliseer deur die Afrikaanse Ortodokse Gemeenskap van Sint Johannes die Doper, Kaapstad.