deur Mike Oettle
breuke / Swart Prins / baresteel / skildsoom / Stodart
’n PERSOONLIKE wapen behoort, te enige tyd, slegs aan een persoon in ’n gegewe land of streek.
Vergeet die idee dat ’n wapen aan ’n ganse familie kan behoort. Dit word ’n familiewapen genoem want ’n mens kan verbintenisse tussen verskeie lede van daardie familie deur om die verskille tussen ’n aantal soortgelyke wapenskilde te vergelyk.
Dit is nie blote gebruik nie, maar ’n saak van wapenkundige wet.
Hier het ons Talbot, 1ste graaf van Shrewsbury, met sy seun en erfopvolger. Jong Talbot dra, as oudste seun, ’n baresteel met drie hangers of punte (hierdie een is toevallig swart) bo in sy wapen. (In Skotland, sal wie ookal die volgende is om ’n sekere wapen te erf, die baresteel voer, al is hy selfs veraf familie.)
Nou kom ’n tragedie: die graaf word deur ’n pyl gedood, en word deur sy diensknegte weggedra. (Let daarop dat die diensknegte ’n livrei dra wat anders is as die kleure in die Talbot-wapen. Hulle dra ook ’n woordspelende kenteken op bors en rug: die hondsoort word in Engels talbot genoem.)
Nou gaan die titel graaf van Shrewsbury (2de graaf) aan die seun oor. Al rou hy steeds vir sy vader, toon hy sy opvolging aan deur om die baresteel weg te neem en die eenvoudige wapen van Talbot te voer.
Hierdie uniekheid van ’n wapen is tot ’n enkele land beperk. Gaan na hierdie artikel om te sien hoe die Hay-familie in vier lande hoofde het wat dieselfde wapen voer, terwyl ander lede van die familie die eenvoudige familiewapen moet varieer.
Sedert die tyd van die Tudor-monarge het die Engelse heroute wapens binne ’n familie gevarieer deur om breuke volgens ’n neergelegde patroon by te voeg.
Die oudste seun, soos reeds genoem, voeg die baresteel by. Die tweede seun voeg ’n sekelmaan by, die derde seun ’n vyfpuntige ster, die vierde seun ’n muurswaeltjie (’n tradisionele heraldiese voëltjie wat sonder bek of pote is), die vyfde seun ’n ring, die sesde ’n fleur-de-lys of lelie, die sewende ’n roos, die agtste ’n meulkruis (kyk hier vir ’n voorbeeld van ’n meulkruis) en die negendste ’n agtblaar (’n formeel getekende blom met agt blaartjies).
Hierdie breuke kan van enige kleur wees (hulle moet natuurlik kontrasteer met daardie deel van die skildveld waar hulle voorkom). Hulle moet klein wees (sodat dit nie met enige hoof-wapenfiguur verwar word nie), en kan in verskillende dele van die skild verskyn, alhoewel hulle verkieslik naby die middellyn moet wees.
Anders as die baresteel, wat met die vader se dood wegval, bly die breuke van jonger seuns.
Die baresteel (in Engels, label; in Nederlands, barensteel) is ’n eienaardige wapenfiguur, want dit het twee heeltemal verskillende gebruike in die heraldiek. Sy oorsprong is ietwat onduidelik, maar sy Duitse naam, Turnierkrage (toernooikraag) is ’n moontlike aanduiding van hoe dit eers gebruik is.
Mees dikwels verskyn dit as die breuk van die oudste seun of erfopvolger, en is so gebruik sedert dit aangeneem is deur Edward (*1330 †1376), oudste seun van koning Edward III van Engeland, wat die eerste Engelse Prins van Wallis was, en wat ook as “the Black Prince” bekend gestaan het. (Edward se naam as Swart Prins is ontleen aan die wapen wat hy gevoer het toe hy aan toernooie deelgeneem het. Kyk hier vir ’n illustrasie.)
Die baresteel word ook in die heraldiek van koningshuise gebruik om jonger seuns en dogters aan te dui. Middeleeuse Engelse prinse sou die gebruike van hul neefs op die Vasteland volg en, by voorbeeld, ’n baresteel van Frankryk (blou met goue lelies), of Brittanië (hermelyn, of wit met swart sterte) – of kombinasies van hierdie of ander wapens binne die baresteel – deels om ’n familieverbintenis met daardie ryke aan te dui, maar ook deels om aan te dui dat hulle nie die erfopvolger is tot die wapen van Engeland (die leeus van Engeland alleen, of Frankryk en Engeland gevierendeel) wat die grootste deel van die skildinhoud uitgemaak het. Wat ook gebruik is, maar nie in Engeland nie, was die baresteel van Kastilië (rooi met goue kastele). Hier aangetoon is die wapens van Edmund Crouchback (*1257 †1296, tweede seun van koning Henry III), graaf van Lancaster en ook as koning van Sicilië erken, wie ’n baresteel van Frankryk bygevoeg het; Crouchback se skoonpa, Robert I (*1216 †1250, tweede seun van koning Louis VIII), graaf van Artois, wie ’n baresteel van Kastilië by France Ancient bygevoeg het; en John, hertog van Bedford (*1389 †1435, oudste seun van koning Henry IV) Regent van Frankryk vanaf 1422 tot ’35, wie ’n baresteel van Brittanië en Frankryk gevoer het.
In die moderne Britse praktyk word elke koninklike ’n wit (silwer) baresteel van die gepaste aantal punte toegewys (die oudste seun van die Prins van Wallis het by uitsondering slegs drie punte), met bykomstige simbole in die meeste gevalle. Kyk hier vir die wapen van Prins William van Wallis en sy broer, Prins Harry.)
Dit word soms beweer dat die wit/silwer baresteel in Engeland slegs vir koninklikes gebruik mag word. Ek kan geen bevestiging hiervan vind nie, maar in Skotland is dit beslis nie die geval nie – enige paslike (kontrasterende) kleur is aanvaarbaar.
Die baresteel word egter ook as permanente wapenfiguur gewaar. As sulks hoef dit nie die drie, vyf of sewe punte te hê wat vir die oudste seun, sy oudste seun en sy oudste seun voorgelê is nie. Dit verskyn soms as die merk van ’n onterfde tak van ’n familie.
In munisipale wapens verskyn dit by voorbeeld soms met vier of ses punte. As permanente wapenfiguur in ’n familiewapen – ’n voorbeeld is die familie van sir George Grey – verg dit ’n addisionele baresteel om ’n oudste seun aan te dui. Skole in twee Suid-Afrikaanse sentrums, Grey High en Junior in Port Elizabeth, en Grey Kollege in Bloemfontein, het wapens wat van sir George s’n ontleen is, en bevat elk ’n baresteel.
(In die 19de eeu sou die seuns van Britse koninklikes dikwels hul vader se wapen voer, met ’n bykomstige baresteel bygevoeg. Bo regs is die skild van prins George van Cambridge, oudste seun van die hertog van Cambridge, wie in die 1820s ’n ridder was van die Garter-orde.)
Vir ’n verdere voorbeeld van die baresteel as wapenfiguur, kyk die wapen van die Institute of Heraldry in die Leër van die Verenigde State van Amerika hier.
Die baresteel word ook in verskeie vorms aangetref. Die horisontale komponent (tegnies ’n verhoogde dwarsstreep) kan van kant tot kant gaan, of kan dit weerskante afgesny wees. Die punte kan vierkantig wees, duiwestertvormig of selfs traanvormig. (Die Grey-wapen het tradisioneel ’n afgesnyde dwarsstreep met duiwestert-punte.)
In Middeleeuse voorbeelde word dit soms so verhoog gevind dat dit langs die boonste rand van die skild loop, of verdwyn dit selfs, sodat alleenlik die punte gesien kan word, van die borant hangend. Dit onderstreep die toernooi-oorsprong van die baresteel, wat ’n oudste seun moontlik sou gedra het toe hy aan ’n toernooi deelgeneem het, in sy vader se harnas en met sy vader se skild, met die baresteel dan op beide wapenkleed en skild as tydelike aanduiding dat hy in werklikheid nie die eienaar van die wapen was nie.
Hier aangetoon is die wapens van prins Edward, seun van koning Henry III en later self koning Edward I, wie se baresteel op die skild se borant sit, en William de Valence, graaf van Pembroke (†1296), wie se baresteel van Engeland slegs die punte toon, glad nie die dwarsstreep nie. Voordat hulle die troon bestyg het, het Edward II en III ook blou barestele van drie of vyf punte gevoer, maar toe die Franse wapen met die Engelse saamgevoeg is, het blou ’n onpaslike kleur geword, en die Swart Prins het silwer (wit) verkies.
Wit (silwer) barestele van drie punte is, voor die Swart Prins se tyd, op die wapen van Engeland gevoer om ’n junior tak aan te dui, en in Frankryk is so ’n baresteel deur verskeie hertoë van Orléans gevoer.
Die punte kan ook wapenfigure dra, en veral in die Spaanse en Portugese heraldiek word heel ingewikkelde punte gevind wat verg dat die punt ’n vierkant is wat van die paaltjie waarvan dit afhang, uitbult. Twee voorbeelde uit die Portugese koningshuis word hier aangetoon: Fernando, hertog van Viseu (*1433 †1470), wat ’n baresteel van twee punte gevoer het, elk met die wapen van die Aragonese konings van Sicilië belaai; en Eduardo, hertog van Guimarães (*1515 †1540), wat drie punte gevoer het, elk met ’n ander wapen belaai: Aragon, Hongarye/Jerusalem en Sicilië.
Die nadeel van die Engelse stelsel met sy klein breukmerke is dat, na ’n paar geslagte, dit onnet kan voorkom. In Skotland vorm dieselfde breukmerke deel van ’n meer komplekse sisteem wat deur Robert Riddle Stodart opgetrek is. (Stodart is in 1864 as Lyon Clerk Depute aangestel.) Hierdie sisteem betrek ’n verdere paar breukmetodes volgens ’n neergelegde patroon.
Nie een van die breukmetodes in die Stodart-sisteem was nuut nie: elke laaste een was reeds eeue lank in gebruik in Skotland – en wel ook in ander lande. Maar dit was die eerste maal wat dit sistematies toegepas is.
Hier het ons nog een van Don Pottinger se wonderlike tekenings, wat die stamboom van Erskine aantoon. Onderaan die boom staan ou Erskine, sy wapen in silwer, ’n paal van swart.
Die volgende op die leer is sy oudste seun, wat ’n rooi driepuntige baresteel voer . . . en hy stry met sy een broer. Let daarop dat die drie jonger broers elkeen ’n skildsoom by hul wapen bygevoeg het: die tweede seun het ’n goue soom, die derde ’n geskakeerde soom van silwer en swart, die vierde seun ’n rooi soom.
Volgende op die leer is die oudste seun se oudste seun, wie se baresteel (steeds rooi) vyf punte het. In sy geslag varieer die jonger seuns die skeidslyne, dus het sy broers hulle pale uitgeskulp en ingeskulp.
Dieselfde reël van varierende skeidslyne is ook op sy neefs se wapens toegepas: die ou met die rooi soom het twee seuns, van wie die oudste ’n baresteel voer, maar die jongste het ’n ingeskulpte skildsoom (die wapenfiguur wat mees onlangs bygevoeg is, kry die verandering in die skeidslyn).
Volgende op die leer is die agterkleinseuns: die oudste seun in die reguit erflyn het steeds ’n rooi baresteel, maar dié het nou sewe punte. Sy broers het breuke op die Engelse manier bygevoeg: ’n sekelmaan en ’n sterretjie.
En hul neefs (seuns van die ou met die ingeskulpte paal) val nou onder die reël dat hulle ’n skildsoom moet byvoeg. Die oudste seun het ’n baresteel (soos by sy oom met die rooi skildsoom, het hierdie baresteel drie punte, as teken van erfopvolger in die eerste geslag), terwyl sy baba-boetie in ’n bedjie lê met ’n goue soom.
Let daarop dat hierdie goue skildsoom dieselfde is as dié van die tweede seun in die eerste geslag – maar daar kan tussen die twee geen verwarring wees nie, aangesien die baba se paal ingeskulp is, soos in sy broer en sy vader se wapens.
Sir Iain Moncreiffe voeg by: “’n Mate van vryheid is egter toegelaat waar ’n ander breuk miskien meer van pas lyk.”
Skildsome is in die Middeleeue nes die baresteel (soos hierbo genoem) gebruik om breuke aan te bring. Engelse koninklikes het byvoorbeeld some van Frankryk of Brittanië gevoer, or ander wat na Engelse titels verwys het. Koning Afonso III van Portugal (*1210 †1279) het sy huwelik in 1254 met Beatriz van Castilië gevier deur om ’n skildsoom van Castilië by sy wapen toe te voeg . . . ’n breuk wat tot vandag toe deur die Portugese Republiek gevoer word. (Afonso was self half Castiliaans; sy moeder was Urraca van Castilië.) Die twee Portugese koninklike hertoë wie se wapens hierbo verskyn – afstammelinge van Afonso – voer ook die soom van Castilië.
Hier aangetoon is die wapens van John van Eltham (*1316 †1336, tweede seun van koning Edward II), graaf van Cornwall, wie ’n soom van Frankryk bygevoeg het (ten minste drie ander Engelse koninklikes, hertoë van Exeter in die 15de eeu, het ook so gemaak); Thomas de Beaufort, graaf van Dorset, tweede seun van die derde huwelik van John of Gaunt (Jan van Gent; hierdie Engelse prins is op Gent in Vlaandere gebore); en Jasper Tudor. Die Beauforts, wat as egte kinders verklaar is nà die huwelik van hul moeder, Catherine Roelt, aan John of Gaunt, het Frankryk met Engeland gekwartier binne ’n soom geblok van silwer en blou gevoer (vir meer oor hierdie familie, kyk hier). Thomas het die silwer blokke van die soom na hermelyn verander. Die broers Edmund en Jasper Tudor, halfbroers van koning Henry VI en seuns van koningin Catherine (dogter van koning Charles VI van Frankryk), is wapens toegewys asof hulle lede was van die koningshuis – weens ’n tekort aan mans in die Huis van Lancaster – en Edmund se seun het in werklikheid (as Henry VII) koning geword. Edmund het ’n blou soom gevoer van muurswaeltjies en lelies (die muurswaeltjies het na die wapen van koning Richard II verwys [kyk hierdie bladsy vir ’n verduideliking, en hier vir ’n illustrasie van die wapen van Eduard die Belyder, wat Richard by sy wapen gevoeg het]). Jasper se soom het slegs muurswaeltjies bevat.
Die skildsoom, waar dit as breuk voorkom, is gewoonlik die merk van ’n jongere seun, maar dit is ook gebruik as die merk van ’n erfopvolger. Vanaf 1871 tot 1918 het die erfopvolger tot die Pruisiese troon sy vader se wapen gevoer (die adelaar van die Ryk, met op sy bors ’n skild van die Pruisiese adelaar, en op sy bors die silwer-en-swart gevierendeelde skild van Hohenzollern – teken van ’n persoonlike unie van Hohenzollern, Pruise en die Ryk) binne ’n rooi skildsoom gevoer.
Al die breukmerke hierbo genoem is van toepassing op seuns wat binne die huwelik gebore is. Onegte seuns val onder ’n ander stel reëls, en hierdie wissel heelwat, nie net van land tot land nie, maar ook van tyd tot tyd. Dit word in hierdie artikel bespreek.
’n Reëlmatige sisteem soos wat hier uitgelê is (die Stodart- of selfs die Engelse sisteem), kom nie op die Europese Vasteland voor nie. Daar is die breuksisteem meer soos dit wat in die artikel oor die Hay-familie voorgestel is, maar volg geen vaste patroon nie.
Verskeie Suid-Afrikaanse families is van Duitse herkoms. Duitsland het maar ’n kort geskiedenis as enkele land, maar was voorheen ’n groot deel van die Heilige Romeinse Ryk. Binne die Ryk is die heraldiese beginsel van uniekheid in verskeie streke erken, maar die toepassing van daardie beginsel is nie altyd duidelik aan mense wat vertroud is met die heraldiese gebruike van lande verder wes.
Soms sal ’n familie wat lank reeds in meer as een streek gevestig is, die wapen varieer deur om die kleure te wissel (die skildinhoud bly andersins dieselfde). ’n Voorbeeld hiervan verskyn hier regs, waar die wapen van die Beierse familie Parteneck (in silwer, ’n byl van swart skuins gelê, belaai met ’n breedarmige kruis van silwer) in verskeie kleure verskyn. Die swart kruise op die rooi en blou byle lyk nie reg nie, maar verskyn in hierdie vorm in die swart-wit illustrasie waarvan dit geneem is. Hierdie takfamilies se name is aan die landgoed ontleen, dus die gebrek aan eenvormigheid van naam.
Wat ook gevind word, is dat die hoofde van takke van dieselfde familie in twee of meer verskillende landstreke dieselfde wapenskild sal voer, in dieselfde kleure, en dan ’n breuk aanbring deur om die helmteken te verander.
Hierdie artikel het nie die kwessie van ordening – waar die wapens van meer as een familie bymekaar gebring word – geraak nie. Dit word hier bespreek. Duitse metodes van ordening verskil ook van dié wat elders toegepas word.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle