deur Mike Oettle
WAT is dan die wette van die heraldiek waarna ek verwys het?
Daar is mense wat verbaas sal wees om te hoor dat 'n familiewapen ’n saak van die gereg mag wees, maar dit is beslis die geval.
Maar presies wat daardie wette neerlê, hang in groot mate van die land af waar die wapen vandaan afkomstig is – en in sommige van daardie lande hang dit ook van die stand van die familie wat dit voer.
Miskien is die strengste regstelsel wat die heraldiek betref dié van Skotland.
Sowat duisend jaar gelede het die Skotse konings ’n beampte gehad met die titel Lord High Sennachie, ’n bard wat die verpligting gehad het om die koning se genealogie te memoriseer en te kan voorsê tydens die bekroning, om te kan bewys dat die man wat op die punt staan om gesalf te word, daarop geregtig is.
Die titel Lord High Sennachie het geleidelik verdwyn – so vroeg reeds as 1318 is daar ’n verwysing na koning Robert Bruce wat hierdie beampte (na wie verwys is as Lord Lyon King of Arms met sy oorname van die posisie tot ridder geslaan het. ’n Ander Lord Lyon is ongeveer 1388 oorlede. As hoof van die Skotse koning se heroute is hierdie posisie die oudste heraldiese amp in Brittanje.
Lord Lyon is ’n staatsamptenaar soos ons eie Staatsheraldikus, hoof van die Buro vir Heraldiek, en so ook is die Hoof-Heraldikus van Ierland, of Phriomh Aralt na hÉirann). Aan die ander hand is die Engelse wapenkonings (daar is drie van hulle aan die College of Arms verbonde) lede van die koninklike huishouding.
Maar Lord Lyon is ook ’n regter, en sy kantoor staan bekend as die Lyon Court.
Dit is ’n werklike geregshof onder Skotse wet, en enige wettige Skotse wapenvoerder mag ’n saak in die Lyon-hof bring teen enigiemand wat onwettig sy wapen voer.
Die skuldige kan dan ’n heftige vonnis opgelê word. (Maar moenie die tekening ernstig opneem nie – dit oordryf!)
Die Lyon-hof sit redelik gereeld. In Engeland is sy ekwivalent die Hof van die Graaf-Maarskalk (Earl Marshal’s Court), wat in sy eeue-lange geskiedenis maar selde gesit het. Toe dit in 1954 byeengeroep is, het dit in 219 jaar nie sitting gehad nie.
Dit het nietemin ’n saak verhoor wat deur die Stadsraad van Manchester hangig gemaak is teen ’n huis van vermaaklikheid (“music hall”) met die naam Manchester Palace of Varieties, wat die stadswapen vertoon het asof die “paleis” dit besit het. Met die Graaf-Maarskalk (die hertog van Norfolk) as voorsittende regter, en met behulp van die Lord Chief Justice van Engeland (wat as kommissaris gesit het, geklee in die toga van ’n doktor in die regte), het die hof vasgestel dat sy gesag glad nie verminder het nie.
Dit het gevind dat die blote vertoon van die stadswapen op die saal se verhooggordyn geen gevolge gehad het nie, maar sy gebruik van die wapen op die maatskappy se seël het die implikasie gedra “dat die Stadsraad op die een of ander manier verantwoordelik was vir die handelinge van die verweerders”. Die Palace of Varieties is verhoed om die stadswapen te gebruik en beveel om die onkoste van die hofaksie, ten bedrae van £300, te betaal.
In ander lande lui die wet anders, en in elke spesifieke geval moet ’n mens kyk na die wette deur die geskiedenis.
In Skotland, Ierland en Engeland (en Wallis ook) mag niemand ’n wapen voer nie behalwe as een aan hom of aan ’n voorvader onder koninklike gesag verleen is. ’n Uitsondering word gemaak waar ’n familie vóór die eerste aanstelling van heroute ’n wapen gevoer het, maar gewoonlik is daar ook latere verlenings wat sulke wapens bevestig of verder ontwikkel.
Behalwe waar heraldiese oorerwing deur vroue aangegee is (selfs daarvoor is voorsiening gemaak), moet die oorerwing in die manlike lyn wees.
Jy kannie sommer jou ma of jou ouma se familiewapen oorneem nie: dit behoort aan die mans in daardie families, aan hulle dogters en aan hul vroue.
Maar waar ’n vrou nie broers het nie, mag sy haar vader se wapen aan haar seuns oordra – mits hulle ’n wapen aan vaderskant het om dit mee te vierendeel. kyk hierdie artikel vir voorbeelde van hoe dit gedoen word.
Op die Europese Vasteland is die reëls heelwat strenger – mits jy van die adelstand is.
In elke land het die heersers (en soms ook die adel) streng reëls gemaak wat die gesag van die wet het oor die voer en oorerwing van wapens.
Maar daar is ook lande waar die heraldiek opgeskort is.
Frankryk het dit tydens die Rewolusie gedoen – maar daarna het Napoleon ’n nuwe adel en ’n nuwe heraldiek herskep, en ná sy val het die konings die ou heraldiek in ere herstel.
Die Franse Staat het in elk geval nooit direkte beheer oor heraldiese wapens uitgevoer nie. Die Franse Kroon het in een stadium ’n kollege heroute daargestel, maar hulle het geen gesag gehad om wapens te verleen nie, en hulle het mettertyd verval. Die beheer wat die Staat wel uitgeoefen het, was deur die howe en deur die heffing van ’n belasting op wapenvoerders. In die hedendaagse Franse Republiek maak die adel en, by tye, die geregshowe, hulle eie beslissings.
In Nederland, wat ’n koninkryk is, word die heraldiek beheer deur die Hoge Raad van Adel, en adellike en amptelike wapens word deur Koninklijk Besluit verleen.
Maar Nederland, en ander lande wat deel gevorm het van die Heilige Romeinse Ryk, het ook ’n tradisie van burgerlike wapens, wat dikwels onder geen formele gesag gevoer word nie.
Sulke bürgerliche Wappen, soos dit in Duits genoem word, mag in Suid-Afrika sonder registrasie gevoer word – solank daar nie ’n duplisering is van ’n bestaande wapen nie.
Dit is egter naas onmoontlik om vas te stel of daar duplikasie is, behalwe as ’n mens aansoek doen om registrasie. En aangesien die registrasiegelde wat in Pretoria betaalbaar is, die wêreld se laagste is, is dit die moeite werd om aansoek te doen.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle