Temas – ankers
Om meer te leer oor die wapens wat hier verskyn, kliek op die beelde.
DIE anker is miskien die mees kenmerkende tema in wapens wat verband hou met die Kaapkolonie – nie slegs wat munisipaliteite en inrigtings binne sy grense betref nie, maar selfs in etlikes ver van die kolonie af. Myns insiens is dit van groter belang as die wapen van Van Riebeeck. Die anker se simboliek vir die Kaap spruit uit die gewildheid in die tyd van die Renaissance en daarna vir die drie Christelike deugde, soos deur Paulus in sy brief aan die kerk te Korinte genoem (1 Kor 13:13): Geloof, Hoop en Liefde (in Latyn, Caritas). Die deugde is deur drie maagde voorgestel, elk met ’n simbool van haar spesiale deug. Die Hoop is met ’n anker geteken, en is as paslik beskou as simbool vir die Kaap die Goeie Hoop. Aanvanklik is dit heraldies gebruik in die wapen van die Kaapse gemeente van die Nederduitsche Gereformeerde Kerk, die gebou waarvan tans die Groote Kerk heet.
Nà die seël van die Groote Kerk, is die anker as skildhouer gebruik in die wapens wat Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist in 1804 aan Kaapstad en die vyf drosdye van die kolonie verleen het.
Vir meer as ’n halfeeu was daar geen verdere verwikkelinge nie, totdat die anker die eerste maal (sonder die maagd) gebruik is in die wapen wat Charles Davidson Bell, Landmeter-Generaal van Kaapkolonie, in 1859 vir die South African College (tans die South African College Schools en die Universiteit Kaapstad) ontwerp het. (Ek het nog nie ’n illustrasie van sy tekening nie.) Bell was ook die ontwerper van die Kaapse driehoekseël, wat blykbaar prokureur attorney C A Fairbridge geïnspireer het toe hy in 1875 ’n wapen vir die Kaapkolonie ontwerp het, waarin die helmteken ’n maagd was wat ’n anker vasgehou het en wat teen ’n rots geleun het. Kaapprovinsie het tot in 1994 voortgegaan om hierdie helmteken te voer, maar dit is in 1950 herteken.
Die Zuid Afrikaansche Republiek het in sy wapen ’n anker ingevoeg (die kleur is as goud gedifinieer). Die wapen is egter so losweg in die wetgewing beskryf waardeur dit aanvaar is, dat die anker feitlik enige posisie kon inneem. Op die lange duur egter het die anker sy plek gevind op ’n silwer binneskild (wat veroorsaak het dat sy kleur na swart moes verander), en dit het ’n rooi kabel bygekry. Toe die Provinsie Transvaal in die 1950s die ZAR se wapen aangeneem het, het dit so gebly.
Die Anglikaanse Bisdom Grahamstad het ’n wapen gevoer wat ’n anker bevat het, en dit is hoogs waarskynlik dat dit hierdie anker is wat in die wapen van die (huidige) katedraal-parogie van die Maagd Maria, in Port Elizabeth, voorkom. Hierdie wapen is oorspronklik in 1894 deur die Biskop van Grahamstad aan die kollegiale kerk verleen.
Kaapstad is in 1899 ’n wapen verleen waarin die anker-skildhouer ’n wapenfiguur geword het, en die rooi skild wat die anker in die wapen van 1804 gesteun het, het ’n binneskild geword. Die heroute het daarby nog twee ankers in die wapen ingesluit, want die regter-skildhouer is die dame Hoop met haar anker, en ’n derde anker verskyn in die helmteken. Plumstead High School gebruik die stad se helmteken as skoolwapen. Wynberg se wapen het ’n anker in sy tweede kwartier ingesluit. En Oos-Londen se eerste wapen, wat in min of meer dieselfde tydperk in gebruik geneem is, het die 1804-wapens van Kaapstad en die drosdye nageaap in die gebruik van ’n anker as skildhouer.
Die dorp Woodstock het in sy helmteken ’n anker gehad, en daarby ’n dolfyn. St Michael’s Church in Observatory (wat vroeër deel was van Woodstock) herinner aan daardie helmteken met ’n anker en dolfyn bo regs in sy skild.
Daarna het die anker in die eerste kwartier van die wapen van die Unie van Suid-Afrika voorgekom, waar ’n silwer maagd met ’n silwer rots as steun ’n silwer anker vasgehou het. Kaapprovinsie is in 1911 ’n wapen verleen wat identies met hierdie kwartier was, maar het dit nie gevoer nie. Die anker in die wapen van die Provinsie Wes-Kaap, wat in 1998 aanvaar is, laat staan die dame Hoop maar behou haar anker; die kleure is egter omgekeer, sodat die anker in rooi is op silwer.
Na aanleiding van die Zuid Afrikaansche Republiek se anker het die Transvaal University College vir sy helmteken ’n anker geneem, en dieselfde anker-helmteken (met effens anderse kleure) word steeds deur die Universiteit Pretoria gevoer.
Gedurende die 20ste eeu het verskeie munisipaliteite wapenverlenings vanaf die College of Arms in Londen verkry. Die heroute het die ankers in die drosdywapens nie as skildhouers geken nie, en het hulle in die wapens van verskeie munisipaliteite op verskillende maniere ingevoeg. In 1952 het Stellenbosch ’n anker in sy helmteken ontvang, en Oos-Londen het, in sy verlening van 1959, ’n paar ankers ontvang wat skuins gekruis is.
Toe Port Elizabeth in 1958 ’n formele verlening verkry het van die wapen wat dit sedert 1861 gevoer het, het die heroute daarop aangedring dat, bo en behalwe die verskille wat wat die stadsvaders reeds aan die wapen van sir Rufane Donkin gemaak het, dit as breuk twee ankers in die skildhoof sou moet byvoeg. Hierdie ankers (en slegs die ankers, in ander kleure) is opgeneem in die wapen wat die Streeksdiensteraad Algoa in die laat 1980s geregistreer het. In die 1960s egter het die Universiteit Port Elizabeth besluit om die stokankers wat in die Kaap tradisioneel was, te laat vaar, en ’n meer moderne ankertipe, die stoklose anker, te gebruik. Die Bisdom Port Elizabeth het egter besluit om in sy wapen, wat in 1978 geregistreer is, om ’n stokanker te voer, aangesien die anker in hierdie geval geneem is van die wapen van die Bisdom Grahamstad. ’n Verdere stokanker het in die helmteken van die Stadsraad Ibhayi verskyn.
Terug na bo
Terug na temas-indeks
Terug na Armoria-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle