Temas – bokke en ander hoefdiere
Om meer oor die geïllustreerde wapens te leer, kliek op die beelde.
DIE term Ungulata word nie meer as wetenskaplike klassifikasie gebruik om hoefdiere aan te dui nie, maar aangesien dit die gehoefde soogdiergroep opsom, word dit steeds informeel gebruik. Verskeie soorte hoefdiere word in Suid-Afrikaanse wapens gevind, waaronder bok- of antiloopsoorte die algemeenste voorkom. Veral twee boksoorte het die langste as simbool gedien vir ten minste dele van Suid-Afrika: die blou wildebees (Connochætes taurinus), en die gemsbok (Oryx gazella gazella). Die wildebees, alhoewel geensins ’n mooi dier nie, is deur twee 19de-eeuse Britse kolonies gebruik, naamlik Kaapkolonie en Natal. ’n Wildebees het as regter-skildhouer in die wapen van Kaapkolonie gedien, terwyl Natal – wat op een stadium groot hoeveelhede wildebeeshuide uitgevoer het – het as wapen aangeneem ’n paar daarvan wat wild oor die veld hardloop. Toe Kaapkolonie eers die wildebees as skildhouer aangeneem het, het sy stert afwaarts gehang. Ander tekenings die jare deur het die stert of op of af gewys – die heraldiek beskou ’n afwaartse stert as behoorlik, terwyl een wat afhang lafaardigheid aandui. Maar slegs in die 1950s, toe Kaapprovinsie sy gebruik van Kaapkolonie se wapen wetlik reggestel het, is die stert amptelik in die opwaartse posisie vasgestel. Kaapland se wildebees het nie daarin geslaag om gekies te word vir die wapen van die Unie van Zuid Afrika nie, maar Natal se twee het die tweede kwartier van daardie wapen geword. Die tweede kwartier is ook in 1911 aan Natal as wapen verleen – ’n onreëlmatige stap wat nie aan die provinsie gekommunikeer is nie, en later laat vaar is. Natal se wildebeeste leef vandag voort in die wildebees-skildhouer van die nuwe wapen (2004) van KwaZulu-Natal.
Kaapland se gemsbok het langer as skildhouer uitgehou, aangesien dit (as die kolonie se linker-skildhouer) gekies is as linker-skildhouer in die Uniewapen. Soos met die Kaapse wildebees, het hierdie bok se stert oorspronklik afgehang, en daarna ’n reeks wysigings deurgegaan voordat dit amptelik in die opwaartse posisie vasgestel is, eerstens in die 1932-weergawe van die Uniewapen, en toe in die 1950s in die wapen van Kaapprovinsie. Kaapkolonie se wildebees- en gemsbokskildhouers het ook, heel onregmatig, in die wapen van Umtata verskyn. Die gemsbok leef vandag voort as regter-skildhouer in die wapen van die Provinsie Noord-Kaap.
’n Boksoort wat nie meer amptelike steun geniet nie is die springbok (Antidorcas marsupialis), wat nietemin ’n sterk gevolg het, veral in die vorm van die springende springbok wat ’n geregistreerde handelsmerk is van Rugby South Africa (voorheen die Suid-Afrikaanse Rugby-Unie). Die gebruik van kopiereg-wetgewing om embleme van ’n heraldiese aard te “beskerm” is ongewens, soos wat hier uitgewys word. Die springbok het sy eerste verskyning in die wapen van die Orange River Colony gemaak, ’n devies wat vir die eerste twee dekades van sy lewe deur die Provincie Oranje Vrij Staat gevoer is. En toe die wapen van die Unie van Zuid Afrika ontwerp is, is die ORC se springbok gekies vir die geëerde posisie as regterhandse skildhouer in daardie devies. En soos die gemsbok-skildhouer het die springbok in die 1910-weergawe van die wapen met sy stert afwaarts verskyn . . . en weer in 1930. Maar in die weergawe van 1932 is die sterte van altwee bokke na bo. ’n Springende springbok verskyn in die wapen van die Aptekersvereniging van SA.
Die springbokke in die wapens hierbo is almal volwasse en manlik. Roedean School in Johannesburg het egter heel doelbewus gekies om ’n springbokooi in sy wapen in te sluit, en boonop ’n jongeling, as simbool van die leerlinge wat die skool bywoon. Die springbokooi neem die plek in van die reebokooi in die wapen van die skool se “ouer suster”, Roedean School in Sussex, Engeland.
Die grootste van alle antiloopsoorte is die eland, waarvan die kleinere eland (Taurotragus oryx) in Suid-Afrika inheems is. Twee eland dien as skildhouers in die wapen van Oos-Kaap.
’n Heel indrukwekkende boksoort is die koedoe (Tragelaphus strepsiceros), met sy krulhorings. Mpumalanga het twee koeoes as skildhouers, terwyl Noord-Kaap ’n koedoe as linker-skildhouer het – maar die kunstenaar vir Noord-Kaap het vergeet om die vertikale wit golwende strepe wat die flanke van hierdie dier merk. Die Afdelingsraad Albany het ’n koedoe as linker-skildhouer gehad, met ’n protea op sy skouer. Laastens het hierdie skrywer ’n blou koedoe vir sy helmteken uitgekies.
In die 20ste eeu is die bontebok (Damaliscus dorcas dorcas) van uitwissing gered. Dit word in die natuur slegs tussen Bredasdorp en Kaap Agulhas gevind. Dit het in getalle gegroei van ’n handjievol oorlewendes tot ’n florerende trop in die Nasionale Bontebokpark. Die Provinsie Wes-Kaap het heel paslik dit as een van sy skildhouers gekies. Die bontebok is naby aan die blesbok verwant.
Onder die grotere bokspesies is die indrukwekkende swartwitpens (Hippotragus niger), waarvan die Provinsie Noord-Wes twee het as skildhouers.
Die laaste onder die antilope is ’n anomalie, want dit het in die natuur geen werklike bestaan nie, en selfs sy status as heraldiese dier is bevraaglik. Dit is die twee bokke wat die College of Arms op die Standard Bank vir skildhouers afgesmous het. Die bank beskryf hierdie diere as heraldiese antilope, maar die heraldiese antiloop is in werklikheid ’n fantastiese kreatuur met geen ekwivalent in die natuurlike wêreld nie. Die antilope in die bank se wapen, soos hier verduidelik word, is ’n amalgam van ’n verskeidenheid spesies, met horings ietwat soos dié van die gemsbok, maar in ander opsigte heeltemal anders. In sy guns is die feit dat die bok wat deur die Heroutskilder van die College of Arms geteken is, anders as soveel ander diere in die hedendaagse heraldiek, heel duidelik ’n manlike dier is.
Beroemd (of berug) as een van die Groot Vyf wildsoorte is die Kaapse buffel (Syncerus caffer). Daar kom pare van hulle voor as skildhouers in die wapens van Oos-London, in die suide, en die Provinsie Limpopo, in die verre noorde.
Glad nie so naby aan die hoefdiere hierbo verwant nie is die kameelperd (Giraffa camelopardalis). Die verskeie subspesies kameelperd en die okapi (Okapia johnstoni) vorm saam die orde Artiodactyla. Grahamstad het in 1862 twee gespikkelde diere (’n luiperd en ’n kameelperd) as skildhouers uitgekies. (In Middeleeuse legende is dit gemeen dat die luiperd en die kameelperd verwant was, weens hul spikkels! Die kameelperd is beskou as die nageslag van ’n kameel en ’n luiperd.) Hierdie skildhouers is met veranderde kleure deur die dorp se openbare seuns- en meisieskole, tans Graeme College en Victoria Girls’ High School genoem, oorgeneem. Toe Grahamstad in 1912 ’n wapenverlening verkry het, is sy luiperd en kameelperd verplig om breukmerke te dra: elkeen het op sy skouer ’n rooi mantelskulp gekry.
Terug na bo
Terug na temas-indeks
Terug na Armoria-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle