Temas – die kruis
Om meer te leer oor die wapens wat hier verskyn, kliek op die beelde.
VELE soorte kruise verskyn in die heraldiek. Die eenvoudigste soort is die Griekse kruis, wat dwarsdeur loop – die arms strek van heel onder tot heel bo in die skild of skildveld, en van kant tot kant. Wanneer dit in rooi op silwer of wit verskyn, word dit gewoonlik die Sint Joriskruis genoem (in Engels, cross of St George). In die vierde voorbeeld hieronder, is die veld na hermelyn verander, maar dit bly ’n Sint Joriskruis.
Die Sint Joriskruis kan ook in vlagvorm voorkom, soos in die helmteken van St Michael’s Church, Observatory. Hierdie helmteken het ook ’n tweede kruis: ’n knoppieskruis aan die hoof van die staf, en die wapenskild het ’n Griekse kruis van ’n ander aard: ’n bloue op Sint Michiel se oorkleed.
Die Griekse kruis kan op vele wyses gevarieer word, waarvan die eenvoudigste ’n wysiging aan die skeidslyn sal wees. Hierdie swart kruis (op die heraldiese linkerkant van die skild) is getand. Aan regterkand is ’n breedarmige kruis in goud; hierdie een het ’n verskerpte voet, wat die gebruik was waar ’n metaalkruis veronderstel was om in die grond ingeslaan te word, sodoende regop te staan.
Hier is ’n voorbeeld van die gelykarmige kruis – eintlik verskeie voorbeelde, want die goue veld van hierdie skild is met rooi gelykarmige kruisies besaai.
’n Variasie op die gelykarmige verkorte kruis is die herkruisde kruis, waar elke arm in ’n klein kruisie eindig. Die voorbeeld links is in goud op die blou veld, terwyl die helmteken regs ook ’n herkruiste kruis van goud aantoon.
’n Baie ou variasie op die verkorte kruis het die punte omgekrul soos wat gevind word in die metaal-montering wat op ’n meulsteen voorkom (waardeur die meulsteen aan die meule vasgemaak is). Dit word ’n meulkruis genoem, en die verskyn in die Middeleeuse wapen van die familie Uitenhage de Mist. Kommissaris-Generaal Jacob Abraham Uitenhage de Mist het sy familiewapen aan die Drosdy Uitenhage verleen, wat wyd gevoer word in daardie dorp. Uitenhage se meulkruis verskyn ook in die wapen van die Anglikaanse Bisdom Port Elizabeth (hierbo), maar met sy kleure omgeruil. ’n Meulkruis wat ietwat anders lyk kom voor in die wapen van die Laerskool Newtonpark in Port Elizabeth.
Miskien minder algemeen in Suid-Afrika is die Latynse kruis, waarin die afwaartse arm ongeveer tweemaal die lengte is as die ander drie arms (of selfs langer).
’n Variasie op die Latynse kruis is die patriargale kruis, waar ’n tweede dwarsbalk, korter as die hoofbalk, bo in die kruis verskyn. Dit is ’n korrupsie van die soort prosessie-kruis wat voor Oosters-Ortodokse patriarge gedra word, waarop die perkament met die bewoording “Jesus Nazarenus Rex Judæorum” (“Jesus van Nasareth, Koning van die Jode” – dit is die Latynse bewoording; dikwels is dit in Grieks) of “INRI” (die Latynse afkorting) na ’n tweede dwarsbalk omskep is.
’n Soort kruis wat langs die kus van Afrika bekend is, is die padrão, waarvan verskeie op prominente punte deur Portugese ontdekkers geplaas is om hul reise te herdenk, om die Christelike Geloof te verkondig en om die gesag van die Portugese koning te simboliseer. Die wapen van die huidige Rooms-Katolieke biskop van Port Elizabeth sluit die “padrão de São Gregorio” in wat in 1488 deur Bartolomeu Dias te Kwaaihoek opgerig is.
’n Soortgelyk monumentele kruistipe, wat algemeen in Skotland en Ierland voorkom, is die Keltiese kruis. Die Bisdom van Sint Johannes is deels deur die Episkopale Kerk van Skotland gestig, en die nuwe Bisdom Umzimvubu, wat in 1991 uit die ou Sint Johannes-bisdom gevorm is, toon so ’n kruis.
Baie seldsaam in die heraldiek is die eenvoudige, rowwe houtkruis. ’n Nuwe voorbeeld (tesame met ’n groot getal klein kruisies, wat ’n veld opmaak wat met kruisies besaai is) verskyn hieronder in ’n wapen wat in 2001 geregistreer is.
Draai jy ’n kruis skuins, word dit ’n saltier of skuinskruis. Dit is veral bekend van die vlag van Skotland – waar dit ’n Sint Andrieskruis genoem word – maar word ook dikwels in Suid-Afrikaanse wapens gevind. Twee voorbeelde is in die wapen van St Andrew’s College, Grahamstad, en die wapen van die Viljoen-familie.
Terug na bo
Terug na temas-indeks
Terug na Armoria-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle