Armoria patriæ
http://www.oocities.org/haigariep

iRiphabliki wase Transkei

Republiek Transkei

volkere, taal en geskiedenis

Transkei

Die wapen van Transkei, deur die Staatsheraldikus geregistreer en 25 September 1970 in die Staatskoerant van Suid-Afrika gepubliseer, mag so geblasoeneer word:

Wapen: Kepergewys gesny van oker en groen, daaroor ’n swaelstert keper tussen bo regs ’n mieliestronk en bo links ’n tandrat, alles van silwer, en onder ’n aansiende bulkop in sy natuurlike kleure.

Helmteken: Op ’n groen grond ’n rietmandjie tussen twee aalwyne in hulle natuurlike kleure.

Skildhouers: Twee luiperds in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Imbumba yamanyama.

Wapen verduidelik:
Die kleure is buitengewoon – behalwe vir die wapens van Transkei en die University of Transkei, weet ek slegs een ander ander instansie waar oker in die heraldiek gebruik word, naamlik die wapen van Australië se Northern Territory. Die keuse is egter doelbewus en paslik.

Oker, in isiXhosa ibovu genoem, is die tradisionele kleur van die amaXhosa en word gebruik om die gesig mee te merk – vir spesiale merke op die gesig alleen of op gesig en bolyf, en ook vir ’n gesigsdekking om van die son te be skerm.

Oker word veral deur pas besnyde jong mans gebruik om aan te dui dat hulle so pas oorgegaan het van seunwees tot die status van amadoda (mans). Vir ’n tyd lank ná hul bywoning van ’n besnydingskool (waartydens hulle as abaqwetha bekend gestaan het), besmeer ’n nuwe indoda (man) sy hele gesig met okerkleurige klei, behalwe vir openings om sy oë, neusgate en mond.

Die klei wat in Pondoland gevind word, umcuko genoem, is wit van kleur, dus is daardie kleur ewe belangrik.

Waar klei vir ander soorte versier gebruik word, work alle soorte kleurmiddels deesdae gebruik (dikwels grimering), maar die tradisionele oker en wit wat gebruik word is klei.

Groen is die kleur van die heuwels van Transkei.

Die kleure groen, wit en oker het ook in die Transkeise vlag verskyn.

Die mieliestronk simboliseer die tradisionele landbou van die volkere van Transkei. Die mielie (Zea mays) is die graangewas wat oor die grootste deel van Suider-Afrika gekweek word. Alhoewel hierdie plant sy oorsprong in die Amerikas het, is dit deur die Portugese na Afrika gebring en is in verskeie dele deur Bantu-sprekende groepe in Suid-Afrika gekweek voor die aankoms van blanke setlaars. Onder die amaXhosa is die kweek van gewasse die werk van vroue, dus is dit opmerklik dat hierdie simbool die voorste posisie (regs bo) geniet.

Die tandrad staan vir industrie – die droom dat nywerhede in ’n onafhanklike Transkei sou floreer. In ’n sekere mate het dit, gedurende die 18 jaar van Transkei se “onafhanklikheid”, maar dit het op ’n einde gekom toe die Suid-Afrikaanse subsidies wat dit moontlik gemaak het, onttrek is. En selfs in daardie tydperk was dit nie die staatmaker van die Transkeise ekonomie, en ook nie deurgaans produktief nie.

Die bulkop (waarna ook as ’n oskop verwys word) wys nie net op veeteelt as ’n belangrike beroep onder die plattelandse bevolking van die Xhosa-sprekende stamme nie, maar onderstreep ook die beduidenis van beeste in hulle tradisionele kultuur. Dit simboliseer glo ook die ontwikkeling van die samelewing.

Die rietmandjie in die helmteken word gebruik om graan te stoor; dit simboliseer die wysheid daarin om deel van die opbrengs te bêre as voorraad vir honger tye. Hierdie artefak is uniek tot die Suidelike Nguni.

Die aalwyne is tipies van die flora van Transkei. Dit word nie genoem watter spesie dit is nie, maar dit is hoogs waarskynlik Aloe ferox, ’n skouspelagtige soort wat in die natuur gevind word vanaf Wes-Kaap tot in KwaZulu-Natal, en sover van die Transkeise kus as Lesotho. ’n Ander aalwynspesie, A reynoldsii, word slegs in Transkei gevind, maar dit het geel blomme, die bloeiwyses is meer bossig, en die blare het geel spikkels. A ferox verskyn ook in die wapen van die Provinsie Oos-Kaap.

Die helmteken sluit ook gras in, wat die element van groen (vir die heuwels van Transkei) van die skildbasis en die grond waarop die skildhouers staan, herhaal.

Die luiperds (Leo pardus) verteenwoording ook kapteinlike gesag: dit is tradisioneel in Suider-Afrika dat slegs kapteins en konings luiperd mag jag, en slegs kapteins en dié wat spesiale voorrang geniet, mag luiperdvel dra. Luiperds is ook as skildhouers deur Ciskei en Bophuthatswana gebruik.

Die leuse, Imbumba yamanyama, beteken “Eenheid is sterkte” – dit is ’n vertaling in Xhosa van die leuse van Suid-Afrika (in die wapen van 1910).

Volkere, tale en geskiedenis:
Die naam Transkei dui daarop dat dit die tuiste is van volk wat “anderkant” – weg van Kaapstad – die Kei- of Ncibarivier woon.

Die volkere van Transkei is hoofsaaklik abeNguni, alhoewel Sotho-sprekende groepe aan die voet van die Drakensberg ook gevind word. Die geskrewe taal van die Suid-Nguni is isiXhosa (kyk Ciskei vir ’n verduideliking hiervan).

Die vroegste betreding van die Transkei-gebied deur Nguni-sprekers is geskat op die jaar 1300; voor dit was die gebied deur die Boesmans[1] bewoon (hulle was jagter-vergaarders); asook die naby verwante Khoikhoi,[2] wat vee aangehou het. Die presiese verhouding tussen die Nguni wat hulle in die Transkei-gebied gevestig het en die Khoikhoi wat hulle vervang het, is onbekend, maar dit is wel bekend dat die abeNguni sonder vee in Suider-Afrika aangekom het, en dat hulle van die Khoikhoi beeste, en ’n vee-verbonde taal en kultuur, verkry het.

Die Suidelike Nguni toon ook ’n sterk trek van herkoms van die Khoisan: bloedserumtoetse dui daarop dat terwyl alle Bantu-sprekende groepe van Neger- (Wes-Afrika)-herkoms is, die Suidelike Nguni of Xhosa-sprekende stamme die hoogste proporsie Khoisan-herkoms toon: ongeveer 60%. Slegs een ander Bantu-sprekende groep, die Tswana-sprekende Bakgalakgadi van Botswana, het Khoisan-herkom op hierdie hoë vlak.

Die Transkeise volkere het in 1879 die eerste maal hulle onder Britse gesag gevind, toe Fingoland (met inbegrip van die sending-nedersettings van Butterworth en Idutywa) tot die Kaapkolonie geannekseer is. (Vir nadere inligting oor die amaMfengu of Fingo, kyk Ciskei.) Griekwaland-Oos, wat later vir ’n bepaalde tyd deel sou vorm van die Transkeian Territories maar wat die tuiste was van die Griekwa[3] van Adam Kok III, is tegelykertyd geannekseer.

10 November 1882 het die munisipaliteit Umtata aan die regteroewer (westekant) van die Mthatharivier tot stand gekom. Die proklamasie van die munisipaliteit het skielik gebeur, want ’n militêre pos is slegs enkele maande van tevore daar gestig. Maar dit was reeds duidelik dat dit ’n ideale neutrale posisie tussen die abeThembu en die amaMpondo was. Die onderskeidelike hoofde van hierdie twee stamme het hierdie feit so lank terug as 1869 erken deur om aan koloniste voorregte toe te staan sodat hulle hulself langs die rivieroewers kon vestig. Die dorp het die setel van ’n magistraat geword en die sentrum van administratiewe beheer oor die gebied.

In 1884 het die Kaapkolonie en Natal tegelykertyd die strategies belangrike riviermonding van Port St Johns geannekseer. Natal het later teruggestaan, en die gebied het deel geword van die Kaapkolonie.

Tussen 1884 en ’86 het die Kaapkolonie ook Galekaland (Willowvale-distrik; die land van die Gcaleka Xhosa; kyk Ciskei), Bomvanaland (die land van die amaBomvana), Tembu­land (Kentani-district; die gebied wat deur die abeThembu bewoon is toe hulle eers met die Britte kontak gemaak het) en Emigrant Tembuland (die distrik Glen Grey, bewoon deur abeThembu wat die gebiek binnegekom het). Al hierdie anneksasies was van grond wes van die Mthatharivier; Glen Grey het egter nie voor 1975 van Transkei deel geword nie.

In 1887 het die Kaapse Parlement ’n Wet deurgevoer wat twee parlementêre setels in Transkei geskep het, maar wat stambesit as stemkwalifikasie uitgesluit het. Die Wet is deur die Hoë Komissaris en die Kantoor vir die Kolonies aanvaar op grond daarvan dat die uitsluiting nie uitdruklik op ras gegrond is nie.

In 1894 is Pondoland (tuiste van die amaMpondo en die verwante amaMpondomise) tot die Kaapkolonie geannekseer. Dit het bestaan uit Wes-Pondoland, tussen die Mthatha- en Mzimvuburivier; en Oos-Pondoland, tussen die (bo)-Mzimvubu- en (bo)-Mtamvunarivier. Die gebied tussen die onder-Mzimvubu- en onder-Mtamvunarivier is reeds in 1866 deur Natal as Alfred County geannekseer.

Die anneksasie van elk van die distrikte van Transkei is gevolg deur die aanstelling van was magistrate of “agente” vir die geannekseerde gebiede. Die hoofmagistraat te Umtata het oor 27 magisteriële distrikte gesag gehad.

In 1894 het die Kaapse Parlement die Glen Grey-wet deurgevoer, wat voorsiening gemaak het vir ’n sisteem van inboorlingrade. Die eerste was die distriksrade van Butterworth, Idutywa, Nqamakwe en Tsomo (almal in 1895 geskep). Hierdie vier rade is byeengebring in die Transkei General Council, wat te Butterworth sitting gehad het. In 1899 het Kentani (soos dit toe gespel is; die spelling is sedertdien verbeter na Centane) deel geword van die stelsel, en in 1903 is die sewe distrikte van Tembuland en Griekwaland-Oos ook aangesluit (Griekwaland-Oos onder die naam Emboland).

’n Verdere verandering in 1903 is dat die oorkoepelende liggaam nou die Transkeian Territories General Council genoem is.

In 1911 is die raadstelsel, in gewysigde vorm, uitgebrei na die distrikte Libode, Ngqeleni en Port St Johns, wat gesamentlik as Wes-Pondoland bekend gestaan het, en die liggaam wat so gevorm is het as die Pondoland General Council bekend gestaan. In 1927 het die distrikte van Oos-Pondoland (Bizana, Flagstaff, Lusikisiki en Tabankulu) die stelsel in gebruik geneem en is onder die jurisdiksie van die Pondoland General Council ingesluit.

Vanaf 1 Januarie 1931 is die Transkeian Territories General Council en die Pondoland General Council saamgevoeg om die United Transkeian Territories General Council te vorm. Hierdie raad is jaarliks deur die hoofmagistraat van die Transkeian Territories (die voorsitter) te Umtata byeengeroep.

Die algemene raad (wat as die Bunga bekend gestaan het) het ’n uitvoerende komitee gehad van vier magistrate en vier swart lede van die Bunga.

Die Bunga se prosedure was min of meer parlementêr in vorm, maar is op Westerse metodes geskoei. Tradisionele wette en gebruike het daar geen plek gehad nie.

Toe die Wet op Bantu-Owerhede in 1951 gepasseer is, was dit nie in Transkei van toespassing nie, omdat die raad-sisteem reeds daar gefungeer het. In November 1955 het ’n komitee van die Bunga egter voorgestel dat “Bantu-owerhede” soos wat in die Wet voorgestel is, die raad-sisteem sou vervang. Dit het onder Proklamasie No 180 van 1956 effektief geword. Hierdie proklamasie het voorsiening gemaak vir die afskaf van die General Council en sy 26 distriksrade en vir die stig van ’n territoriale owerheid en streeks-, distriks- en stam- of gemeenskapsowerhede.

Die Wet op Bevordering van Bantu Selfregering van 1959 het voorsiening gemaak vir die ontwikkeling van selfregerende nasionale eenhede, wat as tuislande bekend gestaan het, en vir die aanstelling van ’n kommissaris-generaal vir elke eenheid.

Dit moes teen hierdie stadium vir die Suid-Afrikaanse Regering duidelik gewees het dat twee aparte “nasionale” eenhede vir die Suidelike Nguni onlogies was, veral omdat hulle die hooftakke van die Xhosa-stam geskei het en ook die amaMfengu in twee gedeel het. Transkei en Ciskei het egter apart voortgegaan.

Eie Grondwet:
In 1963 het die Suid-Afrikaanse Parlement die Wet op die Transkei-Grondwet deurgevoer.

Hierdie grondwet is deur ’n komitee van die Gebiedsowerheid opgetrek (wat, soos sy voorganger, as die Bunga bekend gestaan het, en wat in dieselfde gebou in Umtata gesetel is). Hierdie grondwet het voorsiening gemaak vir ’n Transkeise vlag, wat langs dié van Suid-Afrika gehys sou word, ’n volkslied (Nkosi Sikelel’ iAfrika) en vir Xhosa, Engels en Afrikaans as ampstale. Transkeise burgers sou hulle Suid-Afrikaanse burgerskap behou.

In 1975 het die Gebiedsowerheid die aanbod van “onafhanklikheid” van Suid-Afrika aanvaar.

Noue verbintenisse tussen die abeThembu van die distrik Glen Grey (die Emigrant Tembu) en die res van die Thembu-volk (in Transkei) het in Desember 1975 gelei tot die oorhandiging van beide Glen Grey en Herschel aan Transkei. Groot getalle stamlede uit beide Herschel en Glen Grey het egter geweier om in Transkei ingelyf te word, en het verplasing na die distrik Queenstown aanvaar.

Blanke grondeienaars in Transkei is in hierdie tydperk uitgekoop, met die oog daarop om te sorg dat Transkei uitsluitlik ’n swart staat sou wees.

Griekwaland-Oos is egter nie in die beoogde onafhanklike Transkei ingesluit nie, en reëlings is getref vir die oorhandiging daarvan aan Natal, aangesien Transkei dit van die Kaapprovinsie sou afsny.

’n Volle lys kan nou gegee word van die inheemse volkere van Transkei kan nou gegee word: Gcaleka, Ngqika (altwee vertakkinge van die Xhosa-volk), Thembu, Jumba, Mfengu, Bomvana, Khonjwayo, Qwathi, Mpondomise, Bhele, Mpondo, Ngutyana, Zizi, Tshangase, Nci, Xesibe, Bhaca, Ntlangwini en Hlubi (al hierdie groepe Nguni-sprekend of van Nguni-herkoms); sowel as Tlokwa, Kwena en ander nie-spesifieke Sotho-sprekers onder die Drakensberge.

Die “onafhanklike” staat:
Transkei het 26 Oktober 1976 sy “onafhanklikheid” geneem – die eerste Suid-Afrikaanse tuisland wat so gemaak het.

Hierdie onafhanklike status is egter deur geen ander land buite Suid-Afrika erken nie, en die beste internasionale erkenning wat Transkei of enige van die ander drie “onafhanklike” state ontvang het, was die lys van hulle posseëls in die Stanley Gibbons-katalogus.

Dwarsdeur sy bestaan het Transkei staatgemaak op subsidies uit Suid-Afrika, en die vier “onahfhanklike” state het die Suid-Afrikaanse Regering se angs uitgebuit deur buitensporige uitgawes op surplus personeel en op die leierskap en hulle projekte.

Soos die ander drie “onafhanklike” tuislandstate, het dit 27 April 1994 opgehou om te bestaan. Transkei het nou deel geword van die Provinsie Oos-Kaap.



[1] Die term Boesman was oorspronklik ’n skelterm, en is afgelei van die Nederlandse Bosjesmannen: dit het gedui op die rowwe skuilings wat hierdie Steentydperk-mense opgerig is. Dit het mode geword om hulle San te noem, aangesien hierdie term deur die Khoikhoi gebruik is. Dit is egter ook ’n skelterm, en impliseer dat die Boesmans “amper diere” was. ’n Konferensie van oorblywende Boesmanbendes het in 1995 in Windhoek besluit om hulle etniese groep Bushmen te noem.

[2] Die Khoikhoi, wat voorheen as Hottentotte bekend gestaan het, was ’n groep wat onder die Tshu-Khwe Boesmans van die huidige noordelike en noord-oostelike Botswana en die Caprivi-strook ontstaan het. Hulle het blykbaar vee, en ’n kultuur van vee-aanhouding, van ’n Niloties-sprekende groep ontvang; hierdie groep het sedertdien óf uitgesterf óf is in ’n Bantu-sprekende groep geabsorbeer. Die ontvangs van vee was blykbaar iewers tussen die begin en die einde van die eerste Christelike millennium; daarna het die Khoikhoi suidwaarts met hul vee getrek.

[3] Die Griekwa was ’n Afrikaanssprekende Khoikhoi-groep, wat in die kusgebied benoorde Kaapstad hul oorsprong gehad het. Teen die middel-19de eeu was hulle langs die Oranjerivier gevestig. Slegs die afdeling van die Griekwa onder leierskap van Adam Kok III het die trek oor die Drakensberg meegemaak en hulle in Griekwaland-Oos gevestig (kyk Oranje Vrij Staat).


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bron: Die Standaard-Ensiklopedie van Suider-Afrika, onder andere bronne.

  • Skandering deur Howard Lancaster.


    Terug na Bantustans-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle