Zuid Afrikaansche Republiek (Eerste
Republiek)
Dit was nie voor 13 Februarie 1858 dat die Trekkers noord van die Vaalrivier (wat in 1852 as onafhanklike staat erken is) ’n voorstel vir staatsimbole aanvaar het nie. Die besluit van daardie datum is deur die Committee Raad geneem, en is dit aan die Volksraad voorgestel dat dit ’n vlag en ’n rudimentêre wapen in gebruik neem.
Die 18de het die Volksraad hierdie voorstelle formeel aanvaar.
Die wapen is losweg beskryf, en Brownell[1] gee die bewoording (wat in ongeletterde Nederlands geskryf is) in Engels. Volgens my vertaling is dit:
Op ’n silwer veld sal daar geplaas wees ’n Wa en ’n Goue Anker, terwyl ’n Arend op die wapen sal rus. Aan die regterhand van die Wapen ’n Man in volkskostuum, met ’n geweer en bykomstighede gewapen. Aan die linkerhand ’n Leeu.
Brownell skryf (my vertaling): “Die duistere beskrywing van die wapen het ruim veld oopgelaat vir verskeie interpretasies – en daar sou oor die daaropvolgende jare ’n wye verskeidenheid interpretasies wees.”
Die terme links en regs word in hul gewone nie-heraldiese betekenisse gebruik, dus is die Boer-krygsman aan heraldiese links en die leeu regs (kyk Wat is regs en links in ’n heraldiese wapen?).
Die vlag was die eerste verskyning van wat bekend sou word as die Transvaalse Vierkleur (drie horisontale panele van rooi, wit en blou, met ’n vertikale groen paneel aan die hyskant), alhoewel dit nie met daardie vlag identies was, aangesien dit op die groen paneel die inskrywing Eendragt Maakt Magt bevat het.
’n Eienaardige fei is ook dat geen daaropvolgende wetgewing van die ZAR ooit formeel òf die wapen òf die vlag gedefinieer het nie, dus alhoewel die Vierkleur (met uitsondering van twee relatief kort periodes) tot in 1902 die staatsimbool gebly het, en gewoonlik sonder enige inskrywing gesien is, het die bewoording in werklikheid volgens wet deel daarvan uitgemaak.
Die vlag is die eerste maal op Potchefstroom gehys.
Die leuse Eendragt Maakt Magt, alhoewel dit volgens wet as deel van die vlag gedefinieer is, het instede daarvan deel geword van die wapen. Dit is aan die wapen van die Nederlandse Republiek ontleen. Brownell skryf: “Daar is geen aanduiding dat die leuse ooit op die vlag verskyn het nie, en in plaas daarvan het dit ’n meer gepaste posisie gevind as toevoegsel tot die wapen.”
Die illustrasie wat hierbo verskyn het die eerste maal op 19 Julie 1867 verskyn – vreemd genoeg, met uitlating van die arend.
Brownell skryf verder: “. . . in die vroegste voorstellings van die wapen is dit getoon met slegs die skild en leuse terwyl – blykbaar na aanleiding van die voorbeeld van die Oranje Vrij Staat – dit vanaf 1869 met vlae weerskante van die skild gedrapeer verskyn het op die ZAR se eerste posseëls, en vanaf 20 Februarie 1872 op die wapenbeeld wat op die Staats Courant verskyn het. ’n Arend bo-op die wapen, soos in die Volksraadsbesluit voorsiening gemaak is, het gelyktydig met die vlae weerskante van die skild sy verskyning gemaak. Die anker is nou ook op ’n binneskild geplaas.”
Oor die arend skryf hy: “Tot in die laat 1890s, en op al die Groot Seëls van die Republiek, is die arend konsekwent voorgestel waar hy links[2] kyk, in teenstelling met die gewone heraldiese gebruik.”
Die leeu is lêend en in ’n posisie wat in Vastelandse Europese praktyk as normaal beskou word, daarin dat dit omgekeer is sodat dit na die middel van die skild gerig is. (In die Britse praktyk sou dit na heraldiese regs kyk, maar die ontwerpers het in elk geval geen konsep van heraldiese posisionering gehad nie.) In die tekening van 1867 is dit aansiende, maar in latere tekenings kyk dit na die middel van die skild.
En van die laaste president van die Eerste Republiek: “President T F Burgers was nie met òf die wapen òf die vlag tevrede nie, en in Oktober 1874 het hy die Volksraad ’n wysiging aan die wapen laat goedkeur, terwyl ’n nuwe vlag, gebaseer op die ‘Voortrekkervlag’, maar met die rooi skuinskruis wit omlyn, ook in plaas van die ‘Vierkleur’ goedgekeur is. Die ink was skaars op hierdie verandering droog toe die Volksraad in Meimaand 1875, terwyl die President oorsee was, sy besluit omgekeer het en na die oorspronklike wapen en vlag teruggekeer het. Die nuwe skuinskruisvlag was egter as presidensiële vlag behou, maar het gou in onbruik geraak, want sommiges het gevoel dat dit te veel na die Union Jack geaard het.”
Die Groot Trek:
Terwyl die Groot Trek, die beweging tydens die laat 1830s van Boere vanuit die oostelike distrikte van Kaapkolonie, grotendeels in Transorangia (die latere Oranje Vrij Staat) en Natal plaasgevind het, het verskeie groepe Trekkers ook hulself noord van die Vaalrivier gevestig.
Die trekgroepe het meestal die roetes gevolg is deur kommissietrekkers, van wie slegs een, J Scholtz, die Vaalrivier oorgesteek het. Die trekgroepe van Hans van Rensburg en Louis Trichardt het albei ver noord gevaar, die Van Rensburg-trekkers lotvallig so, aangesien hulle deur siekte en inboorlingvolke afgemaai is nadat hulle die Limpoporivier oorgesteek het.
Trichardt het sover noord as die Zoutpansberg getrek voordat hy ook aan siektes en die aanvalle van inboorlingvolke geswyg het. Die oorlewendes van die trekgroep het in Delagoabaai bymekaargekom voordat hulle per skip na Port Natal gereis het.
In 1836 het Andries Hendrik Potgieter die noorde van Transorangia bereik, en deur ruilooreenkomste met die Taung-kaptein Makwana, het hy die gebied tussen die Vet- en Vaalrivier bekom. In Augustus daardie jaar, terwyl Potgieter self die Zoutpansberg verken het, het amaNdebele[3] onder bevel van Mzilikazi die voorhoede van sy groep in die Vet-Vaal-gebied aangeval. In Oktober, op die Slag van Vegkop, is die Ndebele teruggedryf, maar hulle het met al die Trekkers se lewende hawe weggekom. Met vee wat deur Moroka aan hulle geleen is, het hulle weer op die been gekom.
Potgieter het toe straf-ekspedisies teen die Ndebele in January en November 1837 gelei. In die strooptog van November is Mzilikazi se militêre kraal op Mosega vernietig, en Mzilikazi en sy leër is van die ou manne, vroue en kinders van sy stam afgeskei. Hierdie tweede groep het hul weg gevind na die omgewing van Bulawayo, in die huidige Zimbabwe, en het Mzilikazi en sy leër eers drie jaar later by hulle aangesluit.
Met die streek nou vry van Mzilikazi se aggressie – en met groot gedeeltes daarvan deur hom van hul vorige bevolking ontruim – het Trekkers noord van die Vaal inbeweeg.
Klerksdorp, in die weste, maak daarop aanspraak dat dit die oudste dorp is in die Transvaal-streek. Daar het 12 Trekker-families in 1837 langs die Schoonspruit hulle gevestig. Die nedersetting is na die eerste landdros, Jacob de Clercq, vernoem. Onder die naam Klerksdorp verskyn dit eers in 1853 op rekord, ’n jaar later as Potchefstroom.
Die hoofdorp in die weste is in November 1838 deur Hendrik Potgieter gestig. Die dorp, langs die Mooirivier, is aanvanklik Mooriviersdorp genoem, toe Potchefspruit, en in 1852 het Andries Pretorius dit Vryburg genoem. Maar die naam wat uiteindelik daarvoor gebruik is (in 1840 eers op skrif gestel) was Potchefstroom.[4]
Terwyl hy op Potchefstroom gebaseer was, was Potgieter ook Kommandant-Generaal van die Republiek Natalia.
Dit was op Potchefstroom wat die Drie-en-dertig Artikels, die eerste grondwet vir die staat benoorde die Vaal, opgetrek is, wat ook beskrywings van die wapen en vlag van die republiek (soos hierbo beskryf) opgetrek is.
In Junie 1845, nà die Britse anneksasie van Natal, het Potgieter van Potchefstroom weggetrek en hom op Andries-Ohrigstad[5] gevestig, aangesien hy geglo het dit is buite die bereik van die Cape of Good Hope Punishment Act, wat die Britse invloed in Afrika beperk het tot 25ºS. Hy het ook in oog gehad die vestiging van handelsverbintenisse met die buitewêreld deur Delagoabaai. Ander Trekkers uit Natal het daar by hom aangesluit.
Die nedersetting op Andries-Ohrigstad was egter noodlottig, want in die somer van 1848-49 is heelwat van die inwoners deur malaria dood. Gedurende 1848 het Potgieter verder noord beweeg, en hom aan die voet van die Zoutpansberg gevestig, waar hy ’n dorp gestig wat hy Zoutpansbergdorp[6] genoem het, terwyl verskeie van sy volgelinge verder suidwes geskuif het na Lydenburg.
Nà sy dood in 1852 het sy seun Piet Potgieter die titel kommandant-generaal aanvaar, wat dan met sy dood in 1854 aan Stephanus Schoeman oorgegaan het. Vier jaar later het hy die dorp na homself vernoem. Die dorp is 15 Julie 1867 ontruim weens oorlog met die vaVenda en is dieselfde nag afgebrand, en nie herbou nie.[7] Dit is vandag ’n geskiedkundige monument.
’n Vertakking van Ohrigstad was die nedersetting wat in 1849 eers 48 km suidwes daarvanaf beplan is, maar angesien hierdie plek sonder water was, is dit ook verlaat, en in 1850 is die dorp op die plaas Rietspruit gevestig, aan die samevloei van die Spekboomrivier[8] en die Sterkspruit. Dit is Lydenburg[9] genoem, en het die leidende dorp in die oos-Transvaalstreek geword.
Andries Pretorius, nà sy onsuksesvolle poging om op Grahamstad met Kaapse Goewerneur sir Henry Pottinger die saak van die Trekkers te bespreek, het in 1848 die Vaal oorgesteek en homself naby die Magaliesberg gevestig.
Deur Pretorius se pogings het die leiers van die verskeie Trekgroepe in 1849 op Derdepoort ontmoet en die Vereenigde Band gevorm, wat die eerste poging was tot die stigting van ’n nasionale regering in die Transvaalstreek.
In die verre suidooste het ’n groep Trekkers in 1852 hulle langs die Buffelsrivier gevestig in wat tans die noordelikste deel is van KwaZulu-Natal, maar destyds buite die Kolonie Natal. Andries Pretorius het hul optrede nie goedgekeur nie, want hierdie gebied het buite die geproklameerde grense van die “Transvaalse” republiek en miskien beskou sou word as indringing op Britse grondgebied, en sodoende die bestaan van daardie staat in die gevaar sou stel.
Die gemeenskap (wat hulself die Buffels Rivier-maatschappij genoem het) het in 1854 die Zulu-koning Mpande 100 vee gegee in ruil vir die grond wat hulle bewoon het. Hulle het Kommandant A T Spies as landdros verkies en ook vier heemrade, en het die ZAR genader in die hoop op inlywing. In 1855 het die ZAR J C Steyn as landdros en J C Klopper as kommandant erken, maar dit het effektief twee aparte gesagte in die gebied geskep.
In Februarie 1856 het die Spies-faksie, wat Lydenburg verkies het (Lydenburg is op hierdie stadium van Potchefstroom geskei), het die Volksraad aldaar genader in verband met inlywing. In Maart is ’n dorp langs ’n tak van die Buffelsrivier uitgelê (die tak word tans die Dorpsrivier genoem) en dit Utrecht[10] genoem. In 1858 het die Lydenburgse republiek vir Utrecht ingelyf.
Oor die republiek:
In 1852 het sir Harry Smith, Goewerneur van Kaapkolonie en Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, besluit om sy hande te was van verantwoordelikheid vir die verste van die Voortrekkergroepe.
Sir Harry het langs die Sandrivier, suid van die Vaal, met Trekker-verteenwoordigers ontmoet, en het 17 Januarie die Sandrivier Konvensie onderteken, “wat die Transvalers die vryheid gewaarborg het om hul eie sake te bestuur sonder inmenging van Haar Majesteits Regering”.[11]
Dit was ’n volle twee jaar voor die Bloemfontein Konvensie, wat dieselfde waarborg gegee het aan die Boere (hier beide Trekkers en Trekboere)[12] wat die Orange River Sovereignty bewoon het, wat toe die Oranje Vrij Staat geword het.
Beide state was tegnies onder Britse susereiniteit, maar in die praktyk is hulle aan hulle eie leiding oorgelaat.
A N Pelzer skryf in SESA (my vertaling): “In 1857, deur Andries Pretorius se seun, Marthinus Wessel, is ’n grondwet aanvaar vir die nuwe staat, wat amptelik bekend sou word as Zuid Afrikaansche Republiek, en voorsiening gemaak vir ’n wetgewer, die Volksraad, met ’n president en ’n uitvoerende raad.
“Selfs toe is eenheid nie dadelik of maklik verkry nie. Zoutpansberg . . . het die aanstelling van M W Pretorius as president nie goedgekeur nie, en het van die Republiek onttrek. Lydenburg, waar godsdienstige twiste die politiek geraak het, het ook gesedeer en ’n eie republiek gestig. Hierdie afvallighede het egter nie lank gehou nie. In Feb. 1858 is Schoeman en Pretorius versoen en die grondwet is weer bevestig, met Pretorius as president en Schoeman as kommandant-generaal.
“In 1860 het nie slegs Lydenburg nie maar ook Utrecht . . . tot inlywing saamgestem.”
In 1858 is Artikel 17 van die Grondwet gewysig om so te lees: “Potchefstroom sal die hoofstad van die Republiek wees en Pretoria die setel van regering.” Pretoria, wat op dié stadium weinig meer gehad het as ’n landdros wat besig was om die erwe op die perseel van die dorp te laat verkoop, was nietemin aan alle partye aanvaarbaar omdat dit nie die basis was van enige van die Trekgroepe nie, en mettertyd het dit by Potchefstroom oorgeneem.
Pelzer skryf verder: “M W Pretorius . . . was gretig om die Transvaal en die Oranje Vrystaat te amalgameer en, na twee onsuksesvolle pogings in in1856 en 1858, is hy uin 1859 ook as president van die Oranje Vrystaat verkies. Dit het tot groot verwarring gelei, en hy moes as president van Transvaal bedank. Tydens sy afwesigheid het daar tussen 1860 en 1864 onluste plaasgevind. Vrede is in laasgenoemde jaar herstel, toe Pretorius weereens as president van Transvaal verkies het en opgehou het om daardie posisie in die OVS te beklee, terwyl Paul Kruger kommandant-generaal van Transvaal geword het. Pretorius is in 1869 herkies.”
’n Grenstwis tussen die ZAR en die OVS in 1870 het daartoe gelei dat die Luitenant-Goewerneur van Natal, R W Keate, ten gunste van die ZAR beslis het. Maar toe Keate in 1871 weer gearbitreer het, hierdie maal oor die kwessie van die diamantvelde (die Kimberley-twis), het beide Boererepublieke hul aansprake verloor. Die gevolg is dat Pretorius sterk in die Volksraad aangeval is, en bedank het. Die grondwet is toe verander om toe te laat dat ’n buitelander verkies kon word, en is Thomas François Burgers, ’n predikant van die NG Kerk wat toe op Hanover in Kaapkolonie gestasioneer is, verkies.
Burgers was, skryf Pelzer, “’n man van verligte idees en het gou buite voeling geraak met etlike van die burgers”.
Aangesien hy graag ’n spoorweg vanuit Delagoabaai gebou wou sien, het hy na Europa gereis en met Portugal ’n handels- en vriendskapsverdrag gesluit.
Met sy terugkeer is hy verplig om oorlog te voer teen die Pedi-kaptein Sekhukhune, in ’n tyd toe die ZAR ’n tekort aan geld gehad het. Dit was egter nie slegs ’n geldtekort wat die Sekhukhune-veldtog beduiwel het nie. Beide Kruger en Piet Joubert het geweier om die veldtog te lei, en is Burgers verplig om self as hoofkommandeur in te staan, met M W Pretorius en Nicolaas Smit as generaals. Heelwat van die konserwatiewe burgers het vir Burgers as ketter beskou. Hulle het geweier om onder hom te dien, en eerder huiswaarts gekeer.
Pelzer skryf: “Alhoewel Sekhukhune vrede gevra het, was hy onoorwonne en dit, tesame met die karige finansiële posisie, het vir sir Theophilus Shepstone die voorwendsel gegee wat hy gesoek het om 12 April 1877 die Transvaalse Republiek as Britse kolonie te annekseer.”
Die republiek staan toe as Transvaal bekend.
[1] Hy skryf in National and Provincial Symbols and Flora and Fauna Emblems of the Republic of South Africa (Chris van Rensburg Publications).
Die boek is wel in Afrikaans uitgegee, maar ek het slegs ’n eksemplaar in Engels. Die oorspronklike Nederlandse teks van die blasoen het ek nie onder oë gehad nie.
[2] Heraldiese links, dit wil sê links soos van agter die skild gesien.
[3] Die term Ndebele (Nguni) of Mathebele (Sotho) is een wat algemeen gebruik word vir abeNguni in die Sothosprekende gebied. Die woord, afgelei van die woord thebele, verwys na mense wie se metode van oorlogvoering gedeeltelik bestaan het uit wegskram agter groot beesvelskilde (2 m tot 3 m hoog) terwyl die vyand lang spiese op hulle gewerp het.
Alhoewel dit verkeerdelik op Mzilikazi se groep toegepas is, aangesien hulle die taktiek van Shaka aangeneem het waar hulle met die assegai (die kort steekspies van die Zulu) en skilde slegs 1 m hoog geveg het, is die term nietemin van hulle gebruik en is dit deur hulle opgeneem in die naam Ndebele.
Dit het na verwarring gelei met die vroere Ndebele-groepe, wat voor die verskyning van Shaka reeds ’n eeu of twee lank in die Transvaal-streek gewoon het.
[4] In het 1853 ds Dirk van der Hoff so geskryf (my terugvertaling van die Engels): “Die amptelike naam is Potchefstrom. Die plek heet Pot-chef-stroom (ter ere van Potgieter as chef en geleë langs die Mooirivier).”
[5] Vernoem na Potgieter (Andries) en Georgius Gerardus Ohrig (*1806 †1852), ’n Amsterdamse koopman wat teenoor die Voortrekkers goedgesind was.
Die huidige dorp Ohrigstad is in 1923 gevestig, suidwes van die oorspronklike oord.
[6] Later Oude Dorp genoem, is hierdie nedersetting in 1855 Schoemansdal hernoem. Dit lê 16 km wes van die huidige dorp Makado (voorheen Louis Trichardt genoem).
[7] Nadat Schoemansdal vernietig is, is die inwoners vergoed met erwe in die dorp Pietersburg (tans Polokwane).
[8] Die Spekboom staan binne die dorp as Dorpspruit bekend.
[9] Die naam, wat in in 1848 eers gebruik is, is aanvanklik as Leidenburg (leidende dorp) geskryf, maar in ’49 het dit Lydenburg geword.
[10] Die dorp is na die stad en provinsie Utrecht in Nederland vernoem.
In 1903 was Utrecht een van drie distrikte van die ZAR (die ander twee was Vryheid en Paulpietersburg) wat as oorlogskadevergoeding aan die Kolonie Natal oorhandig is. Die distrikte is tot vandag toe deel van KwaZulu-Natal.
[11] Aangehaal uit National and Provincial Symbols.
[12] Trekboere was lank reeds deel van die leefwyse van Kaapkolonie; hulle is so genoem omdat hulle saam met hul vee getrek het om die beste weiding te vind.
Sedert vòòr die Groot Trek het Trekboere die kolonie se grens oorgesteek (eers in 1848 is dit langs die Oranjerivier vanaf Bethulie tot an die see neergelê), en later na die kolonie teruggekeer en daar hul belasting betaal. Op die lange duur het heelwat van hulle noord van die rivier aangebly. Die Boerebevolking van die suidelike Transorangia was predominant Trekboer, want die Voortrekkers het verder noord beweeg.
Erkennings: Illustrasie van wapen uit National and Provincial Symbols of the Republic of South Africa deur F G Brownell. Inligting oor wapen en vlag uit National and Provincial Symbols, geskiedkundige inliting uit verskeie artikels in die Standard Encyclopædia of Southern Africa (Nasou).
Terug na indeks van kolonies en republieke
Terug na Armoria patriæ-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle