Bewaar en bevorder die Hugenotegeskiedenis en -erfenis
Die Hugenotekruis
.
.
Nie lank ná die herroeping van die Edik van Nantes nie, het die Hugenotekruis as openlike bevestiging van die draer se geloof onder Hugenote in gebruik gekom.

Die kruis is geskep in die vorm van 'n Malteserkruis: vier gelykbenige driehoeke waarvan die tophoeke in 'n sentrale punt ontmoet. Die buitepunte van die driehoeke is met knoppies versier. Die agt knoppies dui op die Saligsprekinge van Mattheus 5: 3-10. Onderaan die kruis hang 'n duif met uitgespreide vlerke in afwaartse vlug, en versimboliseer die Heilige Gees. In tye van vervolging is die duif dikwels deur 'n pêrel, wat 'n traandruppel voorstel, vervang.

Die vier arms van die kruis word soms beskou as die heraldiese vorm van die vier blare van die Lelie van Frankryk ('n goudgeel iris, verteenwoordigend van die Moederland Frankryk) wat in water in die suide van Frankryk groei.  Die lelie is ook die simbool van reinheid, en die vier arms versimboliseer die vier Evangelies.

Die arms word verbind deur vier Fleur-de-Lis (links), elk met 3 blare; die totaal van twaalf blare van die vier Fleur-de-Lis verteenwoordig die twaalf apostels.  Tussen elke Fleur-de-Lis en die arms van die Malteserkruis word 'n hartvormige oop ruimte gevorm; die hart, as simbool van lojaliteit, herinner ook aan die seel van die Franse Hervormer, Johannes Calvyn.
Die wapen van die
Russiese afdeling van die
Orde van die Ridders
van St. Johannes van
Jerusalem (die Hospitalers)
.
Die Hugenotekruis is in 1688 deur ene Mystre van Nîmes ontwerp en vir die eerste keer deur hom vervaardig. Dit het 'n voorganger in die wapen van die Hospitaler Ridders van die Heilige Johannes van Jerusalem (sien afbeelding links vir die wapen van die Russiese afdeling van die orde), ook bekend as die Ridders van Malta, 'n godsdienstige en Kruisvaarder orde wat in die 7de eeu nC in Jerusalem gestig is. In 1308 beset hulle die eiland Rhodos na die ineenstorting van die Kruisvaarderstate, en in 1530 stig die orde die Ridders van Malta nadat Rhodos deur die Ottoman Turke verower is. Hulle het vir 4 eeue op Malta gewoon, vandaar die naam Malteserkruis. (Die Malteserkruis word algemeen met vuur geassosieër, en is die simbool van beskerming van vele brandweer organisasies).
Die Ordeteken van die Orde
van die Heilige Gees
(Chevaliers du Saint Esprit)
wat koning Hendrik III in
1578 gestig het.

Ander voorgangers van die Hugenotekruis sluit in die sogenaamde Languedoc-kruis, en die ordeteken van die Orde van die Heilige Gees wat Hendrik III op 31 Desember 1578 gestig het (sien afbeelding bo regs). Dit was die mees eksklusiewe orde in Frankryk tot 1789. Lede van die orde - wat die adellui ingesluit het - aan wie die Kruis van die Heilige Gees toegeken was, was bekend as die "Cordon Bleu" (blou lint), aangesien die kruis aan 'n blou lint gehang het. Die spoggerige etes wat die toekenningsgeleenthede gekenmerk het, het legendaries geword, en die "Cordon Bleu" toekenning vir uitmuntende kookkuns het sy naam hieraan ontleen.

'n Romantiese (ofskoon onbevestigde) verhaal van die oorsprong van die Hugenotekruis word dikwels vertel van vier Hugenote egpare wat in die huwelik in Cavennes verbind sou word, toe die gevreesde Franse Dragonders opdaag. Die aanwesiges het almal gevlug, maar twee van die huwelikspare is gevange geneem en voor die keuse gestel: versaak julle Protestantse geloof, of word verbrand op die brandstapel. Hulle het geweier om hul geloof te verwerp, en al vier is (binne sig van mekaar) elk op 'n brandstapel verbrand terwyl hul psalms gesing het. Terwyl hulle sterf, het 'n duif ten hemel gevaar.

'n Metaalwerker van Nimes het 'n medalje ontwerp om die gebeurtenis te herdenk. Die kern bestaan uit die Maltese kruis, die middelpunt waarvan bestaan uit 'n sirkel, wat verwys na die vlamme wat die egpare verenig het. Die ruimte tussen die arms is gemaak in die vorm van 'n hart, wat herinner aan die liefde van die twee jong egpare wat, getrou aan hul geloof, op hul huweliksdag op die brandstapel moes sterf.

Die Hugenotekruis, met sy ryke simboliek, word dikwels gedra deur afstammelinge van die Hugenote, en word algemeen opgemerk by Hugenote byeenkomste.


.

Navrae oor die beskikbaarheid van die Hugenotekruis in lapelwapen of hangertjie formaat kan gerig word aan:
Die Hugenote Gedenkmuseum
Posbus 293
Franschhoek 7690
Suid-Afrika
Tel:(27)(21)876-2598     Faks: (27)(21)876-3649
E-pos: hugenoot@museum.co.za
Alle teks en afbeeldings op hierdie webwerf is © Kopiereg 1998: Hugenote Vereniging van Suid-Afrika

<xmp>