‘St George and
Merrie England!’
deur Mike Oettle
DIE almanak-inskrywing vir 23 April lees: “George,[1]
Martelaar, 4de eeu.” Dis ’n eienaardige oorblyfsel as ’n mens dink dat die
Rooms-Katolieke Kerk hierdie datum uit sy universele almanak laat verdwyn het
op grond daarvan dat Joris meer ’n legende is as ’n egte heilige. [2]
Tog sal ’n bietjie kennis oor hom nuttig wees aangesien hy die
beskermheilige is van Engeland[3] – en dus ook van die Kerk
van Engeland en, op ’n manier, van die Anglikaanse Kommunie – asook van
Portugal, Aragon en ’n aantal Italiaanse en Griekse stede en dorpe waaronder
Padua en Mantua, asook enkele sentrums in Duitsland. En in die meester van
hierdie plekke is 23 April steeds Sint Jorisdag.
Inligting oor hom is moeilik bekombaar – die Encyclopædia Britannica
et twee paragrawe, en my dik Kerkgeskiedenisboek nie ’n enkele woord nie – ek
het hom uiteindelik in ’n Victoriaanse boek, Curious Myths of the Middle
Ages deur eerwaarde Sabine Baring-Gould gevind. (Hy was ’n eksentrieke
kêrel en was hy toevallig ook die skrywer van Onward, Christian Soldiers!)
Volgens hierdie meneer word Joris gewoonlik geneem vir die ongenoemde martelaar
wat die Kerkgeskiedskrywer Eusubius genoem is, ’n soldaat wat in 303 nC in die
openbaar ’n edik van die keiser Diocletianus (285-313 nC aan bewind) teen die
Christelike kerke in Nikomedia.[4] Die betoger is dadelik
tereggestel.
Sy gewildheid het gou gegroei – en ongelukkig ook die lys fantastiese
wonderwerke wat aan sy naam gekoppel is. In die kerke van die Midde-Ooste word
(of altans is) dit geglo dat hy sewe maal gedood is, en elke maal wonderbaarlik
weer herstel het – dit is blykbaar ’n verchristening van die ou Semitiese mite
van die god Tammoez. Die Joris van die sewe wonderwerke word ook in die Islam
vereer, onder die naam Gergis of El Goedi.
Aan ons beter bekend is die stel legendes wat uit ’n Indo-Europese mite
ontleen is, waarin Joris betyds aankom om ’n prinses te red wat (teen haar
koninklike vader se wil) ter dood veroordeel is om ’n draak se lus vir mensvleis
te bevredig. Joris het, word dit vertel, die draak met ’n spies of lans gedood
en toe òf dit dadelik onthoof òf, andersins, het hy die meisie sy lyfbank as
halter gebruik, dit na haar vader gelei en dit dan in sy teenwoordigheid
onthoof.
Dit is blykbaar hierdie legende wat veral gewild was onder ridders wat uit
die Kruistogte teruggekeer het, wat ’n verduideliking sou wees vir Joris se
aanname as beskermheilige op soveel plekke in Europa. So vroeg reeds as 1098 is
hy die eer toegeskryf dat hy die Franke gehelp het tydens die Slag van
Antiochië, en – as soldaat – wat by blykbaar altyd ’n heilige wat leërs gehelp
het om veldslagte te wen.
Engeland se beskermheilige onder die Noormanne en vroeë Plantaganets was
ironies ’n Sakserkoning, Eduard die Belyder (1042-1066 op die troon). (’n
Vroeëre koning Edward [in 978 martelaar] word ook as heilige onthou.) Joris
het eers in 1348 ingekruip as beskermheilige van die Orde van die Kousband
(Order of the Garter) onder Edward III. (Joris was vroeër reeds ook beskermheilige
gemaak van ’n Oostenrykse ridderorde.)
Die jaar daarop, word dit vertel het Edward tydens die beleg van Calais
skielik sy swaard uitgetrek het en uitgeroep: “Ha! Saint Edward. Ha! Saint
George!” Volgens Thomas van Walsingham het hierdie woorde “in sy soldate die
gees ingegee het, en hulle het met forsheid op die Franse geval en hulle op die
vlug gejaag”.[5] Van toe af
was Joris Engeland se lieflingsheilige, en pous Benedictus XIV het hom as
Engeland se beskermheer uitgeroep.
Die bloedrooi kruis van Sint Joris is nou ook met Engeland geassosieer. Dit
was nie altyd Joris s’n nie: die Aartsengel Michiel het blykbaar eers sy weg in
die heraldiek gemaak, as ridder in silwer pantsering met ’n rooi kruis op sy
skild, oorkleed en banier, waar hy simbolies die Duiwel in die vorm van ’n
draak doodmaak. Hierdie beeld is egter ook na Joris oorgedra, en verskyn dit in
die regalia van die Order of the Garter.[6]
Dit was in daardie tyd die gebruik om, bo en behalwe die koning se
wapenbanier, ’n wapenvlag te gebruik, dikwels een met ’n kruis daarop. Verskeie
sulke kruisbaniere is deur pouse gepresenteer, en een wat dwars oor die
eermalige Heilige Romeinse Ryk upduik, is die wit kruis op rooi van die Ryk –
dit is selfs die oorsprong van die Deense vlag, wat Dannebrog genoem word, en
die Switserse vlag. Totdat Joris op die toneel verskyn het, was Engeland se
wapenvlag ’n wit kruis op blou, maar dit is met Sint Joris se rooi kruis
vervang – huidiglik die sentrale element in Brittanje se Union Jack. (Die wit
kruis op blou is deur Frankryk oorgeneem, en is dit vandag [met wit lelies
bygevoeg] die vlag van Franssprekende Quebec.)
Die kruis van Sint Joris was egter nie slegs ’n vlag nie. Terwyl elke
ridder en edelman sy heraldiese wapen gehad het, het nie almal onder hulle ’n
livreikleed gehad waarmee hul krygsmanne aangetrek is nie, en soldate sonder
livreikleure sou die landskruis as oorkleed dra toe hulle vir die koning geveg
het: dus het die Engelse soldate in wit oorklede met rooi kruis gemarsjeer of,
indien hulle livrei gedra het, met wit armbande waarop ’n rooi kruis gestaan het
(heeltemal anders in betekenis van vandag se Rooikruis-embleem). ’n Mens wonder
of hierdie “rooikruisleër” miskien die inspirasie was vir Onward Christian
Soldiers.
Terwyl die gekombineerde kruise van Sint Joris, Sint Andries en “Sint
Patrick”[7]
die eenvoudige Sint Joriskruis vervang het as Brittanje se landsvlag, is die
rooi kruis steeds die gebruiklike vlag om by ’n Engelse kerk te hys. Die rooi
kruis word ook gevind in die heraldiese wapens van Anglikaanse kerke dwarsoor
Engeland en die wêreld om. Die kompasroos-embleem van die Kerk van die
Provinsie van Suider-Afrika het in sy middel ’n silwer (of wit) skild wat
hierdie kruis en die letters CPSA dra; en die wapen van die bisdom Port
Elizabeth word ook op die Sint Joriskruis gebaseer.
Legende aldan nie, het Sint Joris op die Engelssprekende wêreld sy merk
oorgelaat.
Sluitingswoord: Terwyl Sint Joris se reputasie nog altyd dit was van ’n
krygsman, het sy naam heeltemal ’n ander betekenis: die Griekse naam Georgios (GewrgioV) beteken ’n boer, een wat
die grond bewerk. Die gewildheid van die naam George het blykbaar min met sy
betekenis te make nie: dit simboliseer Engeland, en het selfs meer gewild
geword aangesien dit die naam was van vier konings van Brittanje uit die Huis
Hannover en nog twee (van die Huis Windsor) gedurende die 20ste eeu. In Amerika
vereer dit dikwels George Washington.
[1] Die gewone Afrikaanse en
Nederlandse vorm van hierdie naam is Joris.
Maar die almanak wat ek
aanhaal is Anglikaans (Liturgie ’75), en in die Anglikaanse Kerk word hierdie
heilige veral met Engeland verbind, blykbaar dus die Engelse naamvorm.
[2] Dit hoef egter gemeld te word dat die
Rooms-Katolieke almanak vir Engeland en Wallis Sint Jorisdag as feesdag behou.
[3] Dit wil sê beskermheilige in die oë van beide
Anglikane en Katolieke.
[4] Hierdie dorpie naby die Bosporus, tans Izmit
genoem, was onder Diocletianus en Konstantyn die hoofstad.
[5] Walsingham berig dat die woorde “instilled spirit in his soldiers and they fell with vigour on the French and routed them”.
[6] Die beeld van Sint Joris
wat die draak doodmaak het op die das verskyn van ’n Port Elizabethse
“gentlemen’s club”, die St George’s Club, verskyn. Sedertdien het hierdie klub
met die Port Elizabeth Club verenig. Ander inrigtings het ’n soortgelyke
gebruik.
[7] Sint Patrick was geen martelaar nie, en het dus geen kruis nie – maar toe die Union Jack van 1801 uitgedink is, is dit besluit dat ’n derde kruis tot die bestaande Unievlag toegevoeg sou word. Die rooi skuinskruis op wit is van die Fitzgerald-familie geleen (’n heel ironiese ontlening, aangesien die Fitzgeralds oorspronklik Anglo-Normaanse veroweraars was), en ook van ’n Unionistiese broederorde, die Order of St Patrick, om Ierland voor te stel.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Skryf vir my: Mike Oettle