Doep, dop en Richelieu
deur Mike Oettle
NUUSBERIGTE ’n ruk terug oor ene Richelieu du Plessis het my aandag op hierdie Suid-Afrikaanse familie gevestig.
“Doep” is ’n bekende bynaam vir
enige Du Plessis, Du Preez of selfs Du Pisanie. Maar waar kom hierdie Richelieu vandaan, sal jy miskien vra? Het die ou se pa te veel brandewyn gedrink?
Nouja, eers die “Du”-storie – in die Middeleeue het adellikes bekend gestaan onder hulle voornaam plus die naam van hul landgoed.
’n Familie met verskeie besittings het soms verskillende “vanne” in verskillende landstreke gevoer, terwyl andere die landgoed van ’n voorouer steeds behou het as laaste naam, selfs in vreemde lande.
In Nederland is die voorvoegsel
“van” gebruik om die landgoed aan te dui, in Duitsland “von”, en in Frankryk
“de” of “du”.
In Engeland is óf “de” óf “of” gebruik – die Franse vorm weens die predominansie van Normandiese of Franse families in daardie land se adel ná 1066.
Die gebruik van so ’n voorvoegsel is nie ’n waarborg van adellikheid nie – veral in Nederland het baie families die adel uitgetart met “Van”-voorvoegsels toe hulle deur die rewolusionêre Franse gedwing is om familiename te gebruik – maar in Frankryk en Duitsland veral is dit gewoonlik wel ’n kenmerk van die adelstand.
In die geval van die Du
Plessis-familie van Suid-Afrika is daar wel ’n verbintenis – en wel ook met die kerkvors na wie die brandewyn vernoem is.
Die stamvader, Jean Prieur du Plessis, was familie van die hertoë van Richelieu, onder wie die bekendste die berugte kardinaal was: Armand-Jean du Plessis, eerste minister van koning Louis XVIII.
Die kardinaal se wapen verskyn bo-aan hierdie bladsy. Let op die (Franse) hertoglike kroon (wat sy adellike rang uitbeeld), die rooi kardinaalshoed met die tossels wat weerskante van die skild afhang (dit dui op sy hoë rang in die Kerk), die anker waaraan die skild hang (teken van sy vloot-rang as Admiraal van Frankryk), die hermelyngevoerde mantel agter, waarop die skildinhoud op die buitekant herhaal word (ook ’n teken van hoë adel), en die blou lint en geëmaljeerde goue juweel van die Franse en Rooms-Katolieke Orde van die Heilige Gees (Ordre du Saint-Esprit) – wat op sy beurt, ironies, verband hou met die Hugenotekruis.
Die Suid-Afrikaanse Du Plessis’s is nietemin geregtig op die kenmerkende en eenvoudige wapen (slegs die skild uit die illustrasie hierbo) wat die kardinaal gevoer het:
In silwer, drie kepers van rooi.
Cor Pama skryf dat sommige Suid-Afrikaanse Du Plessis’s hierdie basiese familiewapen varieer deur om die silwer veld na hermelyn te verander.
Ek het al selfs gehoor dat die hoof die Suid-Afrikaanse familie in die vroeë 19de eeu die erfopvolger tot die hertoglike titel geword het, en genooi is om terug te gaan Frankryk toe om die familie se landgoed oor te neem.
Ongelukkig het ek tot dusver geen bewys hiervoor gevind nie. Dit sou in elk geval nie direk nà die val van Napoleon gewees het nie, want daar was ’n hertog van Richelieu destyds wat ook eerste minister tot die koning van Frankryk was. Hy is in 1822 oorlede.
Maar dit wil vir my voorkom dat die Suid-Afrikaanse hoof van die familie daarop geregtig is om die enkelvoudige wapen te voer, en dat ander lede van die familie dit met breuke kan voer.
Ongelukkig is Pama, wat jare lank in Suid-Afrika die deskundige op die gebied van wapens was, onbehulpsaam, want hy maak geen verwysing na registrasies of verlenings nie.
Maar hy noem wel dat die Suid-Afrikaanse Du Plessis’s vanaf omstreeks 1933 so ’n wapen gevoer het:
In silwer, ’n rooi kruis, en ’n silwer hartskild belaai met drie rooi kepers.
Hy vertel dat dit die wapen is van die hertoë de Richelieu, maar die kardinaal het beslis nie die rooi kruiswapen gevoer nie – moontlik was dit dan die wapen van die latere hertoë.
In 1947, vertel hy, het die rooi kruis weggeval en het die familie slegs die drie kepers gevoer, maar met die skildveld as hermelyn, nie silwer nie.
Maar sy kleur-illustrasie van die wapen toon ’n silwer skild.
En dié wat die skooluniform van die Hoërskool Otto du Plessis ken, sal weet dat die skoolwapen die rooi kruis insluit.
As jy ’n Du Plessis is, doen tog ’n bietjie navorsing om jou posisie in die familie uit te ken, en skryf dan aan die Staatsheraldikus. Jou kanse is goed om die een of ander variasie op die drie kepers wettiglik te kan besit.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle