Die
Viljoen Stamouers
Die opstal van Idasvallei, Stellenbosch,
stamplaas van die Viljoens. Die huis is in die Kaap-Hollandse boustyl en
die huidige opstal is in 1787 deur Samuel Cats gebou.
Vir groter beeld, klik op afbeelding hierbo.
Stamouers
van die Viljoens
Francois Villion arriveer
in 1671 aan die Kaap van Goeie Hoop as 'n Hugenote vlugteling, afkomstig
vanaf Clermont, Frankryk. Sy beroep word aanvanklik aangegee as
"vry wagenmaker", en later as "Vryburger". Hy tree Kaapstad
op 1676.05.17 in die huwelik met Cornelia Campenaar, 'n jongmeisie
van Middelburg, Nederland. In 1682 ontvang hulle die plaas Idasvallei
vanaf Goewerneur Simon van der Stel, waar Francois Villion tot sy dood
in 1689 boer. Die van was aanvanklik "Villion" gespel (ook Villon),
en het later verander na die huidige spelling van Viljoen.
Dit is nie heeltemal seker
van welke Clermont in Frankryk Francois Villion afkomstig was nie,
aangesien daar 'n hele paar dorpe met dié naam in Frankryk is. Die
bekendste Clermont is 60 km noord van Parys in die provinsie Ile de
France, en dit word algemeen aanvaar as sy dorp van herkoms. Ongelukkig
is al die Protestantse kerkrekords gedurende die vervolging van die Hugenote,
na die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, vernietig. Daar is dus
geen dooprekords beskikbaar om na te slaan nie.
Francois Villion het reeds
voor die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, wat die grootskaalse
vervolging van Hugenote tot gevolg gehad het, uit Frankryk gevlug. Die
vervolging van die Franse Hugenote het egter reeds sedert 1610 in felheid
begin, en vele moes reeds voor die herroeping van die Edik van Nantes in
1685 uit Frankryk vir hul lewe padgee.
Die handtekening
van Francois Villion.
Francois Villion was welliswaar
die eerste Hugenoot wat hom permanent aan die Kaap kom vestig het. (Maria
de la Quellerie, die eggenote van Jan van Riebeeck en wat reeds
in 1652 aan die Kaap geland het om 'n nedersetting te begin, was ook 'n
Hugenoot; sy verlaat die Kaap met haar man in 1662). Ander vroeë Hugenote
aankomelinge (d.w.s. voor die georganiseerde grootskaalse verhuising van
1688/89) was die broers Francois en Guillaume du Toit in
1685.
Die grootskaalse vervolging
van Hugenote het in 1685 'n aanvang geneem, en het tot gevolg gehad dat
sowat 180 Hugenote in 1688/89 na die Kaap gevlug het. Groter getalle het
na Engeland, Amerika, Duitsland, Switserland, ens. gevlug.
Francois Villion het via
Nederland na die Kaap van Goeie Hoop in 1671 gekom. Dit word aanvaar dat,
terwyl hy in Middelburg (destyds 'n hawestad) op 'n passaat na die Kaap
gewag het, hy sy toekomstige eggenote, Cornelia Campenaar, aldaar ontmoet
het. Sy volg hom vyf jaar later na die Kaap, waar hulle in 1676 in die
huwelik bevestig is.
Uit die huwelik is ses kinders
gebore, waarvan vier in Kaapstad en twee op die stamplaas Idasvallei
by Stellenbosch. Twee seuns, naamlik Henning en Johannes Viljoen,
het die stamnaam voortgeplant. Toe die stamvader in 1689 oorlede is, is
sy weduwee Cornelia agter gelaat met ses kinders (van ouderdomme 12, 11,
7, 5, 3 en 1 jaar onderskeidelik), waarvan die jongste, Francina,
na die stamvader self vernoem is (en waarskynlik kort na sy dood gebore
is). As weduwee hertrou sy op 1690.04.14 met Wemmer Pasman, by wie
sy drie kinders het.
Volgende: Eerste
geslagte Viljoens:
Voorblad.
|