Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

HOËRSKOOL BRANDWAG, Uitenhage.

English blazon

Hoërskool Brandwag

Die wapen is blykbaar nie tans by die Buro vir Heraldiek geregistreer nie, maar is heel waarskynlik onder die Wet op Beskerming van Name, Uniforms en Wapens, van 1935, geregistreer. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Gesny, en die onderhelfte gedeel: 1. ’n Landskapuitsig oor die Hanekamberge; 2. In swart, ’n brandwag in sy natuurlike kleure; 3. In rooi, ’n oop boek, waaragter ’n brandende fakkel paalsgewys, in natuurlike kleure; op ’n silwer binneskild, ’n aalwyn ook in natuurlike kleure.

Leuse: U dienswillige dienaar.

Die wapen is tydens ’n vergadering op 12 Augustus 1937 aanvaar, op voorstel van die destydse prinsipaal, mnr N J Uys. Die illustrasie bo kom blykbaar van mnr Uys se kunswerk. Die beskrywing lui:

“In die linkerhoek, onder: die BRANDWAG op sy pos;

“In die regterhoek, onder: die GEOPENDE BOEK, wat opleiding en opvoeding simboliseer;

“In die middel: die AALWYN. Die Rooi simboliseer die daeraad, die môregloed en daarbenewens, veral in hierdie omgewing, dui die aalwyn op taaiheid en uithouvermoë.

“Bo in die agtergrond: die HANEKAMBERGE – met die kruine hemelwaarts gerig – na die plek waarvandaan die Hulp en Leiding moet kom.”

Wat nie genoem word nie, is dat die geheel binne ’n streep-skildsoom van wit is, met streep-skeidslyne ook van wit tussen die verdelings en rondom die binneskild. Veral in die geval van die binneskild, wat silwer is, is dit ’n anomalie, want silwer en wit is in die heraldiek omruilbaar; dit staan nie in kontras die een met die ander nie.
baadjiewapen van Hoërskool Brandwag

Daar is ook twee verdere anomalieë, albei met betrekking tot die heraldiese kleurreël.

Eerstens is die brandwag in donker klere aangetrek – groen hoed, rooi baadjie, grys broek (of, in die baadjiewapen, bruin hoed en blou broek) en bruin skoene – teen ’n swart agtergrond. Die kontras is verreweg nie duidelik genoeg nie.

Tweedens verskyn die hemel bo die berge – terloops, die bergreeks heet die Groot Winterhoekberge, waaronder die Hanekamberg bloot die hoogste piek is – in rooi in heelwat weergawes, maar in die baadjiewapen, is dit pleks daarvan geel.

Altwee kleure is moontlik, maar wanneer die skool aan die Buro ’n aansoek doen om registrasie, sal dit moet besluit watter van die twee dit verkies.

Alhoewel die rooi hemel die gedagte na vore bring van oggendgloed (of miskien eerder aandgloed, want die berge lê wes van die dorp), maak die silwer, swart en groen (in die “Uys”-tekening) – of blou, pers en groen (in die baadjiewapen) – van die berge ’n beter kontras met geel.

Ook moet dit in gedagte gehou word dat, alhoewel die beskrywing van “die daeraad, die môregloed” praat (met verwysing na die aalwyn in die binneskild), die daggloed in die landskap dié is van die aand, want die berge lê wes van die dorp.

Die aandgloed van goud kom natuurlik vroeër as dié van pienk of rooi, maar die intense kleuring van die hemel word steeds met sonsondergang (of sonsopkoms) geassosieer.

Die beskrywing praat slegs van “die brandwag op sy pos”: die man kniel, hy hou sy geweer skuins gereed en hy kyk buite toe.

Die daar is geen verwysing na die geweertipe nie; maar aangesien die wapen dateer uit die jare van opgewondenheid oor die eeufeesviering van die Groot Trek, is mnr Uys se gedagte miskien in die rigting van ’n Voortrekker-tipe voorlaaier, pleks van die Mauser-wapen waarmee Paul Kruger die ZAR se krygsmanne uitgerus het, of die Martini-Henry wat deur die Britse magte van 1899-1902 gebruik is, en wat daarna in die Suid-Afrikaanse militêre in algemene gebruik was.

Die houding van die brandwag is, heraldies gesproke, baie Brits, want die Britse tradisie in die heraldiek is dat diere en mensefigure òf reguit na die kyker aankyk, òf na heraldiese regs (links soos van voor die skild gesien). Op die Europese Vasteland sou dit miskien (maar nie noodwendig nie) na die middel gedraai word.

Ook die kleuring van die elemente in die derde deel van die skild verskil tussen die “Uys”-tekening en die baadjiewapen: die ou illustrasie toon dit in silwer; die baadjiewapen in geel (goud).

Die fakkel se vlamme behoort om met die agtergrond te kontrasteer, maar in die “Uys”-tekening is dit rooi op rooi (of miskien eerder rooi bo-oor silwer geverf, langs rooi); die baadjiewapen is ietwat van ’n verbetering, want die vlamme is daar goud.

Die oop boek (silwer in die “Uys”-tekening; goud in die baadjiewapen) is ’n bekende simbool van opvoeding.

Die aalwyn in die binneskild is ’n treffende simbool, veral vir ’n inrigting in Oos-Kaap.

Dit word nie genoem watter spesie aalwyn in gedagte is nie, maar dit wil voorkom dat dit ’n Aloe ferox is met vier bloeiwyses of raseme. Die wapen van die Provinsie Oos-Kaap toon ’n A ferox met drie raseme.

Die binneskild word ook op sy eie as wapen gebruik vir die skool se sportspanne. Dit verskyn nie net as baadjiewapen nie, maar ook as hempwapen vir dié wat in die skool se voorste spanne speel.

Hierdie aalwyn-wapen is heraldies korrek, want die skildagtergrond is hierin wit, terwyl die gewone baadjiewapen steeds die binneskild as grys aantoon.

Die gebruik van metalliese silwer verf of, in weefstof, van grys om silwer voor te stel is ’n algemene fout in die Suid-Afrikaanse skoolwapengebruik.

Die grys agtergrond van die Hoërskool Brandwag se gestreepte baadjie (waronder daar ook wit strepe is) word weerspieël in die wapen en gestreepte baadjie van die Hoërskool Hangklip op Queenstown, waar grys ook gebruik word om silwer voor te stel (en waarin daar ook wit strepe voorkom).
wapen van Hoërskool Brandwag met naamlint

Mnr Uys (indien dit wel mnr Uys is wat die tekening bo geskilder het) het heelwat silwer verf aangewend, in aldrie skildverdelings, in die binneskild, asook in die leuselint onderaan die skild en die skool se naam, op ’n tweede lint bo die skild (soos hier links getoon word).[1]

Die vertoon van die skoolnaam is in Suid-Afrikaanse skoolwapens algemeen maar tog oortollig.

Die heraldiese tradisie spruit uit ’n tyd toe die meeste lede van die ridderstand in Europa (wat die hoër adel ook ingesluit het) ongeletterd was. Sy boodskap word in beelde oorgedra, sonder woorde in die skildarea.

Die enigste bewoording wat tradisioneel toegelaat word is in die leuse; name speel glad nie in ’n wapen ’n rol nie.

’n Wapen staan as unieke simbool van die inrigting of persoon wie se eiendom dit is, en die uniekheid daarvan word gewaarborg deur die proses van registrasie by die Buro vir Heraldiek.

Die registrasieproses maak die verdere indentifisering van die wapen met naambewoording oorbodig.

Die leuse word so beskryf:

“Mnr Uys het namens homself en die personeel die die gevleuelde woorde van C J Langenhoven – U GEWILLIGE DIENAAR – voorgestel.

“Ook die leuse van die skool moes inpas by die naam, die omstandighede en die roeping van die nuwe skool. Mnr Uys som dit soos volg op:

“ ‘Immers, die skool sou dien: sy eie mense eerste, dan die gemeenskap, dan sy volk en vaderland, en, voor almal en alles, die God van ons vadere.’ ”

Naam van die skool:
Aantekeninge wat die skool aan my voorsien het verwys na ’n Waaksaamheidskomitee wat 11 Januarie 1937 vergader het, tesame met die skoolhoof, mnr Uys, om oor ’n naam te besluit vir Uitenhage se nuwe Afrikaans-medium hoërskool.

Name wat voorgestel is, was: Brandwag, Monument, Dagbreek (van die skoolhoof), en Retief, Uys en Voortrekker.

Die notule lees:

“Na sorgvuldige oorweging, is, op voorstel van mnr W A Meyer/R J Fourie, eenparig besluit dat die Afrikaansmedium Hoër Skool voortaan as die Brandwag-Hoërskool bekend sou staan.”

Na ’n sin wat verwys na die reëlings met onderwys-owerhede, word dit genoem:

“In die naam van die nuwe skool vind ons ook sy roeping: om brandwag te staan oor die hoogste, die heiligste, die dierbaarste belange van die Afrikanerkind.”

Oor die skool:
Die Hoërskool Brandwag is vanaf sy stigting ’n Afrikaans-medium koëdukasie-hoërskool gewees. Aanvanklik was dit Standerd 7 tot 10, maar in die vroeë 1950s is St 6 by hoërskole ingesluit. Volgens die nuwe stelsel wat nà 1994 ingebring is, loop dit vanaf Graad 8 tot 12.

Voordat hierdie skool gestig is, is Afrikaanssprekende leerlinge op Uitenhage verplig om die twee Engels-medium skole, Muir College (vir seuns) en Riebeek College (meisies), by te woon.

Die skool beskik oor ruim gronde en het drie drie koshuise.

Webwerf:
Die skool het sy eie webwerf hier.

English blazon:
The arms may be blazoned in English:

Arms: Per fess, the lower half per pale: 1. A landscape of the Groot Winterhoek mountains, with Cockscomb Peak predominant; 2. Sable, a Voortrekker sentry proper; 3. Gules, an open book in front of a burning torch in pale proper; upon an inescutcheon argent, an aloe with four racemes.

Motto: U dienswillige dienaar.

The mountainscape shows the mountain range as seen from Uitenhage, with the red (or gold) sky of evening above. The sentry is shown kneeling, his firearm at the ready. The motto translates as: “Your obedient servant.”



[1] My beelde van die twee wapens sny die skoolnaam-lint uit, want dit vorm nie deel van die heraldiese konsep van ’n wapen nie. Maar in alle amptelike weergawes van die wapen wat tans deur die skool gebruik word, verskyn die naamlint bo-aan.


Counter

Terug na bo

  • Bronne: illustrasies en wapenbeskrywing deur die skool voorsien


    Terug na skole-indeks

    Back to schools index (English)

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle