deur Mike Oettle
Plumstead High / ampswapens / Brandenburg
’n MENS sien skoolwapens orals – kinders wat in kleurbaadjies skool toe gaan het dit op die baadjiesak, jong lui op die sportveld dra dit voor op die hemp, toksakke het dit langs die kant gedruk.
Wag nou, sê jy hierdie wapen is ’n heraldiese wapen? Wat’s dit?
Nou ja, die meeste Suid-Afrikaanse skole het wapens. Hulle kom in allerhande formaat, maar van twee soorte kry jy meer: ’n skilduitlyn (of iets wat soos ’n skild lyk) met verskeie embleme daarop, en miskien ’n leuse, of dikwels net ’n groep voorletters wat alleen staan, of miskien binne ’n krans van een of ander soort.
Die voorlettertipe is altyd net ’n wapen of kenteken – soos dit in Nederlands genoem word, ’n leus (meervoud leuzen), of in Engels ’n badge. Dit gee nie voor om ’n heraldiese wapen te wees nie (behalwe as iemand ’n skilduitlyn buite-om geteken het), en dit hou geen verband met die heraldiese tradisie nie. Hier regs aangetoon is die voorletter-wapen van die Diocesan School for Girls, Grahamstad.
Maar wanneer die wapen ’n skildformaat het, of ’n skild in hom het, is daar die gedagte van ’n heraldiese wapen, al is dit nie altyd duidelik nie.
Nou ja, wat is dan ’n heraldiese wapen, of coat of arms? In die Middeleeue het die Franse dit ’n côte-armure genoem omdat die ridder dit nie net op sy skild gedra het nie, maar ook op sy oorkleed – om meer hiervan te lees, kliek hier.
Maar net die eienaar van die wapen kon dit sonder wysiging op sy oorkleed dra nie. Sy oudste seun het dit met ’n baresteel gedra (’n baresteel is ’n horisontale streep bo aan die skild met drie afhangende punte), en sy jonger seuns moes breuke aanbring om verskille aan te dui. (Om te sien hoe hierdie sisteem werk, kliek hier.)
Die ridder was ’n offisier, en het manskappe van sy landgoed saam oorlog toe geneem. Hulle het kleding gedra wat hom as sy troepe laat uitken het. Hulle kon nie die heer se wapen dra nie, dus was die klerasie dikwels ’n oorkleed in die heer se livreikleure (dikwels, maar nie noodwendig nie, die hoofkleure van die skild). Dikwels is ’n embleem ook bygevoeg. Hierdie embleem, in watter formaat dit ook al voorgekom het, is ’n wapen of kenteken genoem – die Nederlandse leus of Engelse badge. Dikwels sou ’n belangrike heer twee of selfs ’n aantal wapens (leuzen) hê.
Maar as die ridder nie ’n spesiale kenteken gehad het nie, sou hy eenvoudig ’n klein skildjie van sy wapen op die borste van sy krygsmanne geplaas. Dit is ook ’n wapen (leus of badge) genoem.
Nie alle heraldiese wapens sluit ’n helmteken in nie. Maar die oorgrote meerderheid persoonlike wapens sluit wel ’n helmteken in, en die helmteken kan ook op sy eie as kenteken bestaan. Dit is miskien die mees algemene vorm kentekenwapen naas die wapenskildjie, want dit is nie nodig dat dit bo en behalwe die heraldiese wapen verleen moet word nie.
Die helmteken is gewild as kenteken, veral onder die Skotte, wat dit al eeue lank die helmteken van hul klanhoof (clan chief) (of miskien hul eie helmteken) as hooftooiselwapen gebruik.
Een Suid-Afrikaanse skool – Queen’s College – gebruik die helmteken van die dorp waar dit geleë is (Queenstown) as sy skoolwapen. Die dorp se helmteken van ’n halwe koedoe uit ’n kroon (’n hertogskroon) rysend verskyn op ’n swart skild met ’n silwer skildsoom.
En ten minste drie Suid-Afrikaanse skole – Woodridge College, buite Port Elizabeth; en Wynberg Girls’ High School en Plumstead High School, in Kaapstad – het nie ’n wapenskild nie, maar gebruik ’n helmteken vir ’n skoolwapen. Pietermaritzburg College voer tans ook slegs ’n helmteken, maar is besig om ’n wapen wat die helmteken insluit, te registreer. En alhoewel Michaelhouse, te Balgowan, Natal, wel ’n heraldiese wapen voer, het dit in die verlede nie ’n wapen gevoer nie maar het ’n helmteken as skoolwapen gebruik. Tans het dit ’n kenteken in skildformaat wat in werklikheid nie sy wapenskild is nie.
Die helmteken wat deur Wynberg Girls’ High gevoer word, is dié van die Hertog van Wellington, terwyl Plumstead High die helmteken gebruik van die Stad Kaapstad, ten spyte daarvan dat Plumstead tot in 1927 deel gevorm het van die munisipaliteit Wynberg.
Dit het by Engelse en Skotse skole tradisie geword – waar die skool wel ’n heraldiese wapen voer – dat die wapenskildjie as kenteken gebruik word.
Hierdie tradisie is ook aangegee aan skole in Engelssprekende lande die wêreld om, sowel as in ’n paar ander lande. Selfs in die Verenigde State, waar skooluniforms (my dunk totaal verkeerdelik) as teken van onderdrukking beskou word, is daar skole op die Engelse model (hulle word dikwels “prep schools” genoem) wat dikwels die tradisie van die heraldiese kenteken volhou.
Dan is daar weer die oorkleed . . . eeue lank het feitlik niemand dit gedra nie, maar die idee van ’n wapen as klerasie kan weer uitgebring word. Enige skoolhoof is daarop geregtig om die skool se wapen te dra – nie net as sakwapen op sy kleurbaadjie nie, soos wat al hoe meer skoolhoofde blykbaar deesdae maak, maar ook as volwaardige kledingstuk.
Die wapen kan as ’n trui gebrei word, of selfs in weefstof gemaak word soos ’n Middeleeuse oorkleed. ’n Vrou kan dit as romp dra.
Waar twee of meer skole – gewoonlik ’n hoërskool en ’n laerskool – dieselfde wapen voer, sou die hoofde albei, of almal, geregtig wees om die wapen te dra.
Adjunkhoofde kan miskien die wapen as groot skild voor en agter op ’n trui dra, en ander onderwysers ’n kleiner skild.
’n Skoolhoof kan ook sy of haar persoonlike wapen met dié van die skool kombineer. Dit is ’n lank gevestigde tradisie dat die houer van ’n amp wat sy eie wapen het, daardie wapen met sy persoonlike wapen mag kombineer.
In Brittanje is die gewone manier om dit te doen deur middel van skilddeling – die skild word vertikaal verdeel, die regterhelfte met die wapen van die amp, die linkerhelfte die wapen van die beampte.
Dit is soortgelyk met die gebruik om die wapens van man en vrou te kombineer: die wapen van ’n huwelik sal gewoonlik die man se wapen aan die regterhelfte wys, die vrou s’n op die linkerhelfte. Vir ’n bespreking van huwelikswapens, kyk hier.
Die polities inkorrekte tekening (links) deur Don Pottinger toon ’n outydse skoolhoof met sy rottang. Vandag is lyfstraf verbied, wat allerhande dissiplinêre probleme veroorsaak, maar in die vroeë 1950s, toe hierdie tekening die eerste maal gepubliseer is, is hierdie spotprent-agtige illustrasie as skreeusnaaks gesien. Niemand het dit as ernstige aanduiding van misbruik opgeneem nie. (Let op die skild van die skoolwapen, wat as kenteken op die seun se bors gedra word.)
Op die Europese Vasteland word ander maniere gebruik om wapens te kombineer.
Dikwels is kwartilering die metode wat gebruik word: die Hoogmeester van die Orde van St Johannes (ook bekend as die Orde van Malta) voer die silwer kruis op rooi van die Hoogmeester in die eerste en vierde kwartiere, en sy eie familiewapen in die tweede en derde kwartiere. Hier links sien jy die wapens van Hoogmeesters Alfonso de Portugal (’n lid van die Portugese koningsfamilie, dus die Portugese koningswapen in sy tweede en derde kwartiere) en Jean de Villiers (sy familiewapen: drie blou kepers op goud).
Soms sal die wapen van ’n amp as binneskild of hartskild op die wapen van die familie of die heerlikhede wat dit besit, verskyn. Hierbo regs staan die blou skild met ’n goue ampstaf van die Aarts-Kamerheer van die Heilige Romeinse Ryk, en die silwer skild met ’n rooi adelaar (met goue Kleestengel, of sier op die adelaar se vlerke) van die Markgraafskap van Brandenburg. Regs verskyn die Aarts-Kamerheer se wapen as binneskild op die Markgraaf se skild. (Hierdie wapen verskyn as binneskild in die wapen van Pruise soos op hierdie bladsy gesien.)
En in sekere gevalle sal die simbool van ’n amp die vorm aanneem van ’n kruis wat tussen die verskeie kwarterings waarop die beampte geregtig is, ingevoeg word. Dit is onwaarskynlik dat hierdie patroon deur enige Suid-Afrikaanse opvoedkundige inrigting gebruik sou word, maar vir ’n voorbeeld van hierdie gebruik (met ’n hartskild ook by) deur die Hoogmeesters van die Duitse Ridderorde, kliek hier.
In Engels-medium Suid-Afrikaanse skole mag enige hoof wat ’n wapen het waarop hy of sy geregtig is, beslis daardie familiewapen met die skoolwapen deel. In dubbel- en parallel-medium skole en Afrikaans-medium skole sal dit miskien gevoel word dat ander metodes verkieslik is bo dié wat in Brittanje die norm is, maar dit is miskien wys as die skool se bestuursliggaam ’n beleid neerlê in dié verband.
Waar die voertaal van die skool nóg Engels nóg Afrikaans is nie, maar miskien een van die ander nege amptelike landstale is, is daar geen neergelegde reëls nie, maar die Britse patroon is miskien die gebruiklikste om toe te pas.
Meer belangrik, egter, as reëls aangaande die persoonlike vertoon van die skoolwapen is die kwessie van sy wetlike status.
Baie skole het heraldiese wapens, of wapens wat op die een of ander manier soos heraldiese wapens lyk, wat nie geregistreerd is nie. Dit kan nie oorbeklemtoon word nie dat ongeregistreerde deviese glad geen wetlike beskerming geniet nie.
Kyk hierdie artikel vir ’n bespreking van die wetlike status van wapens.
Die ongeregistreerde status van ’n skoolwapen kan egter verbeter word deur ’n aansoek aan die Nasionale Heraldikus.
Terug na Armoria academica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle