Schipollughawe.
Julle pak julle fietse uit die bokse en sit als aanmekaar: die saal, die handvatsels, pedale. Pomp die wiele op. Hang die saalsakke op en maak die tent en matrassies bo-op vas. ‘n Paar nuuskieriges staan nader om te kyk wat julle doen. Jy gaan koop gou ‘n kaart by die naaste boekwinkel, en ‘n “ferse belegde brautje” wat julle twee maar deel omdat jy nognie gewoond is aan euro’s nie. Dan is julle oppad. Die eerste ding wat opval as julle uiteindelik uit die lughawe uit is en die pad Amsterdam toe gekry het, is paaie wat gemaak is net vir fietse. Geen motors wat jou van die pad af probeer ry nie, want die motorpad is doer anderkant. |
|
In Amsterdam aangekom, soek julle vir verblyf. Dis die begin van die somer en hoog-konferensieseisoen. Boonop lê ‘n paar langnaweke voor met Koninginnedag om die draai, en Werkersdag op 1 Mei. Julle soek oral verblyf – skuif later die prysklas waarin julle soek, op, maar kry niks. Gaan sit dan maar op ‘n plein en eet ietsie (Een ietsie wat julle deel, want die bedrag in euro's klin aardig as dit na Suid-Afrikaanse Rand omgeskakel word.)
Teen 12-uur die nag is dit al behoorlik koud. Julle het nie baie lus vir tentopslaan nie, maar gaan hoor tog by die jeugherberg in Vondelpark of hulle tentopslaanplek het. Gelukkig was daar 'n kansellasie, en julle kan warm slaap. Die hele Amsterdam is vol parke. Die mense draf en ry fiets en doen karate-oefeninge en stap met hul kiddies, dit lyk heerlik - en veilig. Hulle moet seker ook maar heerlike weer geniet terwyl die kort somer hou. |
|
Die "Damrak" is een van Amsterdam se pleine. Die gebou agter was oorspronklik ontwerp as 'n stadsaal of 'n ding, dis nou die koninklike paleis as die koningfamilie in Amsterdam is (hulle woon eintlik in Den Haag). Lykmy 'dam' is soort van 'n ding soos 'dorp' - Amsterdam, Edam, Zaandam, Volendam. Daar was 'n kermis op die Dam aan die gang. Oral in Holland het ons sulke Merry-go-Rounds gesien om die Koninginnedag te vier. | |
Die blommemark in Amsterdam is 'n gewilde plek om vars blomme, maar veral bolle te koop. Ook 'n toeristeplek, maar hulle aandenkings is duur. Hulle klompe kos R200, ons het ons s'n gekoop vir R100 by 'n ander mark, wat minder op toeriste en meer op die Amsterdammers self ingestel is - die blommemark is soos die waterfront, en die ander mark meer soos die parade op Groentemarkplein. | |
DIE VOC was verlede jaar 400 (of iets) jaar oud. By die Rijksmuseum was 'n uitstalling van die VOC-jare, dit was Holland se glorietydperk. Hier is die maritieme museum met 'n lewensgrootte replika van 'n VOC-skip.
Die Hollanders is trots op hul konneksie met (die ou) Suid-Afika. Daar's strate vernoem na Paul Kruger, Oranje-Vrystaat en Transvaal. Op 'n stasie het 'n man, toe hy hoor ons is van Suid-Afrika, begin gesels oor ons geskiedenis, die Groot Trek, die Boere-oorlog - goed waarvan ek nie eens weet nie. MacDonalds se hamburger met "Afrikaanse saus" was ongelukkig nie beskikbaar nie; nou sal ons nooit weet hoe "Afrikaanse saus" proe nie. |
|
Pieter en Anthony Hopkins kyk by Madame Taussauds se venster uit na die kermis op die Damrak. Die museum begin met 'n kort geskiedenis van Holland, en dan is daar poppe van die koningsgesin en ander Hollandse skrywers, skilders ens. 'n Goeie oorsig van Holland. Daar's ander figure ook: Nelson Mandela, prinses Diana, en natuurlik popsterre, akteurs en sportsterre. Die poppe is baie realisties; daar's een saal wat net gaan oor hoe die poppe vervaardig word. Michael Jackson moes al 3 keer oorgemaak word oor al die operasies wat hy al gehad het. | |
Marken was deel van die vasteland voordat 'n storm in die 13de eeu dit afgesny het van Holland - en van enige ontwikkeling - af. Hier is die dyk wat die Hollanders in die vorige eeu gebou het om Marken weer met Holland te verbind. Die dyk het egter Marken se visbedryf (wat hul hoofinkomste was) 'n knou gegee. Omdat hulle so lank op hul eie moes funksioneer, het baie van die ou tradisies behoue bebly - die mense daar dra nog tradisionele klere en klompe. Hulle word toe maar 'n toeriste-dorpie. Ons het baie Hollanders gesien wat ook kom kyk het na die 'ou' Holland. | |
Klompe is waterdig en warm en kan maklik uitgetrek word. As jy in 'n huis ingaan, los jy jou modderige klompe net daar by die deur en trap nie die hele huis vol modder nie. Dis ook baie gemaklik, want dit word van 'n sagte hout gemaak, jou voete maak dan voetspore binne-in die skoen, wat dit gemaklik laat pas. Op plase (ook in Holland self) dra die mense dit nog soms, veral werksmense wat baie buite in modder en sneeu is. | |
Ons het met 'n ferrie van Marken af na die vasteland gery. Die kaai dryf, maar die paaltjies is in die bodem ingebou. Die kaai en die paaltjies beweeg dus ten opsigte van mekaar as daar branders is - soos bv wanneer 'n boot daar invaar. Maar ons het nie geweet nie. Pieter sit toe sy fiets teen so 'n paaltjie en toe ons weer sien, val sy fiets met al sy pakkerasies binne-in die water! Die buite-temperatuur was 10 grade, ek weetnie hoe koud die water was nie - maar toe spring Pieter agterna, met sy paspoort, vliegkaartjies etc net so nog in die sakkie wat hy aan sy lyf dra. Twee Hollanders het ons kom help om die fiets uit te kry - dit was nie maklik nie!
Hier is ons op die ferrie. In die agtergrond is huisies van Marken. Al die goed wat op Pieter se fiets was, is uitgestal sodat dit bietjie kan droogword. | |
Al die rigtingaanwysers op hierdie foto is vir fietspaaie - soos ek reeds gesê het, Holland is geweldig fietsvriendelik. Daar's 'n oorvloed van padtekens; as mens daar verdwaal is dit a.g.v. verwarring oor te veel inligting, eerder as te min! En ons hèt 'n paar keer nie geweet waarheen om te ry nie - 'n bordjie sê dikwels "Amsterdam, regs, Amsterdam, links". Soms sommer "Amsterdam reguit aan" ook vir 'n bonus. | |
Die Zaanse Schans. Windmeulens wat nie meer gebruik word nie, word daarheen 'verplaas' - eintlik 'oorgebou'. Dis 'n pragtige dorpie, eintlik meer toeristeplekkie, waar mens binne-in die windmeulens kan ingaan om te sien hoe hulle werk. heelwat van hulle is nog aan die werk, een maal mostert en 'n ander een maal iets vir die maak van verf. Die produkte is ook daar te koop. | |
Lente in die Noordelike Halfrond. Dit het meer na 'n Kaaspe winter gevoel: koud en nat. | |
Die floriade is 'n tuinbouskou wat net elke 10 jaar gehou word - en mens kan verstaan waarom. Die Hollanders doen vreeslik baie moeite daarmee. 'n Hele park is ontwerp en gebou net vir die skou, en dit hou maande aan. Ons het ons fietse by die jeughostel in Haarlem gelos en is met 'n bus na die floriade toe (buskaartjies was ingesluit by die toegangsfooi). Dit het die hele dag geneem om deur die park te stap, en daar was nie eens tyd om deur die 'expo's' in die sale te stap nie. Ons het die Suid-Afrikaanse uitstalling ongelukkig ook gemis; hulle was al toe toe ons daar aankom! Hier's tulpe in een van die tuine, ek het van die kleure gehou. | |
Holland is nie verniet 'n land van windmeulens nie. Kyk net hoe die wind waai! Ons het teen daai wind gery vir dae, dit was lekker koud - ons het maar meestal in jeughostelle geslaap, want dis nie lekker om 'n tent op te slaan in die reen en koue wind nie. En hostelle het verwarmers gehad waar ons nat klere kon droogkry!
Van Haarlem af suid moes ons natuurlik eers deur Heemstede ry (my Stellenbosch-koshuis is na hierdie Heemstede vernoem). Dit het gereën en ons konnie foto's neem van die pragtige pophuisies langs die pad nie. | |
Deur Hillegom en Lisse - die bollenstreek - is vir my die mooiste deel van Holland. Dit het heeldag gereën en die kamera moes waterdig verpak word. Ons het maar stadig gevorder, want elke keer as ons verby 'n bolleland ry, moes ons eers die kamera uitpak en daarna weer wegpak. Maar kyk net hoe mooi is die lande! | |
Pieter (en my fiets) net buite Hillegom. Hierdie is 'n land vol tulpe, maar ons het ook affodille en ander bol-landerye gesien - die tulpe is die kleurvolste. Vir die ligblou,ligpienk en wit landerye het ons nie die kamera uitgepak nie. (kyk die nat pad!) | |
Dis my fiets daai, dis nie 'n poskaart nie. Nog 'n landery met tulpe. Die blomme se koppe word met 'n masjien afgesny; die boere stel net belang in so groot as moontlik bolle en die blomme moet nie onnodig energie van die plant vat nie. Kyk net hoe lê die rooi tulpkoppe tussen die plante. | |
Holland het baie water, hoofsaaklik seker omdat 'n groot deel van die land onder seespieël is. Die boere omhein nie hul landerye nie, hulle grawe net 'n kanaal. Hier is 'n bolleland, 'n kanaal, en die fietspad langsaan. Kyk die wind! (ons het van links af op die foto gery, langs die treinspoor tot by 'n oorgang, en dan verder wind-op: regs.) Kort hierna het dit weer begin reën; ons het onder 'n brug gaan sit en teemaak. | |
Hierdie is een van my favourite-foto's van die toer. Dit was Koninginnedag 30 April - die oud-koningin (nou prinses Juliana) verjaar, en sy't ook op daai dag die kroon vir haar dogter, die huidige koningin Beatrix oorgegee. Sy's van die huis van Oranje. Oral waar ons gekom het (sommer die hele week voor Koninginnedag al) was kermisse aan die gang. Den Haag het soos 'n sprokiesland gelyk met al die bome vol oranje en wit ligte. Oral het huise oranje vlae uitgehang, van daai dun vlaggies met die gesplete punte soos wat altyd aan torings hang in sprokiesboeke. (Dit het gereën; ons het nie foto's geneem nie.) Holland was sowaar oranje-betotteld daai dag! (Geelwortels het blykbaar oorspronklik 'n pers buitekant gehad, die Hollanders het oranje wortels geteel omdat hul koningshuis oranje is!) Ons het ons fietse by die jeughostel in Den Haag gelos en die aand tussen die oranje kersfeesbome gaan stap.
Die aand van 29 April (koninginnenag, ons was ongelukkig toe al uit Holland uit) is daar oral in holland konserte om die besigheid te vier, opelugdansery, wat-ook-al, amper soos karnaval op Stellenbosch. | |
Madurodam is 'n miniatuurstad met al die bekende plekke in nederland op skaal 1:25 gebou. Ons het ons fietse by die jeughostel gelos en eers gaan kyk, soveel detail! Hier is 'n miniatuur-weergawe van die Rijksmuseum in Amsterdam. | |
Van Den Haag af is ons Brugge toe, dis een van die baie min stede in Europa wat altwee Wêreldoorloë gemis het. Die oorspronklike 'cobblestone'paaie en stokou geboue het dus behoue gebly.
Brugge was (ongelukkig) ook Europa se kulturele hoofstad vir 2002. Daar was geweldig baie toeriste! Ons kon nie slaapplek in die dorp kry nie (dit was 'n langnaweek), het toe maar aangery en op die uitkyk gebly. Net voor donker (wat baie laat gebeur in Holland daai tyd van die jaar, ek dink dit was ½ 11!) het ons toe maar by 'n restaurant langs die pad gaan hoor waar ons kan oorbly - nee, sê die ou, nie hier rond nie, ons moet maar tent opslaan in sy agterplaas. Dit het die hele nag gereën. | |
1 Mei was Werkersdag, als in België en Frankryk was toe! Ons het darem 'n sjokoladewinkel oopgekry. Ons het sjokolade-chips daar gekoop - lyk net soos die chips wat ons hier in ronde boksies koop - donkersjokoladechips, witsjokoladechips en melksjokoladechips - dit was verskriklik lekker. | |
Jy ry nog so op jou fiets en al die kennisgewings is in Vlaams, en as jy weer kyk, is al die borde langs die pad in Frans en jy in Frankryk. Die grens is sommer in die middel van die dorp iewers - ons het dit ongelukkig gemis.
Daar was 'n groot byeenkoms in Lille, ons kom toe later agter dis 'n politieke ding (was mos net voor die verkiesing). Hier is my fiets by een of ander militêre plek naby waar die byeenkoms was. Dit was die einde van ons fietstoer, ons het te veel wind van voor en reën gehad en sou nie tyd vir 'sightseeing' in Parys kry nie, en besluit toe maar om trein te ry Parys toe. Was dit 'n gesukkel om iets te kry wat oop is sodat ons kon uitvind hoe die treine loop, en watter treine ons fietse kan saamvat. |
Terug na Fietstoer-indeks
Created with notepad by carine on 5 February 2003