Kliek hier vir die spelreëls-hoofbladsy.
Let op dat die AWS se afdeling oor hoofletters se spelwyses nie alle spelwyses van los of vas aanspreek nie, en dat hulle om spasie te bespaar, net een skryfwyse gebruik het in dié opsig. Dit beteken egter nie dat dié skryfwyse wat in dié afdeling voorkom, enigsins méér korrek is as ander los-en-vas-skryfwyses nie.
[x] Dis 'n moerse lang hoofstuk, so hou vas. Baie van die reëls het ook alweer verander, en sommige van die huidige gebruik is ook nie in die bereëling in ag geneem nie. Maak jou dus gereed op ene of twee verrassinkies.
(9.1) Die eerste letter van die eerste woord van 'n sin (dit hoef nie die eerste sin van die paragraaf te wees nie), is 'n hoofletter, selfs al is dit nie 'n volsin nie. Daar is twee uitsonderings op dié reël, naamlik (9.2) as die eerste "woord" nie 'n woord is nie, maar 'n getal of simbool, in welke geval die eerste daaropvolgende woord nie met 'n hoofletter geskryf word nie, tensy dié woord in elk geval met 'n hoofletter geskryf wou word, en (9.3) as die eerste "woord" 'n woord is wat met 'n afkapteken gevorm word, in welke geval die daaropvolgende woord wél met 'n hoofletter geskryf word.
Die gebruik van reël 9.3 verskil lynreg met dit wat in die 1991-AWS voorgestaan word. In die 1991-AWS geld dié reël slegs vir die onbepaalde lidwoord. Dus, "'k't met my ma gepraat" is die 1991-spelling, maar "'k't Met my ma gepraat" is die 2002-spelling. Die 2002-spelling is trouens ook hoe die NG Kerk-gesangebundel dit skryf, soos in "'k Sal so lang ek lewe...".
(9.4) Die gebruik om die eerste woord ná 'n dubbelpunt 'n hoofletter te gee, is verkeerd. Die uitsondering is waar die dele wat na die dubbelpunt kom, onder mekaar in 'n lysie geskryf word, in welke geval die hoofletter opsioneel is. Dié reël mag egter verontagsaam word indien dit 'n wetlike voorskrif van 'n betrokke instansie is om so te skryf.
(9.5) Alle eiename begin met 'n hoofletter, behalwe in sekere uitsonderings wat net soms bereëlbaar is. Voorbeeld van eiename, soos gegee in die reënboog-AWS, is name van bevolkingsgroepe, byname, geologiese tydperke, geskiedkundige gebeurtenisse, maande en dae, straatname, taalname, vanne, voorname, ens.
Dit is dus baie jammer vir kykNET en vir breyten breytenbach, maar hulle name moet as "KykNET" en "Breyten Breytenbach" geskryf word. Klaar. As ek reg verstaan.
(9.6) Name en vanne sonder los dele word met hoofletters geskryf, behalwe vir enkele uitsonderings soos ffsmyth. (9.7) Vanne wat op hul eie staan, wat uit twee dele bestaan, kry hoofletters by albei woorde. Let op uitsonderings soos MacDonald of FitzSimmons wat onderskeidelik nie as "Mac Donald" of "Fitz Simmons" geskryf hoef word nie. (9.8) Vanne wat op hul eie staan, wat uit drie dele bestaan (ongeag die aard van die dele), kry hoofletters op die eerste en laaste woorde. Vanne wat uit meer as drie woorde bestaan, is meer kompleks en daar is geen poging aangewend om dit te probeer bereël nie, byvoorbeeld "De Jongh van Arkel" en "Johannes de Jongh van Arkel". (9.9) Name wat met koppeltekens verbind word, word altyd met twee hoofletters geskryf. Die skryfwyse van "Anne-marie" is dus verkeerd, maak nie saak hoeveel blou moord die betrokke Anne-marie ook al skree nie. Daar is hoop op die horison vir Anne-marie, however, want die AWS gee in 'n half-weggesteekte klein paragrafie toe dat die skryfwyse van persoonsname eintlik gesproke nie hulle taak of voorreg is nie.
(9.10) Vanne wat as voorname gebruik word, word soos voorname hanteer. Byname volg dieselfde reëls as gewone persoonsname. Hulle (9.11) word met hoofletters geskryf, (9.12) hulle word met hoofletters geskryf selfs al staan hulle los van die persoon se regte naam, (9.13) hulle word met hoofletters geskryf selfs al het hulle koppeltekens in (alle gekoppelde dele kry dus hoofletters). Maar as hulle vas geskryf word aan 'n ander naam, kry hulle net een hoofletter, byvoorbeeld Klein Jan, Klein-Jan en Kleinjan, en nie "Klein-jan", "klein-Jan" of "KleinJan" nie. Byname met 'n lidwoord tussen-in, kry ook hoofletters oral, behalwe die lidwoord. Dus "Alexander die Grote" en nie "Alexander Die Grote" of "Alexander die grote" nie.
(9.14) (9.15) (9.16) (9.17) (9.18) [x] Aanheffe sonder 'n daaropvolgende naam, word met 'n hoofletter geskryf. "Geagte meneer" is dus verkeerd, en "Geagte Meneer" is reg. Maar "Geagte meneer Human" is reg en "Geagte Meneer Human" is verkeerd. Onses insiens is dié bereëling onnodig, en die algemene gebruik is juis om die hoofletter in dié geval kwyt te raak. Dalk lees die Taalkommissie net ander briewe/publikasies as ons. Die 1991-reël dat 'n aanspreekvorm wat nie as 'n die aanhef gebruik word nie, met 'n kleinletter geskryf kan word, verval. "Hier is pa se pantoffels" was reg gewees, maar nie meer nie - die korrekte vorm is nou "Hier is Pa se pantoffels".
(9.19) Titels van hoogwaardigheidsbekleërs kry tans ook hoofletters. Daar word vier voorbeelde in die reënboog-AWS gegee, en ons stel voor jy leer hulle uit jou kop uit: U Edele, U Eksellensie, U Hoogheid en U Edelagbare. Ons dink U Emminensie moet ook by dié lysie kom. Die nuwe reël is kompleks, maar probeer gerus: Sy Edele die Regter, Sy Edele regter Smit, Sy Edele die Regter van Suid-Afrika. Onses insiens is dié gebruik oorbodig. Wat is fout met "sy edele regter Smit"? Geen kans op misverstand nie, en dis nie noodwendig meer of minder respekterend nie.
(9.20) Name van mitologiese figure kry hoofletters. (9.21) Name van sprokieskarakters kry ook hoofletters, al is dit soortname wat as eiename optree. (9.22) Name van bevolkingsgroepe en die lede van sulke groepe word met hoofletters geskryf, tensy (9.23) dit 'n kleur is.
(9.24) Ampsbenamings wat na 'n spesifieke persoon verwys, kry 'n hoofletter, byvoorbeeld "Ek het met die Rektor gaan gepraat", en nie die huidige gebruiklike vorm "Ek het met die rektor gaan praat" nie. Die 2002-AWS het dus vasgesteek op dieselfde ramkiekie as die 1991-AWS, wat hierdie punt betref.
(9.25) Die lede van 'n politieke party, 'n volk, 'n stam, 'n taalgroep of 'n bewoner van 'n streek, word almal met hoofletters geskryf. Dié reël geld slegs indien die benaming nie as 'n soortnaam gebruik word nie, byvoorbeeld "Ek is 'n Nasionalis" (behoort aan die Nasionale Party) teenoor "Ek is 'n nasionalis" (sy sienswyse is nasionalisties).
(9.26) Name van gode, asook titels van dié gode, kry 'n hoofletter. Persoonlike voornaamwoorde wat na 'n god verwys, word ook met 'n hoofletter geskryf, maar besitlike voornaamwoorde word, anders as dikwels in Engels gebeur, met 'n kleinletter geskryf. Dus "Ons vertrou op Hom, want Hy is getrou en sal sy beloftes nie vergeet nie" en nie "...sal Sy beloftes..." nie. Reël 9.26 geld ook vir woorde soos die Antichris en die Duiwel, en ook vir die Engel as daar na 'n baie spesifieke, goddelke engel verwys word, maar die engel, as dit sommer enige gewone engel is.
Hoewel verbindings met god= wel met 'n hoofletter geskryf word as daar na die god verwys word, word dit met 'n kleinletter geskryf as dit 'n gewone soortnaam is. Dus "Godslam" maar "goddeloos".
Wanneer (9.27) plant- of diername as eiename optree, soos as dit as persoonsname in sprokies gebruik word, kry dit 'n hoofletter. Reël 9.66 maak dit egter duidelik dat as hulle as soortname optree, hulle met 'n kleinletter geskryf kan word. (9.28) By genusse en spesies word die genus met 'n hoofletter geskryf en die spesie met 'n kleinletter.
Die reënboog-AWS gee die volgende goeters aan as voorbeelde van wat hulle as "eiename" beskou, en wat dus met 'n hoofletter geskryf moet word: (9.29) name van godsdiensgeskrifte (let op die verskil tussen "die Apokriewe" (onderdeel van die Bybel) en "die apokriewe" (enige boeke wat nie kanon is nie); name van departemente, afdelings, fakulteite ens.; name van geboue (let weereens op die verskil tussen "die Administrasiegebou" en "die administrasiegebou", hoewel dié onderskeid dalk kosmeties is); name van inrigtings en instansies; name van kerke en denominasies; name van kommissies, komitees en rade; name van literêre tekste; name van oorloë en veldslae; name van organisasies, politieke partye en sakeondernemings; name van staatsdepartemente; name van temperatuurskale; name van verdrae en ooreenkomste; en name van wette en ordonnansies. REGSTELLING: Vroeër het die sinsnede "wat nie kanon is nie" gelui "wat oneg is".
Onses insiens is hoofletters onnodig (opsioneel) by die name van departemente, afdelings, fakulteite; die name van staatsdepartemente; en die name van kommissies, komitees en rade.
Dinge wat eiename is, wat as soortname optree, word met kleinletters geskryf, byvoorbeeld "port" en "brie", tensy dit 'n godsdiensgeskrif is, soos "hierdie is 'n Familiebybel" in plaas van "hierdie is 'n familiebybel".
(9.30) Die name van leerstellings en denkrigtings begin met 'n hoofletter (die AWS sê "gewoonlik"), behalwe vir gevalle in die vorm =[is], =[isme] en =[isties], waar die hoofletter opsioneel is. Daar is ook ander enkele uitsonderings, soos barok/Barok en Vryemarkstelsel/vryemarkstelsel.
Die (9.31) eerste letter van 'n boek of ander letterkundige werk, is 'n hoofletter, asof dit 'n sin is. Die eerste letters van die hoofwoorde van die boek kan hoof- of kleinletters kry. Dus "Afrikaanse woordelys en spelreëls" en "Afrikaanse Woordelys en Spelreëls" is beide korrek. Dié "hoofwoorde" is naamwoorde, byvoeglike naamwoorde, bywoorde en selfstandige werkwoorde.
Die reëls oor taalname het nogal verander. (9.32) Taalname word met 'n hoofletter geskryf. (9.33) Afleidings in die vorm [pro-][taalnaam] en [anti-][taalnaam] word as volg geskryf: pro-Afrikaans, pro-Russies, anti-Amerikaans, anti-Sjinees. (9.34) Net soos by reël 9.30 kan afleidings van taalname in die vorm =[is], =[isme] en =[isties] met hoof- óf kleinletters geskryf word, en dit geld ook vir die vorme =[istiek] en =[kus|ci].
(9.35) Saamgestelde taalname met 'n koppelteken kry 'n hoofletter vir albei woorde. Let op dat taalname wat 'n samestelling tussen 'n pleknaam en 'n taalnaam is, altyd vas geskryf word, maar as die "pleknaam" 'n afgeleide vorm is, kom daar 'n koppelteken. Dus "Hollanderduits" (een woord), "Griekwa-Afrikaans" (koppelteken a.g.v. opeengehoopte klinkers, vandaar die twee hooflettes), "Sowetoafrikaans", "Kaaps-Hollands" (want "Kaaps" is nie 'n plek nie; "Kaap" is wel 'n plek, en daarom is "Kaaphollands" wel korrek).
(9.36) 'n Taalnaam wat uit meer as een woord bestaan, kry hoofletters by al sy onderskeie woorde, behalwe (9.44) as dit in die vorm [iemand se naam]+[se]+[pleknaam] is, in welke geval die "se" 'n kleinletter kry. (9.37) Indien die taalnaamsamestelling vas geskryf word, kry die tweede gedeelte nie 'n hoofletter nie, bevoorbeeld "SowetoAfrikaans" is verkeerd.
Buitelandse plekname word deur die Taalkommmissie bereël, maar binnelandse plekname word deur die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name bereël. Geografiese name (met ander woord plekname - nie soortname van geografiese verskynsels nie) (9.38) kry 'n hoofletter. Die reënboog-AWS gee die volgende kategorieë aan: berge; dorpe, stede en woonbuurte; eilande; streeksbenamings; kontinente; lande en landstreke; oseane en mere; plaasname; provinsies en sulke streke; riviere en damme; strate; en valleie. Net soos by reël 9.35, begin (9.39) die dele van saamgestelde plekname wat gekoppel is, elk met 'n hoofletter. Dit geld ook (9.40) vir sommige plekname wat los geskryf word, soos "New York".
(9.41) Saamgestelde plekname met 'n rigting in, kry 'n koppelteken en die rigting kry 'n hoofletter. By (9.42) straatname wat met 'n syfer begin, is die straatsoort ook met 'n hoofletter. As 'n hooftelwoord deel van 'n woordgroep-taalnaam vorm, kry die begin van die telwoord 'n hoofletter, maar as dit 'n saamgestelde telwoord is (soos twee-en-dertig), kry net die eerste letter van die groep 'n hoofletter (dus "Twee-en-dertig Koppies" en nie "Twee-en-Dertig Koppies" nie).
Name van (9.45) hemelliggame kry 'n hoofletter tensy dit 'n lidwoord vooraan het. Dit geld nie vir "Son", "Maan" en "Aarde" nie - dié name kry net hoofletters as dit saam met ander hemelliggame genoem word, ongeag die teenwoordigheid van 'n lidwoord. Soortname kry altyd 'n kleinletter. (9.50) (9.51) Geologiese tydperke en formasies kry ook 'n hoofletter. (9.52) Die name van gesteentes (afgelei van 'n persoon se naam of te not) kry egter 'n kleinletter.
(9.46) Weeksdae en maande kry 'n hoofletters, in navolging van die Engelse gebruik. (9.47) Kerlike en niekerklike feeste en feesdae kry 'n hoofletter. Dieselfde (9.48) (9.49) geld vir geskiedkundige gebeurtenisse en tydperke.
(9.53) Persoonname en personifikasies wat deel vorm van vaste uitdrukkings, kry hoofletters. Daar is egter weinig formele bereëling om te bepaal watter ander dele van die vaste uitdrukkings hoofletters moet kry al dan nie. Dalk moet reël 9.50 beide insluitend én uitsluitend gelees word. (9.54) Dié reël geld egter nie vir speletjies nie, omdat dit kwansuis soortname is terwyl eersgenoemde blykbaar nie is nie. Daar het jy dus die rede... soortname = kleinletters. En blykbaar ook kleinletters = soortname, lyk dit my.
Godsdienstige (9.55) afgeleide byvoeglike en selfstandige naamwoorde wat van 'n eienaam afgelei word, kan met beide klein en hoofletter geskryf word, met die uitsondering van "bybel" indien dit na 'n boek verwys. Dus "bybelse" maar "Familiebybel". Weird. Trouens, (9.56) reël 9.55 geld vir alle eiename, nie net godsdiensname nie. (9.57) Dit geld egter nie vir dieselfde woorde wat van plekname afgelei is nie - daar bly die hoofletter behoue.
(9.58) Byvoeglike naamwoorde wat afgelei is van 'n eienaam (behalwe 'n persoon se naam), waar daar 'n "vreemde" voegsel vooraan kom, bly die eienaam met 'n hoofletter, maar as dit 'n persoon se naam is, kan dit 'n kleinletter kry. Dus pro-Russies (nie prorussies nie), maar pro-Darwinisties en prodarwinisties is almal reg. (9.59) Dié reël geld egter nie vir "on-" en "nieu-" nie, byvoorbeeld "onafrikaans" is reg, maar "on-Afrikaans" en "Onafrikaans" is verkeerd. (9.61) Trouens, enige afleiding van 'n taalnaam waar die afleiding begin met on-, ont- en ver-, of eindig op -asie, -ing of -iseer, kry altyd 'n kleinletter. (9.60) Werkwoorde wat van eiename afgelei word, kry kleinletters, deur die bank.
Sommige eiename tree as soortname op, soos diesel en titanies. Leer dié uitsonderings uit jou kop uit. (9.62) Eiename wat as soortname optree, kry 'n kleinletter, byvoorbeeld Odyssee vir die mens, maar odyssee vir die reis.
Het jy dit? Nou, om weer van voor af deurmekaar te raak: (9.63) Samestellings wat eiename is of eiename in hulle het, kry 'n hoofletter, tensy (9.64) dit 'n verbleekte eienaam is. Wanneer is dit 'n verbleekte eienaam? Wanneer dit met 'n kleinletter geskryf word. Wanneer word dit met 'n kleinletter geskryf? Wanneer dit 'n verbleekte eienaam is. Maklik! Omdat selfs die Taalkommissie onseker is oor wanneer 'n eienaam nou voldoende verbleek het of nie, is daar 'n keuse (in sulke gevalle) of jy 'n hoofletter of 'n kleinletter wil gebruik.
(9.65) Name van vakgebiede kan met 'n hoof- of kleinletter geskryf word, tensy die ding van 'n taalnaam of eienaam afgelei is, in welke geval die hoofletter verpligtend is. (9.66) Vir name van kultivars, diererasse, plantvareïteite en produksoorte het jy altyd die keuse van hoof- of kleinletter, want dit 'n verbleekte eiename.
(9.67) As die volvorm van 'n afgekorte woord met 'n hoofletter begin, behou die afkorting sy hoofletter, en (9.68) dieselfde geld vir woorde wat simbole bevat (hoewel dit nie vir die hele samestelwoord geld nie).
Ons verwelkom kommentaar van ons lesers, hetsy kommentaar op ons opmerkings of direk kommentaar op die spelreëls sélf. Skryf solank jou kommentaar, en wanneer ons klaar is, sal ons die posadres gee waarheen jy jou kommentaar kan stuur. Kommentaar word onderaan elke hoofstuk geplaas (anoniem of met jou naam).
Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.
Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.