GESKIEDENIS VAN DIE AFRIKAANSE WOORDELYS EN SPELREËLS

| Tuisblad | Koop die AWS | Geskiedenis van die AWS | Taalkommissie-lede | Oorsig oor die reënboog-AWS | Spelreëls en kommentaar (ons s'n en joune ook) | Omgangstaalafrikaans | Weggelate woorde | Debat oor die 1991-AWS | Skakels |

'N GOUE EEU VIR AFRIKAANSE SPELLING

| 1917-AWS | 1921-AWS | 1931-AWS | 1953-AWS | 1964-AWS | 1991-AWS |

Dié opsommende geskiedenis van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls is eintlik 'n uittreksel uit 'n eerstejaarstudent se werkstuk oor taalbeplanning. Dis nie altyd bekend waar sy eie opinie ophou en die harde, feitlike inligting begin nie.

Ons het die bronverwysings intak gelaat, maar dit was te veel moeite om die bronnelys te sif vir die betrokke bronverwysings. Dis in elk geval gewoonlik duidelik na watter boek verwys word.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Die Akademie is op 2 Julie 1909 in Bloemfontein gestig om hulle te beywer vir Afrikaanse en Nederlandse taal en letterkunde, die Suid-Afrikaanse geskiedenis, oudheidkunde en kuns. Die Akademie het van 1914 af veral goeie werk gedoen, met die opstel van die spelreëls vir Afrikaans.

Die Akademie het deur die jare op verskeie maniere bygedra tot die bevordering van die Afrikaner, maar in die middel-tagtigerjare is die wens uitgespreek dat die Akademie hom eerder op net een saak toespits (naamlik die bevordering van Afrikaans), as om 'n te groot veld te probeer dek.

Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (inleiding)

Daar het tot dusver (1994) agt uitgawes van die AWS verskyn, waarvan die tweede uitgawe bloot 'n herdruk van die eerste was - dus effektief sewe uitgawes. Die AWS van 1937 kon ongelukkig nie opgespoor word nie.

Die 1917-AWS

Die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls van 1917 is geskryf deur TH Le Roux, DF Malherbe en Johannes J Smith, in opdrag van die Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Wetenskap en Kuns. Ander lede van die spellingkommissie sluit Jan FE Cilliers, JD du Toit, CJ Langenhoven en Gustav J Preller in.

Die voorwoord is in eenvoudige taal geskryf. Die sê dat die AWS die vrug is van die werk van die Genootskap van Regte Afrikaners (gestig 1875). Dit is egter 'n vreemde stelling, aangesien die spelreëls grootliks verskil van dit wat deur die GRA gebruik is. Hierdie stelling word verder deur die vierde grondbeginsel van die 1917-AWS in twyfel getrek.

Die Grondbeginsels word as volg uiteengesit:

  1. Elke klank word deur 'n aparte letter voorgestel en geen onnodige letters word gebruik nie.
  2. Dieselfde woord, voor- of agtervoegsel word so ver moontlik dieselfde gespel.
  3. Die geskiedenis word net in ag geneem waar dit prakties moontlik is.
  4. Daar moet so weinig moontlik van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling afgewyk word.
  5. Die gebruiklikste uitspraak word as norm aanvaar.

Die GRA-spelling (ook genoem die Patriotsisteem) is kenmerkend in die wyse wat dit juis van die Vereenvoudigde Hollandse Spelling afwyk. Vergelyk byvoorbeeld die GRA-spelling "briif" en "briwe" met die VHS "brief" en "briewe", of "waarhyd" met "waarheid". Dat daar so ver moontlik nie van die VHS afgewyk moet word nie, word verduidelik deur die stelling dat Afrikaans en Hollands mekaar moet aanvul.

Die term "beskaaf" word so verduidelik: Dit wat gewoon is, is beskaaf, en dit wat ongewoon is, is onbeskaaf.

Spellinge en spelreëls

Reeds uit die voorwoord is dit duidelik dat hierdie Afrikaans redelik verskil met hedendaagse Afrikaans, sover dit die spelling betref. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die gebruik van "ij" in plaas van "y" (vergelyk "Woordelijs" hierbo). Ander voorbeelde sluit in:

bajang (baie), als (as), sie (sien), hòm (hóm), daadlik (dadelik), solang (solank), ter goeder trouw, opbouwing.

Met die verskyning van die AWS het daar reeds vele wisselspellinge vir sekere woorde bestaan. Die AWS maak duidelik onderskeid tussen aanvaarbare en onaanvaarbare vorme:

soveel x *suffel
vinnig x *vinnag
kinders x *kinners
nuws x die Hollandse *niews

Die spelreëls van die AWS het veel te sê oor hoe vreemde en Nederlandse woorde verafrikaans moet word.

Vir die onderskeid tussen "hypotese" en "simpatie" geld die reël dat woorde van vreemde herkoms die "y" behou, maar ingeburgerde, alledaagse woorde 'n "i" kry. 'n Soortgelyke reël geld vir au x ou in woorde soos "automaties". C, x en z word in vreemde woorde en eiename behou, byvoorbeeld "café" en "Alexander".

Waar die VHS 'n "th" het wat as "t" uitgespreek word, verval die h in Afrikaans: *thee x tee, en *thermometer x termometer; maar thuis (tuis) word so gebou, omdat dit aan huis herinner.

"Ei" naas "ij" word slegs as wisselvorme erken waar die VHS dit ook erken, dus slegs waar 'n betekenisverskil voorkom, byvoorbeeld "leiden" x "lijden".

'n Vreemde reël is dat die verbuiging van "breed" "breë" is maar in die geval van 'n meervoud "tree" "treeë". Nog 'n vreemde reël is die erkenning van drieklanke (naas tweeklanke of diftonge): eeu x eeou, leeou en sneeou.

Behalwe vir vreemde woorde soos "dinee", word die "i"-klank as "ie" geskryf, byvoorbeeld "wiel" en "artiekel".

'n Vreemde reël wat op verkleinwoorde van toepassing is, is die weglating van ë of e van sekere woorde, byvoorbeeld voël x vooltjie, reël x reeltjie, waens x waantjies, en leuen x leuntjie.

Verskeie wisselvorme word erken:

mogentlik x moontlik x molik
baiang x baje
môre x more
nôi x nooi

Volgens Le Roux het die 1917-AWS ook 'n reël bevat wat lui dat die medeklinker na 'n swakbeklemtoonde klinker nie verdubbel nie, byvoorbeeld bobiaan en frikedel. Hierdie reël het teen 1921 verval.

Die GRA-spellings *seuwe, *twede en *soveul word verwerp ten gunste van sewe, tweede en soveel. Hierby kan dus met reg gevra word op die AWS dan enigsins aanhang geniet het. Volgens Langenhoven word "tweede" in 1926 nog *twede gespel. Langenhoven was dan selfs 'n medeskrywer! Volgens die voorwoord van die 1918-AWS was daar baie kritiek op die 1917-AWS.

Die 1921-AWS

Dieselfde skrywers as aan die 1917-AWS het aan die 1921-AWS gewerk, saam met DB Bosman. Die spelreëls het nie veel verander nie.

Lesers van die 1917-AWS het veral twee besware teen die werk gehad. Eerstens is daar gevoel dat daar te veel vryheid ten opsigte van vreemde woorde bestaan het. Tweedens is dar gevoel dat daar te veel dubbelvorme is. Die rede vir hierdie beswaar hang saam met die standaard wat in skole probeer handhaaf is.

Spellinge en spelreëls

Die taal in die voorwoord begin al lyk soos hedendaagse Afrikaans. Die enigste dinge wat opval is die gebruik van "klae" in plaas van kla, en 'n hoofletter-'N aan die begin van 'n sin in plaas van 'n kleinletter-'n.

In antwoord op die eerste beswaar val die stom w weg, sodat *opbouw (1917-spelling) byvoorbeeld nou as "opbou" geskryf word. "Ij" word deurgaans met "y" vervang, en "y" in vreemde woorde word met "i" of "ie" vervang, soos byvoorbeeld *hypotese (1917-spelling) wat "hipotese" word.

Verder is die reëls oor deeltekens vereenvoudig. Die grondbeginsels is presies soos dit in 1917 was.

Die 1931-AWS

Hierdie uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls lyk al meer soos die jongste uitgawe. Die woord *Suidafrikaanse word in hierdie uitgawe "Suid-Afrikaanse" gespel. Die 1931-AWS is deur dieselfde persone as die vorige AWS geskryf, behalwe Johannes Smith.

In 1926 kry die Taalkommissie die opdrag om 'n nuwe AWS op te stel. In hierdie werk sou:

Interessant is dat punt 3 juis die teenoorgestelde gees weergee as wat in die 1921-AWS voorkom, naamlik dat persoonlike vryheid ten opsigte van verskille tot die minimum beperk moet word. Die skrywers lewer self kommentaar op punt 3 deur te sê dat 'n jong taal wel vryheid gegun moet word, maar dat dit nie in 'n bandeloosheid moet ontaard nie.

Die nuwe Grondbeginsels is as volg:

  1. Spelling berus op die algemeenste en gebruiklikste uitspraak in beskaafde Afrikaans.
  2. Die spelling moet by die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling aansluit en nie sterk daarvan afwyk nie.
  3. Dit moet so ver moontlik gelykvormig wees.

Let op dat daar nie meer van die VHS gepraat word nie, maar van VNS. Hiermee word bedoel die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling soos in Januarie 1904 deur die ZA Taalbond in Suid-Afrika aanvaar is.

Spelreëls en spellinge

Sakemense had besware teen dubbelspellinge - hulle het eenvormigheid voorgestaan. Om hulle tegemoed te kom, het die skrywers besluit dat hulle slegs die minsbekende variant van 'n dubbelspelling sal aanvaar (sic). Om te illustreer:

eksamen x *examen
eksaminator x *examinator
eksamineer x *examineer
maar eksaminandus en examinandus word albei aanvaar.

Die reël het gesê dat vreemde woorde hul vreemde spelling mog behou, maar dat volkseie woorde verafrikaans moet word. Geskille het ontstaan oor wat presies met "vreemde" en "volkseie" woorde bedoel word. Om dit duideliker te probeer maak, het die AWS woorde in twee kategorieë opgedeel:

  1. Woorde in alledaagse gebruik.
    1. Wildvreemde woorde.
    2. Woorde wat moeilik verafrikaans.

Woorde in klas 1 moes volgens spelling verafrikaans word, en woorde in klas 2 moes hul oorspronklike spelling behou.

Die 1931-AWS is juis vertraag as gevolg van die kwessie van dubbelspellinge. Vroeër het die destydse Minister van Onderwys met die spellingskommissie oorleg daaroor gepleeg. Sake wat uitgeklaar moes word was die keuse tussen au x ou, th x t, v x w, x x ks, en i x ie.

Dis interessant om te let dat in die voorwoord se taalgebruik "tradiesie" en in die woordelys "famielies" met "ie" geskryf word, maar "grammatika" met net 'n "i". Ook interessant is dat beide "botanikus" en "botanicus" erken word, maar van "historiesie" x "historici" word gesê dat eersgenoemde 'n bastervorm is. Ander eienaardige inkonsekwensies sluit in dat die Ndl *slaven moes wyk vir die Afrikaanse "slawe", maar dat die Ndl "slavin" steeds aanvaar word.

Weereens word verskeie wissevorme steeds erken, onder andere:

kin x ken, deuntjie x duintjie, bied x bieë x bie, droog x droë x dro, terg x terge x têre, giegel x giggel, skielik x skierlik, kriebel x kriewel, siklus x cyclus, nors x noors, novice x novise, Nu-Engels x Niew-Engels.

By die spelreëls was ook vir die eerste keer 'n bylae oor leestekens. Hierdie is deur AC Bouman opgestel.

Die 1953-AWS

'n Nuwe geslag taalkenners het op die toneel verskyn, soos die lys van opstellers weerspieël: SPE Boshoff, SJ du Toit, LW Hiemstra, W Kempen, TH Le Roux, DF Malherbe en J du P Scholtz. Dis ook die eerste AWS waar daar nie Romeinse bladsynommers gebruik word nie (met die moontlike uitsondering van die 5e uitgawe).

Ons kon ongelukkig nie die 5e uitgawe opspoor nie. Die 6e uitgawe beweer egter op die heel eerste bladsy dat dit (die 1953-AWS) "... aansienlik van die vorige uitgawe(s) ... [verskil]", en daar kan dus die afleiding gemaak word dat die 5e uitgawe meer met die 4e uitgawe sou ooreenstem as met die 6e uitgawe.

Die grondbeginsels is presies dieselfde as in die 4e uitgawe, behalwe dat daar by punt 2 melding van die oorsprong van die VNS gemaak word.

Spelreëls en spellinge

Verskeie soorte woorde is van die woordelys geskrap, en hulle is in vyf groepe verdeel:

  1. Eenvoudige woorde wat geen spelprobleme gee nie, byvoorbeeld boer en baan.
  2. Samestellings en afleidings wat geen spelprobleme gee nie.
  3. Sommige vreemde woorde, veral Franse woorde, wat nie in algemene gebruik is nie.
  4. Verbuigings van byvoeglike naamwoorde wat geen spelprobleme gee nie.
  5. Sommige dubbelspellinge, byvoorbeeld slegs "botter" en nie die Ndl *boter (wat in 'n hoër register was) nie word aanvaar. Volgens die 1931-AWS was dubbelspellinge welkom en dan moes die publiek self kies watter vorm hulle verkies - sulke tyd was nou verby.

By die woordelys is vier verbeteringe aangebring:

  1. Meer tegniese, natuurwetenskaplike en vakterme. Daar word ook melding van die nuutgestigte Vaktaalburo gemaak.
  2. Sekere eiename. Afrikaanssprekendes het blykbaar maklik gefouteer met byvoorbeeld "Horatius" x *Horace.
  3. 'n Lys afkortinge, wat in 1939 al afsonderlik uitgegee is.
  4. 'n Bladwyser (met ander woorde, 'n indeks).

Hiernaas is sommige spelreëls drasties gewysig. Baie woorde wat vroeër met 'n hoofletter geskryf is, word nou met 'n kleinlettertjie gespel, byvoorbeeld "sjampanje", "swaap", "boikot" en "turksvy". Met ander woorde blyk dit dat daar nog steeds moeilikheid bestaan het oor hierdie kwessie, maar in die meeste gevalle is 'n kleinlettertjie bo die hoofletter gekies, byvoorbeeld "diesel" en "kiekie" (foto).

Baie minder woorde word met 'n koppelteken geskryf, en klem word gelê op die aanmekaarskryf van woorde. Waar woorde aanmekaar geskryf word, is die reël op deeltekens ook vereenvoudig om sy gebruik af te skaal.

Ene Jesperson het oor die spelkommissie gesê "Spellingmakers are 'eye-philologists'" omdat hulle graag skrif mooi wil maak om na te kyk, en daarom allerlei leestekentjies en los woordjies wil uitskakel. In die vorige AWS'e is slegs 'n lys van woorde wat aanmekaar geskryf moet word, aangegee, en onduidelikheid het ontstaan oor welke woorde dan los geskryf mog word. In die 1953-AWS is 'n lys van los én vas woorde gegee.

[x] Dubbelspellinge wat in betekenis begint verskil het, is apart behandel en nie meer as dubbelspellinge geklassifiseer nie. Hieronder tel "dalk" x "dadelik", "bewerasie"x "bibberasie" en "fluweel" x "ferweel".

Wat wisselvorme betref, is wisselvorme in twee klasse verdeel:

  1. Vreemde verafrikaansde woorde, byvoorbeeld chic x sjiek, en Tswana x Setsjoeana.
  2. Woorde wat verskil in uitspraak het, byvoorbeeld ken x kin, en eienaardig x eigenaardig.

Sekere woorde behou hul vreemde spelling al is hulle in die taal ingeburger. "Garage" behou sy spelling, eerder as die verafrikaansde *gharaas of *gharaasj, bloot omdat laasgenoemde vreemder lyk as "garage".

'n Vreemde geval van wisselspelling is by camouflage (die naamwoord) en kamoefleer (die werkwoord).

In die 1953-AWS word die geskil oor die "i" x "ie" eindelik opgelos. Vir hierdie doel word alle woorde verdeel in twee groepe:

  1. Woorde met nieklassieke en Oosterse en inboorlingse herkoms, en
  2. Woorde met klassieke en Romaanse herkoms. Woorde in groep 2 kry in oop lettergrepe slegs "i". Voorbeelde is familie, siele en mielie. Daar is uitsonderings, meesal in Oosterse tale, byvoorbeeld derwisj, emir, okapi en sandhi.

Die 1964-AWS

Vir die eerste keer word die publikasie nie aan 'n redakteur toegedig nie, maar word bloot gesê dat "die Taalkommissie" die boek geskryf het. By die lede van die Spellingskommissie (nou die Taalkommissie genoem) is heelparty gevoeg, waaronder name soos W Kempen, HJ Terblanche en HJJM van der Merwe. Vir die eerste keer word Tafelberg ook as uitgewer aangestel.

Die skrywers meen dat hierdie uitgawe weereens grootliks verskil van die vorige, en voer aan dat die taal baie gegroei het.

Plekname en eiename is grootliks uit die spellys gelaat, omdat daar in 1948 en 1952 'n lys van Amptelike Plekname gepubliseer is. Wat klassieke eiename betref, beweer die skrywers dat daar aan 'n lys gewerk word, maar dat die lys eers later "afgerond" en voltooi sou wees. Lesers sou dus vir 'n rukkie sonder klassieke eiename moes klaarkom.

Die woordelys toon 'n neiging om meer tegniese en natuurwetenskaplike terme in te sluit ten koste van vreemde woorde of woorde met 'n lae gebruiksfrekwensie.

Wisselvorme ten opsigte van verbuigings (soos meervoud) is ook in die woordelys opgeneem, wat gemaak het dat die lys langer is. Omdat woordeboeke soms oor hierdie onderwerp verskil, byvoorbeeld "meulenaars" x "meulenare", het die skrywers van die AWS dit goed geag om as finale gesag op te tree en uitsluitsel oor die saak te gee.

Die kommissie let op dat die skeiding tussen "wildvreemde" woorde (wat nou as "woorde van vreemde herkoms" bekend staan) en "vreemde" woorde al baie vaag is, wat daarop dui dat die taal al meer volwasse is as twintig jaar tevore.

Die grondbeginsels word effens anders geformuleer, maar dit kom op dieselfde neer. Beginsel 2 lui nou dat rekening gehou moet word met "die spelling wat vandag in Nederland erken word". Hierdie beginsel geld byna uitsluitlik vir die onderskeid tussen f x v en y x ei.

Spelreëls en spellinge

By die spelling van vreemde woorde blyk die 1964-AWS baie meer streng en preskriptief te wees. Trouens, die meeste woorde van vreemde herkoms is so ver moontlik verafrikaans. So is *cheque deur "tjek" vervang om die verbuiging na "tjekkie" te vergemaklik. "Sjiek" en nie *chic nie word nou aanvaar. Selfs die gebruik van *camouflage kaas "kamoeflage" en "kamoefleer" is afgemoedig.

In die debakel oor die skryfwyse (los of vas) van telwoorde is die handdoek ingegooi: "Die Taalkommissie vind geen beslissende taalkundige oorweging vir 'n reëling van die skryfwyse van telwoorde nie." Telwoorde kan dus los of vas geskryf word na eie keuse.

Sommige reëls is noukeuriger geformuleer in 'n poging om hul betekenis duideliker te maak. Ten spyte hiervan is daar steeds probleme met die formulering vir 'n reël oor los- en vasskryf van woorde. In baie grensgevalle word daar dus "'n mate van vryheid" gegee, en indien twee taalgebruikers sou verskil oor die vasskryf van 'n woord, albei korrek mog wees.

Die 1991-AWS

Dat hierdie uitgawe byna dertig jaar na die vorige verskyn, word duidelik weerspieël in die samestelling van die Taalkommissie. Byna geen name uit die vorige uitgawes word genoem nie. Onder die nuwe lede van die kommissie tel FF Odendaal, JGH Combrink, LC Eksteen en GJ van Jaarsveld.

Die grondbeginsels is wesenlik dieselfde, maar is anders geformuleer:

  1. Die spelling van Afrikaans in die AWS is gebaseer op die klankstelsel van Standaardafrikaans.
  2. Vormlik verwante woorde word, sover moontlik, gelykvormig gespel.
  3. Die huidige spelling en skryfwyse van woorde word in 'n hoë mate bepaal deur die tradisie waarvolgens Standaardafrikaans geskryf en gespel word.

Die tweede beginsel het vroeër derde gestaan, en dis duidelik dat die kommmissie nou meer waarde heg aan estetika as aan purisme. Kritiek op die formulering van die beginsels is dat dit uiters vaag is. "Gelykvormig" beteken byvoorbeeld nie "eenders" soos in vorige uitgawes aangeteken is nie. Die feit dat die spellingtradisie van Standaardafrikaans en nie Nederlands nie as norm voorgehou word, kan gevaarlike kruisbestuiwing te weeg bring - reëls wat in vorige uitgawes aangeteken is mag dalk meer gewig dra as heersende neigings, wat kan lei tot preskriptivisme as die reël nie meer met die werklike gebruik ooreenstem nie.

Om die AWS meer gebruikervriendelik te maak, is van meer fonetiese tekens gebruik te maak, en al die reëls is herformuleer. Dit beteken nie dat die reëls verander het nie - bloot dat dit op 'n ander manier gestel word.

Hoewel vroeëre uitgawes sommige woorde opsetlik uitgelaat het om die lys so kort moontlik te hou, is die lys nou juis langer om verwarring uit te skakel. Woorde wat deur die kommissie as verouderd of niestandaard beskou is, is uitgelaat, maar daar is ruim voor vergoed.

"Vir die eerste keer... verskyn daar... 'n toeligting" wat veronderstel is om die leser te leer hoe om die spelreëls te verstaan. Dis interessant dat ten spyte van die herformulering van reëls om dit meer verstaanbaar te maak, daar 'n behoefte aan toeligting voorsien is. Nietemin is die toeligting 'n groot hulp.

Die aantal tegniese woorde is verminder, omdat dit in tegniese woordeboeke nageslaan kan word. In die gees van die Nuwe Suid-Afrika het die kommmissie baie aandag gegee aan woorde in Afrikaans wat aan Afrikatale ontleen is.

Spelreëls en spellings

Die nuwe kommissie bou voort op die beginsel va die ou kommissie om soveel moontlik wisselvorme te skrap en woorde te verafrikaans. Tog is daar groter vryheid or die los- en vasskryf van woorde:

hoof mediese beampte word nou naas hoof- mediese beampte erken, en so ook by samestellings soos Bloemfontein museum x Bloemfontein Museum x Bloemfontein-museum x Bloemfontein-Museum x Bloemfonteinmuseum.

Die lede van die Taalkommissie is ten gunste van die gebruik van 'n punt by afkortings, in teenstelling met die moderne neiging om afkortings sonder punte te skryf.

Die gebruik van die gravis is byna uitgefaseer, en word slegs in woorde soos nè, appèl en hè gebruik. Uitdrukkings soos *òf...òf word nou óf...óf geskryf. Die moderne neiging is om soveel moontlik leestekens weg te gooi, onder andere omdat dit vir oorsese mediatoerusting probleme skep.


Outeursreg van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (9e uitgawe) behoort aan Pharos uitgewers en aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie werf is nie by enige van dié twee geaffilieer nie.

Skryf kommentaar, by afrikaans@workmail.co.za.

π