Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika
deur Mike Oettle
Die wapen word so geblasoeneer:
Kepergewys
omgekeerd gesny van goud en silwer; oor alles heen ’n groen gaffel tussen drie
skildjies, regs van rooi, links van blou en in die skildhoof van swart.
Leuse: ARMA VIRUMQUE CANO.
Die wapen is in
2006 deur die werfmeester opgetrek nadat hy ’n behoefte opgelet het vir ’n
opregte heraldiese wapen. Vir vele jare het die genootskap ’n swart-wit
lyntekening gebruik wat (onder ander items) ’n blanco skild en ’n
springbokkop-helmteken getoon het.
Die inspirasie agter die devies was die Suid-Afrikaanse vlag, wat
in 1993 opgetrek is deur die destydse Staatsheraldikus, Frederick Gordon
Brownell (sedert 2002 voorsitter van die genootskap).
Om dit as wapen te laat vorm aanneem is die geel en wit omlynings wat die gaffel van die panele van kleur skei omskep in velde van goud en silwer. En om die genootskap se veld van aktiwiteit te simboliseer, is die panele as skildjies aangewend.
Aangesien die rooi paneel die ereplek het bo-aan die vlag, is daardie kleur aan die regterkant van die skild geplaas, aangesien dit die meer eerbare kant is.
Die formaat is duidelik anders as dié van dle landsvlag, en kan dus nie gesien word as die usurpasie van ’n nasionale simbool nie.
Twee voorlopige tekenings van die wapen is onder die genootskap se ampsdraers gesirkuleer, wat met die konsep tevredenheid uitgespreek het, maar met die uitvoering daarvan ontevrede was.
’n Versoek is tot die Australiese heraldiese kunstenaar Barrie Burr gerig, wat toe die kunswerk geproduseer het wat hier gesien kan word.
Die wapen is voorlopig deur die genootskap in gebruik geneem.
Leuse:
Die leuse, wat in
gebruik is feitlik sedert die stigting van die genootskap in 1953, is ’n
aanhaling uit die openingsreël van Vergilius se Aeneïs.
Dit vertaal as: “Ek sing van wapens en van die held.”
Oor die genootskap:
Die Heraldiese Genootskap van Suidelike
Afrika – die eerste sulke genootskap wat in die land gevorm is – het tydens ’n
vergadering op 27 Augustus 1953 tot stand gekom.
Dié wat
teenwoordig was, was blykbaar Ivan Mitford-Barberton, Michael Dawes, Colin
Graham Botha, Frank Waller, E A Robottom en mej Wendy Stuart Koe.
Hulle het Botha as president verkies, Waller as voorsitter en Mitford-Barberton as herout.
Teen Augustus 1954
was daar 30 lede.
Suid-Afrika teenoor Suidelike
Afrika:
Dit mag gevra
word waarom die Suid-Afrikaanse vlag as basis gekies is vir hierdie wapen,
aangesien die genootskap se naam aandui dat dit die subkontinent dek.
Kortweg is die rede dat die oorgrote meerderheid van die genootskap se lidmaatskap nog altyd uit Suid-Afrikaanse burgers en landsbewoners bestaan het.
Daar is groepe in Namibië wat in die heraldiek belangstel – in werklikheid was die Volksraadslid wat in 1962 die ontwerpwet oor die heraldiek (tans die Heraldiekwet) as privaat-lid se voorstel ingebring het, ’n verteenwoordiger was vir ’n Suidwes-Afrikaanse setel – asook in Zimbabwe (alhoewel vele van die Rhodesiërs wat hierdie belangstelling gedeel het, teen dié tyd geëmigreer het).
Maar terwyl Lesotho, Swaziland en Botswana ook onder die genootskap se dekking ingesluit word, het weinige indiwidue (indien enige) uit hierdie lande aan die genootskap se aktiwiteite deelgeneem.
Webwerf:
Die genootskap se eie webwerf kan hier gevind word.
For
English, click here
Beeld van
HGSA-wapen deur Barrie Burr. Suid-Afrikaanse vlag met vergunning van Flags of the World. Ou
HGSA-embleem met vergunning van die genootskap.
Terug na Armoria corporativa-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle