Randse Waterraad
DIE manie vir logo’s wat uit grafiese ateljees uitkom het hierdie treffend eenvoudige wapen uit die oë van die publiek weggeneem, en dit vervang met ’n niksseggende simbool wat voorgee om ’n watervoël te wees wat hom in waterplassies wegskuil.
Hierdie simbool word deur die gesag onder sy huidige naam, Rand Water, gebruik.
Die Buro vir Heraldiek het vir die raad ’n wapen geregistreer onder ’n sertifikaat wat 6 Januarie 1972 uitgereik is. Die blasoen lui:
Wapen: In silwer, vyf golwende
versmalde dwarsbalke van blou.
Helmteken: Staande tussen waterlelieblomme en blare, die
figuur van ’n meisie, geklee van natuurlike kleur, wat op die linkerskouer ’n
goue vaas hou waaruit water van natuurlike kleur vloei.
Wrong en dekkleed: Silwer en
blou.
Wapenspreuk: EX AQUA VITA.
Vir die oomblik word slegs die skild geïllustreer; ’n kunstenaarsvoorstelling van die helmteken en leuse sal binnekort volg.
Sedert sy
vroegste dae het die heraldiek golwende strepe, veral in silwer en blou, om
water voor te stel. Die skild is dus die eenvoudigste en mees direkte
voorstelling van die raad se funksie wat gemaak kon word.
Die
helmteken spreek miskien ietwat te veel van hierdie funksie, maar dit
onderstreep die menslike element in die voorsiening van water, asook die
belangrikheid van die reinheid van hierdie lewensmiddel.
Die leuse
vertaal as “Uit water, lewe.”
Oor die
raad:
Die webwerf van Rand Water sluit ’n artikel in oor die
geskiedenis van die raad wat hier aangehaal word:[1]
“Sedert
die tyd van die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886,[2] was die voorsiening van water heeltemal in die hande van privaat maatskappye tot 1903.[3]
Die prys was hoog en die voorsiening was wispelturig.
“Nà die
aanstelling van verskeie regeringskomissies, is dit besluit dat die Rand
Water Supply Board (Randse Watervoorsieningsraad) deur wetgewing daargestel
sou word. Die raad is sekere magte vir die ontginning van water gegun, kon
lenings aangaan en vir die terugbetaling daarvan reël, asook tariewe neerlê vir
die verkoop van water.
“’n
Belangrike beleidsbesluit is dat daar ’n vasgestelde tarief sou wees per
duisend gelling, onafgehang van die punt op die hoofpyplyne waarvan die
voorraad getrek is. Dit het beteken dat die Witwatersrand kon ontwikkel
onafhanklik van waar die bron van water geleë is. Nog ’n belangrike besluit was
dat die tarief vir water geen wins sou lewer nie, maar bereken is om werkende
onkoste te dek.
“Die
grondwet van die Randse Waterraad is hoofsaaklik gebaseer op dié van Londen se
Metropolitan Water Board (Metropolitaanse Waterraad, 1902), maar but terwyl
laasgenoemde water aan indiwiduele verbruikers lewer, lewer die Randse
Waterraad water slegs by die grootmaat.
“Die
eerste jaarverslag van die raad vir die jaar wat 31 Maart 1906 geëindig het,
toon dat die daaglikse verbruik van water vir die jaar omtrent 11 megaliter
beloop het. Die grootste probleem wat die raad voorgestaan het, destyds sowel
as huidiglik, was dat dit nodig was om die waterbronne aan te vul om aan die
groeiende aanvraag vir water te voldoen, soos wat die bevolking en
nywerheidsaktiwiteite vermeerder het en steeds vermeerder.
Ontwikkeling van die Vaaldam:
“In 1914[4]
het die raad die Vaal Ontwikkelingskema aanvaar, wat die bou van die Vaaldam en
die voorsiening van suiwerings- en pompinstallasies op Vereeniging behels het.
Die skema is uiteindelik in 1923 voltooi. Dit was die eerste groot rivierontwikkelingskema langs die Vaalrivier.
“Die
publiek is nou verseker dat die alewige oponthoud van watervoorraad tydens die
droë seisoen verby is, en dat dit nog 40 jaar sou wees voordat beperkings op
waterverbruik weer ingestel sou wees.
“Sedert
1924 is bykomende watervoorsieningskemas deur die Randse Waterraad aanvaar in
1924, 1927, 1931, 1933, 1935, 1937, 1938, 1941, 1946, 1949, 1953, 1965, 1970,
19__. [sic][5]
“Die raad
se beplanning is gebaseer op werklike operatiewe ondervinding en op skattinge
van water-aanvraag wat gereeld van verbruikers verkry word. Feitlik al die
masjinerie, pyplyne en reservoirs word ontwerp om vir die volgende vyf or 10
jaar aan die aanvraag te voldoen, en dikwels langer.
Watersuiwering:
“Voordat
die Randse Waterraad sy water uit die Vaalrivier ontvang het, was daar geen
oormatige probleme gehad om die water wat dit gelewer het, te beveilig nie. Dit
is hoofsaaklik daaraan te danke dat ondergrondse bronne gebruik is.
“Toe dit
water vanaf die Vaaldam begin gebruik het, het die raad besef dat groot aandag
aan die suiwering van rou water van oppervlakdreinering geskenk moes word,
voodat dit veilig in die voorraad geplaas kon word.
“Sedimenteringtenke om die klein kleipartikels wat kenmerkend is van Vaalrivierwater te suiwer, is in die suiweringswerke op Vereeniging geïnstalleer. Hierdie is gebaseer op dit wat in Egipte gebruik is om die Nylwater te suiwer.
“Nà die
sedimenteringsproses bevat die water steeds sowat 5% swewende stowwe, en dit
word verwyder deur middel van vinnige graviteringsfiltrasie. Die aanname van
hierdie metode in 1923 is sedertdien ’n groot bate van die raad. Die water word
dan deur middel van chloorbehandeling gesteriliseer (vloeibare chlorine is
sedert 1925 effektief gebruik).
“Extensiewe bakteriologiese toetse vind plaas voordat die water in RandWater se distribusiestelsel vrygelaat word.
Pypline en pomp:
“Die
hoofaslyn van RandWater se watervoorsieningstelsel loop van suid na noord, van
Vereeniging na Pretoria. Stedelike en industriële ontwikkeling loop van wes na
oos vanaf Krugersdorp tot by Springs.
“Rand Water het aansienlike magte met betrekking tot die lê van pyplyne oor grond en
eiendomme. Die vestiging van pyplynroetes het nietemin al hoe moeilkiker geraak
soos wat die ingewikkeldhede van nywerheidsontwikkeling intensifeer.
“Pomp het
nog altyd ’n groot rol gespeel in RandWater se genie-aktiwiteit, aangesien
water sowat 380 meter gelig moet word van die Vaalrivier tot by die
hoër-liggende dele van die Witwatersrand. Daar is weinige
watervoorsieningsorganisasies ter wêreld wat soveel energie as RandWater op
pompeenhede moet verbruik.”
Ander watergesagte:
Rand Water is verreweg die grootste water-nutsdiens in Suid-Afrika in terme van gelewerde volume, alhoewel daar etlike ander water-nutsdienste en besproeiingsrade oor die land heen is.
Wat hierdie gesagte almal in gemeen het, is dat hulle ’n skaars kommoditeit distribueer. Dit is in algehele kontras met die Waterschappen van Nederland, wat primêr te doen het met ’n oorvloed water, alhoewel hulle dan ook vars water voorsien.
Die wapen van die Randse Waterraad kan nietemin gesien word as ’n Suid-Afrikaanse ekwivalent van dié van die Waterschappen, wat reeds eeue lank wapens voer.
[1] My vertaling,
[2] In die tyd van die Zuid-Afrikaansche
Republiek.
[3] In die tyd van die Transvaal Colony.
[4] Toe die Witwatersrand deel was van die Provincie Transvaal nà Unie.
[5] Hierdie lys datums, met die finale datum uitgelaat, verskyn net so in die webwerf van Rand Water.
For English, click here
Wapen deur Barrie Burr geteken; Rand Water logo van die nutsdiens se webwerf.
Terug na Armoria
corporativa-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle